‘Geldtekort nie rede vir Esidimeni-tragedie’

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dr. Aaron Motsoaledi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het Donderdag aan die parlement gesê die tragedie wat ontstaan het nadat psigiatriese pasiënte vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies (NRO’s) oorgeplaas is, was “ʼn oomblik van waansin” en nie gedryf deur ʼn tekort aan geld nie.

Sedert die pasiënte oorgeplaas is, is meer as 100 van die pasiënte dood aan onder meer verwaarlosing en ondervoeding.

Motsoaledi het in die teenwoordigheid van drie familielede van die oorledenes gesê: “Nodeloos om te sê, ons is diep ontsteld en kwaad oor die dood van pasiënte wat vanaf die Life Esidimeni-geestesgesondheidfasiliteit in Gauteng verplaas is. Hierdie is een van die donker tye in die geskiedenis van ons land, maar ek durf sê, dit was ʼn oomblik van waansin in die provinsiale gesondheidsdepartement.”

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, wat bedank het kort voordat die verdoemende verslag van die gesondheidsombudsman bekendgestel is, het voorheen gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak. Motsoaledi het dit egter ontken en gesê die kwessie van ʼn geldtekort is nooit “direk of indirek” teenoor die nasionale gesondheidsdepartement geopper nie.

“Om te sê die idee agter die Gautengse geestesgesondheid-marathonprojek, soos dit al bekend geword het, was om geld te spaar, dra net nog ʼn dimensie tot ons teleurstelling en pyn by,” het die minister gesê. “Ek wil dit op rekord stel dat daar op geen stadium, direk of indirek, uitdruklik of andersins, aan die lig gebring is dat die nasionale departement van gesondheid of in enige provinsie nie genoeg geld gehad het om na psigiatriese pasiënte om te sien nie.”

Hy het gesê daar is boonop geen rede dat weerlose mense moet omkom weens ʼn tekort aan geld nie. “Ek het hierdie kwessie met die premier van Gauteng bespreek, want ek wou verstaan wat presies deur die uitvoerende raad bespreek en goedgekeur is. Hy het vir my gesê die kwessie was nooit op enige agenda van die uitvoerende raad nie, maar dat die departement van gesondheid aan hom gesê het daar is 4 000 beddens by staatsgesondheidsinstellings wat hulle graag wil gebruik.”

Daar is glo aan die premier gesê daar is geen rede om private maatskappye se dienste in te kontrakteer wanneer die staat die nodige hoeveelheid beddens kan verskaf nie. “Die huis moet asseblief kennis neem dat die Esidimeni-kontrak vir 2 000 pasiënte was en daarom het die stelling aan die premier beteken hierdie pasiënte kon twee keer geakkommodeer word deur die staat,” het Motsoaledi gesê.

“Die premier het my verseker op geen stadium was die kwessie van NRO’s geopper tot daardie dag in September toe die LUR in die provinsiale wetgewer die aankondiging oor die 36 sterftes gemaak het nie.”

Hy het gesê die oorplasing van die psigiatriese pasiënte in Gauteng is nooit na die nasionale gesondheidsraad gebring soos die geval is met alle ander groot gebeurtenisse nie.

Motsoaledi het gesê die NRO’s het self na Life Esidimeni gegaan om pasiënte op te laai en het hulle na hulle tehuise gebring sonder lêers, sonder mediese diagnose en sonder die nodige toerusting om kwaliteitsorg te verskaf.

“Hierdie NRO’s het ongeldige lisensies gehad soos die gesondheidsombudsman later tydens sy ondersoek ontdek het. Die lisensies is deur die direkteur van geestesgesondheid uitgereik wat nie by magte is om dit te doen nie. Slegs die hoof van die departement mag lisensies uitreik.”

Opposisiepartye in die parlement het Motsoaledi met vrae gepeper en wou weet hoe al hierdie dinge kon sonder sy wete kon gebeur. Die opposisiepartye het ook die ANC gekap en daarvan beskuldig dat hulle onsimpatiek en gevoelloos teenoor weerlose burgers is. Van die partye het geëis dat strafregtelike stappe teen die persone geneem word wat die oorplasing van die pasiënte goedgekeur het.

Motsoaledi het gesê die aanbevelings van die gesondheidsombudsman se verslag was reeds besig om geïmplementeer te word.

Lees alle vorige berigte oor die Life Healthcare Esidimeni-tragedie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

thelsa ·

Hoe is daar bepaal dat die NRO’s geskik sal wees om die pasiënte te huisves ?
Wie het die ondersoek gedoen? Waar is die verslag oor die NRO’s se geskiktheid? Waar is die motivering gebaseer op die feite van die ondersoek? Hoe is die motivering gedoen? Wie het die motivering goedgekeur?
Daar is talle onbeantwoorde vrae wat egter NOOIT ter tafel sal kom nie.
Die sinnelose besluite en onbevoegteheid van amptenare wat kripvvreters is en geen sin vir verantwoordelikheid het nie, is maar deel van die verrotting en groteske skandalige gedrag van mense wat deur die regerende party in beheer geplaas is.
Dit is ‘n skande van internasionale proporsie. Hierdie (on)verantwoordelike amptenare moet krimineel aangekla word – die Minister inkluis.

