Geldwa byna met mans daarin opgeblaas

Skade aan die geldwa. Foto: Verskaf

Skade aan die geldwa. Foto: Verskaf

ʼn Volskaalse soektog is van stapel gestuur na ʼn bende van 17 swaar gewapende mans wat Maandagaand ʼn geldwa buite Tzaneen in Limpopo opgeblaas en beroof het en toe op boere se voertuie losgebrand het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 18:45 op die R71 tussen Tzaneen en Gravelotte plaasgevind.

“Drie veiligheidsbeamptes van die G4S-veiligheidsmaatskappy het geld vervoer toe die verdagtes in vyf voertuie hulle in ʼn hinderlaag gelei en tot stilstand gedwing het,” het Ngoepe gesê.

Marius Jacobs, woordvoerder van Northern Security en stigter van die Watchdog Tzaneen-inisiatief, het aan Maroela Media gesê die voorval het naby die Letsitele-afrit plaasgevind.

“Die verdagtes het op die geldwa en die veiligheidsbeamptes losgebrand. Verskeie skote is afgevuur en van die bemanning is gewond,” het Jacobs gesê. “Die verdagtes het die bemanning gedreig dat as hulle nie uit die voertuig klim nie, hulle die voertuig met mense en al daarbinne sal opblaas.”

Volgens Ngoepe is die kluis in die voertuig opgeblaas waarna die verdagtes met ʼn onbekende hoeveelheid geld op vlug geslaan het. Die geldwa is erg beskadig.

Jacobs het gesê ʼn boer van die omgewing het agter die geldwa gery toe die voorval plaasgevind het. Hy het hulp ontbied en nog boere het intussen ook van die voorval verneem en is na die toneel om bystand te lewer. “Die verdagtes het ook op die boere se voertuie geskiet voor hulle van die toneel gevlug het,” het Jacobs bygevoeg.

Die veiligheidsbeampte wat die voertuig bestuur het, is in sy regterarm en -been geskiet. Paramedici van ER24 het die man op die toneel behandel. “Die beampte en een van sy kollegas het ook beserings wat deur skrapnel aangerig is, opgedoen. Hulle is albei na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die derde beampte is nie beseer nie, maar na die hospitaal geneem vir waarneming,” het Chitra Bodasing Harduth, woordvoerder van ER24, gesê.

Die Letsitele-polisie ondersoek die voorval. Die verdagtes is onbekend en vermoedelik swaar gewapen. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

aj ·

En toe verdwyn die boewe soos mis voor die son. Nie eers een van die boewe is geskiet nie. Maak nie sin nie.

Ampie ·

aj, dit maak sin. 17 gewapendes met gewere en plofstof op ‘n plattelandse pad. Wie moes op hulle geskiet het?

Thea Gerber ·

En wat sou jy gedoen het as jy daar was? 17 ouens met outomatiese wapens met jou knipmes aangeval het?

Liza ·

“Silly season” is met ons! Rooftogte en bedrog neem geweldig toe vanaf einde September tot Desember jaarliks.

Perdekrag ·

Mens kan niks doen teen 17 boewe nie en dit word maar net erger in SA

schalk ·

Die gereg dwing nie meer respek af nie. Vir diegene wat werklik eerlik en harwerkend in die beroep staan om misdaad te beveg haal ek my hoed af.
Die huidige regering het die taktiek van ontspoor die staat dan is oorname moontlik gevolg om aan bewind te kom toegepas en die gesindheid geskep by die mense van vandag. Nou volg hulle dit nog steeds teen die ANC.
Jammer maar al die wette wat die tipe misdaad beperk of bekamp het is mos afgewater en dien nie meer die doel van afskrik nie. Kriminele het mos regte.

charlene ·

Vir die mense wat kommintaat lewer oor die wagte nie terug geskiet het nie…. kom ons doen gou somme. Daar is 4-5 wagte in so `n kar, 17 boewe…. en die wagte dra net iets om hulle bors….. HULLE KOPPE IS OOP!!!!!!!!!!
Ek is baie dankbaar hulle het met hulle lewe weg gekom en nie een van hulle moes met hulle lewe betaal nie, ek is ook bly hulle het liewers uit die geldwa geklim, voor die opgeblaas is. Dis `n baie gevaarlike werk en NIEMAND se lewe is dit werd nie. Sterkte aan die een wat geskiet is asook aan die pad wat voorlê.

jaco ·

Vervoer die geld in n tgewone Toyota Quantum. Niemand gaan dink dis ‘n geldwa nie. Waarom MOET ‘n geldwa lyk soos wat dit lyk? Dis net ‘n uiters kwesbare teiken.

Johannes Meintjes ·

Spreek sulke uitermate en toenemende geweldadige boewery in die Nuwe SA enigsins van goeie regering en hoogs-morele gemeenskappe?

Jc ·

Die enigste manier sal wees om n chopper te gebruik en sit op die bank se dak

jaco ·

Sit die geld in pick n pay sakke en laai dit in n doodgewone Toyota Quantum. Niemand sal dink dis geld nie. Geen crime syndicate sal die Quantum agtervolg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.