Geldwa aan Wes-Rand opgeblaas

Die toneel op die R501 buite Westonaria aan die Wes-Rand. (Foto: ER24)

’n Wetstoepasser is Vrydagoggend gewond tydens ʼn skietery wat vermoedelik verband hou met ʼn transitorooftog wat op die R501 buite Westonaria aan die Wes-Rand plaasgevind het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het die geldwa omstreeks 09:30 by hul aankoms op die toneel in die middel van die pad aangetref. Die veiligheidsvoertuig was reeds in ’n oënskynlike ontploffing beskadig en dele van die voertuig was oor die toneel versprei.

Die geldwa en veiligheidsvoertuig behoort vermoedelik aan die veiligheidsmaatskappy G4S.

Geen beserings was in dié stadium aangemeld nie.

Paramedici is egter kort daarna na Kaktusstraat in Carletonville, sowat 30 km van Westonaria, ontbied ná ʼn skietery wat vermoedelik met die transitorooftog verband hou.

’n Wetstoepasser is gedurende die voorval in die voet geskiet en is op die toneel behandel voordat hy na ’n hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media gesê hy is op pad na die toneel. “Die polisie het verdagtes in hegtenis geneem en van die geld teruggekry.”

Masondo wou egter geen verdere vrae omtrent die voorval beantwoord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jacobus ·

Cele is deel van die probleem. Waar is n reaksieplan nou na al hierdie rooftogte deur goed opgeleide terroriste?

FM ·

Hy is nie bevoeg om enigiets te doen nie. Hy kan nie beplan nie. Hy verstaan nie wat sy werk behels nie. Al wat hy kan doen is om ‘n salaris te kry wat hy nie verdien nie.

Johan ·

Ja wel, 99% van al ons politici en burokrasie is parasities en totaal nutteloos, ongeag hul party.

Kokerboom ·

Magtig dit kan NIE so aangaan!!!Is daar ENIGE oplossing in sig? Dis terrorisme op groot skaal!!!

Nie Verbaas ·

En ou Cele sit net en “Op die klavier staan n bottel wyn. Die een wat….” en speel en kan dan nog steeds nie besluit watter hoed om te dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.