Geldtekort belemmer stryd teen renosterstropers

Argieffoto

Argieffoto

Begrotingsbesnoeiings het tot gevolg dat belangrike poste wat in die stryd teen renosterstropery in KwaZulu-Natal benodig word nou vakant moet bly, het ʼn wildbewaringsorganisasie Maandag gesê.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KZN Wildlife, het gesê die organisasie doen sy bes om sy mandaat uit te voer om die provinsie se wild te beskerm, maar weens begrotingsbesnoeiings is 108 poste by die organisasie tans vakant.

Volgens Mntambo was daar vanjaar ʼn styging in voorvalle van renosterstropery, maar voel die organisasie bemoedig deur die feit dat daar ook meer inhegtenisnemings was. “Dit is goed om te weet dat die getal mense wat vanjaar in die provinsie in hegtenis geneem is amper verdubbel het. Verlede jaar is net 55 mense vir renosterstropery in hegtenis geneem, terwyl ons vanjaar reeds 101 mense vasgetrek is. Ons het ook verlede jaar op 33 vuurwapens beslag gelê en vanjaar op 56 vuurwapens,” het hy gesê.

Die raad en senior bestuur van Ezemvelo het verlede week tydens ʼn sitting van die finansies-portefeuljekomitee aan die komitee gesê dat die stryd teen renosterstropery nog meer bemoeilik word deur ʼn geldtekort. Adv. Comfort Ngidi, voorsitter van die Ezemvelo-raad, het aan die komitee gesê dat begrotingsbesnoeiings rampspoedig vir die stryd teen stropers is.

“Omdat ons bedrywighede so arbeidsintensief is, beteken begrotingsbesnoeiings eenvoudig ons moet ons mense aflê wat ʼn impak het op die werk wat daar van ons verwag word om te doen,” het Ngidi gesê.

Die DA se Francois Rodgers, ʼn lid van die komitee, het gesê dit is kommerwekkend om te weet dat die stryd teen renosterstropery dalk nie gewen kan word in “die huidige omstandighede” nie. Hy het gesê hoewel Willies Mchunu, die KwaZulu-Natalse premier, vroeër gesê het ʼn plan sal in werking gestel word teen renosterstropery, was daar nog geen aanduiding van die besonderhede van die plan of wanneer dit in werking gestel sal word nie.

Volgens Rodgers sal renosters, sowel in KwaZulu-Natal as in die res van Suid-Afrika, binne die volgende paar jaar uitgewis wees indien hulle steeds in die huidige tempo uitgewis word.

Ezemvelo het gesê die organisasie benodig ongeveer 1 000 veldwagters om sy werk te verrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

snoefie ·

eienaardug hoe die stripers altyd WEET waar die diere weerloos is.

Simon ·

Hier bestaan nou n teenstrydigeheid.
Mnr Zuma het nie so lank gelede in die.openbaar gese dat renosterstroopery n bedreiging vir die land se sekuriteit is.
Seer sekerlik regverdig dit dan dat die benodigde fondse as n prioriteitsitem op die “begroting” moet wees.

Grensvegter ·

Net nog n bewys van n leierlose regering wat help om ons natuurluke hulpbronne te stroop. Hulle kan nie vir hulself dink nie. Nee wat, solank hul kerskouse vol geprop is, is hulle tevrede! Maar daar kom ‘n dag…

Hannes ·

Dis baie duidelik en sonder twyfel wie geld maak uit renoster stropery nie!!!

Therese van Schalkwyk ·

Belaglik dat Musa Mntambo spog met méér stropers wat in hegtenis geneem is tesame met hul vuurwapens! Wanneer ‘n onuitputlike bron van potensiële stropers ter sprake is, bly die situasie jaar na jaar haglik.

Die klagte van ‘n “geldtekort” is ook meer as kommerwekkend. Totdat die stropers in eie geledere o.a. polisiemanne en veldwagters nie in hul vuilwerk gestuit word nie, is die kanse op sukses nul. Op die oomblik is dit ‘n bodemlose put en niksvermoedende skenkers (ook buitelands) word gruwelik om die bos gelei.

Alida ·

Die ministers is dan self skuldig. Nou is daar kwansuis nie geld vir sekuriteit volgens Zuma nie. My afleiding is dat hy die pad oopmaak vir die stropers en hy 10/1 deel in die wins.

Ja wohl ·

Hoe wen jy die aanvalle op renosters indien Ministers en Veeartse en Wildboere self daarby betrokke is? Hier praat GELD die hardste, dit is ongelooflik wreed hoe hulle daardie arme diere laat ly as hulle net die horing afsny en die rou wond so los, soms nog met die kapmerke in die gesig. Meeste van hulle maak dit nie. Daar is ongelukkig te veel ‘ hooggeplaaste’ mense hierby betrokke, so dit gaan nooit stopgesit word nie. Die mannetjies wat hulle vang wat die fisiese werk doen is maar net die handlangers wat dit vir ‘n fooi doen, die miljoeners sit daar doer bo hoog in die double stories en kollekteer die miljoene. Vir hulle is die lewe van ‘n renoster of die handlanger NIKS werd nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.