Geliefde ‘Binnelanders’-aktrise in kollig in dokkie-reeks

Lindie Stander. (Foto: Skermgreep)

In die nuwe seisoen van kykNET se dokumentêre reeks, Net mens, word die lewens van Lindie Stander, bekende aktrise, Breyten Paulse, oud-Springbokrugbyspeler, en Appel, sanger en liedjieskrywer, onder ʼn vergrootglas geplaas.

Net soos met die vorige seisoen van Net mens is Reynardt Hugo, bekend om sy rol as dr. Tertius Jonker in die sepie Binnelanders, in die regisseurstoel en het hy ook die navorsing vir die program behartig.

Kurt Darren, Kim Cloete, Dirk van der Westhuizen, Elandré, Cindy Swanepoel, Refentse, Hykie Berg en Early B het in die eerste seisoen hart oopgemaak oor hulle grootwordjare en die lewensgebeurtenisse wat hulle as mense gevorm het.

In die eerste episode van die tweede seisoen, nooi Lindie – bekend om haar rol as suster Elise in Binnelanders – kykers in haar binnekamer.

Sy vertel in-diepte oor haar lewe, en hoe dwelms, haar pa se selfdood en herhaaldelike besoeke aan die psigiatriese eenheid in ʼn Johannesburgse staatshospitaal, haar lewe beïnvloed het. Sy deel ook dat sy as 8-jarige deur ʼn 16-jarige familievriend gemolesteer is.

Lindie Stander. (Foto: Skermgreep)

Die episode handel egter ook oor die ommekeer in haar lewe waar sy die afgelope agt jaar in Langebaan in die Wes-Kaap woon en onlangs teruggekeer het na die Binnelanders-stel.

Sy deel haar storie van vergifnis, veerkragtigheid en uithouvermoë en maak ook vrede met haar ma, Tilda, met wie sy ʼn moeilike verhouding gehad het.

Lindie se suster, Janita, en voormalige huishulp, Selina, asook vriend en Binnelanders-produksiebestuurder, Freddie Sauermann, gesels met die Net mens-span om dieper insig in Lindie se lewe te bied.

“In ’n wêreld waar blitssukses en instant gratification opgehemel word, het ek besef die werklike lewe gaan oor méér as dit. Dit gaan oor die feilbare mens, betekenisvolle verhoudings en om vir mekaar te luister,” het Reynardt voorheen in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Dit was vir my belangrik om elkeen se storie te vertel wat mense nog nooit gesien het nie. Ons sien net altyd die frilletjies en die mooi goeters daar buite, maar ons verstaan min wat dit is wat hierdie ouens agter die gordyne aan die gang hou.”

Net mens word van Sondag 26 November 2023 om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Die reeks sal ook later op Showmax beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.