Alida ·

As die minister reken daar was nie ‘n tekort aan geld nie hoekom is die mense dan dood van honger en verwaarlosing. Die geld is natuurlik gesteel wat anders. Ek hoop die skuldiges word tronk toe gestuur vir massamoord. Die eerste plek waar hulle moet soek is wat het van die geld geword wat bedoel was vir kos en beddegoed. ‘n Ordentlik oudit sal bewys dat die wat aan die stuur was met vet bankbalanse sit. Dit is skande en baie hartseer vir hulle families. Ek hoop nie hierdie ondersoek gaan jare duur nie. Dit moet spoedig afgehandel word.

Anoniem ·

Kan iemand asb aan my verduidelik wie almal finansiële voordeel getrek het uit hierdie gemors?

Ek voel daai mense moet vervolg word, en die “winste” van hierdie dom/gierige besluit moet van hulle verhaal word om die pasiënte wat tans nog swaarkry se lot te verlig, en ook as uitbetalings aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan word.

Goa ya katse ·

Ek het nogal respek vir min. Motsoaledi. Hy is na my mening een van die weinig ANC LP’s wat sy sout werd is.
Dit is jammer “it happened on his watch”. Vermoede bestaan dat hy sy amp te goed gedoen het – korrupsie waarskynlik minimaal.
Daarom moes hy gediskrediteer word deur te VEROORSAAK dat die mense aan geestelike trauma sal sterf.
Een, twee, drie of self sewe sterftes kon miskien aanvaar geword het – maar dit moes in elk geval onder min. Motsoaledi se aandag gebring gewees het sodat aksie geneem kon word.
Iemand binne ANC kaders was strafwaardig nalatig/ doelbewus nalatig en moet geindentifiseer en strafregtelike aangekla eord.

CAROL ·

GEEN WONDER DAAR IS NIE GELD NIE – PRESIDENT EN DAAI “FANCY” MENSE MET HOE RANGE BESTUUR DAN MOTORS VAN OOR N MILJOEN RAND!!!!????

Scalla ·

Eerder n tekort aan kundigheid, onbevoegde en onbekwame familie persone word aangestel. Tree op teen hulle asb

Charmain ·

Ek verstaan nie dat hulle nie kennis dra nie, want lank vir die bom gebars het, het Carte Blanche n program daaroor gemaak en vrae gevra

James ·

Dalk nie ‘n tekort nie maar WANBESTEDING> Die geld wat hulle daarvoor moes bestee is op luukshede uitgemors en nie op die pasiente nie. Hulle lieg oor alles om nou hulleself te verontskuldig. Julle het hulle na GOEDKOPER fasiliteite (wat ongeregistreerd is) geskuif om ‘geld te spaar’ wat julle op ander plekke kon UITMORS. Dit het nou ‘n klomp mense se lewens gekos. Dit is ‘n SKANDE!!

hoenou ·

Sou graag wou weet wat is Life Esidimeni hospitaal se aandeel hierin. Is dit moontlik dat pasiente somaar net so uit die hospitaal weggeneem kan word? Dalk het die hospitaal nie fondse gehad nie. Of dalk was hulle mediese fondse “uitgeput”.

Esme Strauss ·

In die eerste plek is ons kinders / families betrokke NIE PSIGIATRIESE gevalle nie!!! Ook nie “Retards” nie….. hulle is fisies of ligaamlike gestremde persone wat beslis nie gevra het om so te wees nie.
Die tronke kry R10 000.00 per maand per gevangene…. maar ons gestremde kinders en familie lede kan nie die helfte daarvan kry om behoorlik versorg te word nie.
As daar ooit ‘n geld krisis was, waarom was my eie kind se SASSA toelaag dan gestop omdat dit nie maandeliks onttrek was nie???
Te veel vrae en te min antwoorde…..intussen sit ons geliefdes en wag op hulle dood.

kay ·

oggend en aand praatjies nie dieselfde … hy trap water en ek is nie seker dat enige iemand weet wat hier aangaan nie – maak nie sin nie .. ja ek weet nie hoekom moet die ouens in die tronke in weelde leef nie – maar ja knou liewer die wat nie agter hulle self kan kyk nie af . Dis mos bekend onder seker nasie dat hulle hulle gebreklike kinders sommer vir dood laat ,, Sad Maar baie waar … ek wil net weet wie was die pasiente …. want niemand se wie hulle was nie .
Hoekom nie ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.