Geliefde biologie-meneer sal só onthou word

Nico Bekker is tydens ‘n Parkrun-wedloop oorlede.

“Hy was so ’n lieflike, saggeaarde mens; ’n liefdevolle broer en ’n fantastiese onderwyser. Hy wou altyd net die beste vir sy leerders hê.”

Só het Ansie Krige hulde gebring aan haar broer, Nico Bekker (55), nadat hy Saterdagoggend tydens die Parkrun-wedloop in Vereeniging inmekaargesak en gesterf het.

Volgens Krige het Bekker ’n hartaanval gekry terwyl hy aan die Parkrun deelgeneem het.

Krige vertel Bekker was einde November in die hospitaal. “Hy het gesukkel met sy hart. Die dokters het gesê hulle sal nie nog ’n operasie kan doen nie. Hulle het my broer aangeraai om gesonder te begin leef.”

Bekker het weer sy oefenskoene afgestof en die Parkrun-roete begin stap en draf. Krige vertel trots hoe haar geliefde broer jare gelede die Comrades-maraton voltooi het en ook graag saam met sy atlete by die skool gaan draf het. “Hy was baie lief vir sport, verál stap en hardloop. God het hom op sy gelukkigste plek kom neem.”

Bekker was ongeveer 34 jaar lank in die onderwys. Hy is sedert 2012 die biologie-onderwyser by Vereeniging Gimnasium.

Volgens Ruann Swart, ’n mede-onderwyser by Vereeniging Gimnasium, was Bekker se dood vir hulle ’n groot skok. “Ons het dit glad nie verwag nie. Hy was nog so aktief by die skool se sport betrokke. Hy het juis begin gesonder leef,” vertel Swart.

Swart sal Bekker onthou as ’n streng maar uitmuntende onderwyser. “Hy het baie omgegee vir sy leerders en was geliefd onder die seuns in die skool. Die rugbyseuns het baie opgekyk na hom.”

Swart vertel Bekker sou agteroor buig vir die sportspanne wat hy afgerig het. Hy het onder meer rugby en langafstand-naellope afgerig. “Hy het ook baie energie as sangafrigter ingesit. Hy het sy vak se werk op die punte van sy vingers geken en was ook altyd betrokke by skoolfunksies.”

“Vereeniging Gimnasium se harte is seer om een van ons onderwysers so vroeg in die jaar te verloor,” het die skool Sondag op hul Facebook-blad geskryf. Naasbestaandes, kollegas, vriende, leerders en ouers het ook hul innige simpatie op die skool se Facebook-blad betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vanessa ·

So jammer om te hoor ons het ‘n Parkrun familielid verloor. Innige simpatie met familie en geliefdes. Dit sal interessant wees om te weet of Saterdag se intense hitte ‘n faktor gespeel het. Die Parkruns is ideaal vir oefening en samesyn in die vars lug, en ons probeer self om nie ‘n Parkrun verby te loop nie, maar mens troef die son en die hitte partykeer op ‘n Saterdagoggend.

marcia ·

Was my kinders se Biologie onnie baie jare gelede by DR Malan Meyerton.
Hy was awesome en baie gelief – hul onthou hom vandag nog met respek en goeie memories

Tina ·

Hy was my onderwyser by Dr Malan. Hy was streng maar regverdig. Dis baie hartseer. Sterkte vir sy familie en vriende. Vereeniging Gim, jul het n groot man verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.