Geld vir droogtehulp uitgeput

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Geldtekort het Agri SA genoop om ʼn dringende beroep op die privaat sektor en regering te doen om sy droogtehulpfonds te ondersteun om boere in nood te help.

“Boere in sekere dele van die land gaan steeds gebuk onder die negatiewe uitwerking van die droogte en sukkel om te oorleef. Agri SA het die afgelope jaar verskeie inisiatiewe van stapel gestuur om behoeftige boere landwyd van droogtehulp te voorsien. Weens die tekort aan geld kan Agri SA nie verdere hulp verleen nie. Daarom word ʼn dringende beroep op die privaat sektor gedoen om Agri SA se droogtehulpfonds te ondersteun. Die tyd het nou aangebreek dat die regering verdere hulp aan kommersiële en kleinskaalse boere moet voorsien om hulle deur dié droogtetydperk te help,” het Johannes Möller, president van Agri SA, in ʼn verklaring gesê.

Möller het gesê ʼn droogte is nie ʼn eenjaar-verskynsel nie en die westelike dele van die land wat die afgelope drie jaar ʼn erge droogte ervaar het, kan hiervan getuig.

“Dit het ʼn ernstige uitwerking op kontantvloei en produksiekredietreëlings van boere wat toenemend ʼn rol in hulle finansiële oorlewing sal speel. Die droogte het ook ʼn geweldig negatiewe en neerdrukkende invloed op die sosio-ekonomiese omstandighede van landelike boerderygemeenskappe en die ontwikkeling van ons landelike gebiede.”

Ondanks wydverspreide reën oor groot dele van die land, is dele van die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Noordwes, Limpopo, Oos-Kaap en Vrystaat steeds in die greep van die ergste droogte die dekade. “Dit noodsaak verdere hulpverlening aan die betrokke boerderygemeenskappe. Daarom doen ons die beroep op die privaat sektor en regering vir verdere finansiële hulp sodat ons weer gemeenskappe kan ondersteun in hulle stryd om die droogte te oorleef,” het hy bygevoeg.

Vir ʼn oorsig oor hulpverlening wat deur die jaar voorsien is en bankbesonderhede vir dié inisiatief, besoek droogterampfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

Hoe absurd dat die staat net mooi niks doen nie, behalwe hul eie gatsakke volstop! SKANDE! Hierdie is ONS ALMAL se voedelverskaffers!

al ·

Besef die Regering nie waar voedsel vandaan kom wat op hul borde is nie? Diskrimineer hulle en pas hul selektiewe rassisme toe waar dit op toepassing is van boere wat meestal wit is?

jaco ·

maar daar was geld vir 8 reuse sokkerstadions vir die 2010 sokker wereldbeker. meeste van daardie stadions word omtrent glad nie meer gebruik nie. daar was ook geld vir zuma se paleis in Nkandla. en laastens, daar is nog steeds geld om aan ELKE parlementslid (insluitend die DA, VF-Plus en die EFF) n salaris van R1miljoen PER JAAR te betaal, asook verniet vlieg, n grand motor en n onthaaltoelae.

Aitoggie ·

Ja dis die regering se “maklike manier” om ons wit boere van hul plase af te kry. Ek Glo God sal reen voorsien. Ek weet almal sal se ons wat in die stede is praat maklik, maar ons vra vir die boere om net n bietjie nog vas te byt asb. Sterkte aan elke boer in ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.