Die familie van Daleen Cameron (67) van Bloemfontein probeer sin maak van haar moord en voel terselfdertyd kwaad en hartseer.
Daleen se man, Alex Cameron (67), het Dinsdag op haar liggaam in ’n plas bloed in hul huis in Bayswater, Bloemfontein, afgekom nadat hy gou apteek toe was. Haar keel was oopgesny en haar hande was agter haar rug vasgebind.
Daleen was alleen tuis saam met die tuinwerker wat buite die huis besig was. Ná Alex se gruvonds was die tuinwerker skoonveld.
Kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, kon nog nie ten tyde van publikasie bevestig of iemand al in hegtenis geneem is nie.
Daleen se dogter, Sanjaca Mitrovich, het op Facebook vertel sy kan steeds nie glo wat met haar ma gebeur het nie.
“Wat gebeur het, is onbeskryflik. Ek is hartseer en kwaad. Hoewel Ma in ’n beter plek is, maak dit nie die seer beter nie,” skryf Mitrovich.
Volgens Mitrovich was haar ma die sterkste vrou en mees liefdevolle ma. Sy sê haar ma was haar mentor.
“Ek sal al die gelag en die pret, raad, vriendskap en liefde wat Ma vir ons gegee het, koester.”
Vriende het op Facebook hulde aan Daleen gebring en hul meegevoel met haar naasbestaandes betuig.
“Dit is ’n tragedie. Daleen, ek gaan ons geselsies buite my huis mis. Jy het altyd met die honde of jou kleinkinders verby ons huis geloop. Dankie dat jy altyd so vriendelik was. Jy het altyd ’n glimlag op jou gesig gehad,” skryf Theodora Grivas.
Jolani Coertzen vertel Daleen was op die oog af ’n stylvolle, mooi en georganiseerde vrou.
“Jou uitrustings was altyd, sonder uitsondering, baie noukeurig bymekaargesit. Jy’s ’n bitter mooi vrou, lippies rooi – en dan groet jou breë glimlag met oorgawe. Jou opregte gasvryheid is van daai soort wat maak dat jy nie wil huis toe gaan nie. Jy organiseer daai huishouding en almal daarin sodat alles presies in plek val … En dan, die heerlikste kos voorgesit aan ’n keurig gedekte tafel – in die fynste detail. Want dis hoe ’n vrou dit doen – dis jou voorbeeld,” skryf Coertzen.
Hou Maroela Media dop vir meer inligting.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
16 Kommentare
Dit was ‘n sinnelose moord, my innige simpatie aan haar familie. Mag julle vertroosting vind by die Here en Hy julle styf vashou in hierdie swaar tyd.
Spoor die tuinwerker op en die moord is opgelos.Ek glo hy weet iets wat hy nie wil hê die polisie moet hoor nie.
Nee!!!
Sal seker met haar saak gaan soos met wyle Brendon Horner…..
Vang daai moordenaar!!! Sy foto word wyd op fb versprei, so ek glo net kwessie van tyd voor hy aangekeer word