Geliefde Bloem-onnie sterf skielik

Hettie Grobler. Foto: Verskaf

ʼn Geliefde onderwyseres van Bloemfontein in die Vrystaat het in ʼn hospitaal in dié stad gesterf ʼn enkele paar dae nadat sy siek begin voel het.

Hettie Grobler (55), ʼn onderwyseres by die Rosenhof-skool, is Dinsdag om 05:30 in die waakeenheid van ʼn hospitaal dood nadat sy Sondag opgeneem is. Toetse het getoon Grobler se onverwagse dood is deur ʼn spinnekopbyt veroorsaak, vermoedelik deur ʼn bruin knopiespinnekop.

Johan Grobler, Hettie se man, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy was aan Hettie se sy ten tyde van haar dood. “Dit was verskriklik skielik. Ek het heeltemal van my kop af geraak. Hulle het my gelukkig iets gegee om my te kalmeer. Maar dit is bitter swaar,” het hy gesê.

Hy vertel dat hul dogter, Marinda, Donderdag ʼn rooi bytmerk aan Hettie se arm opgemerk het. Volgens Johan was die bytmerk rooi en baie klein, so groot soos ʼn speldekop. Hy sê die byt was ook glad nie seer nie.

Vrydag het Hettie bleek gelyk en olik gevoel. Hettie het egter gedink sy voel sleg omdat sy haar chroniese medikasie verkeerd gedrink het en het verwag dat sy binne ʼn paar dae beter sou voel. Toe sy teen Saterdagaand nog slegter gevoel het, wou Johan haar na ʼn dokter toe neem. Hulle het ooreengekom dat sy Sondagoggend dokter toe sou gaan indien sy nog nie beter was nie.

Sondagoggend het Hettie nog sieker gevoel. Sy was naar en haar naels het begin blou word. Sy is dadelik met ʼn ambulans na ʼn hospitaal gehaas.

Volgens Johan het dokters verskeie moontlikhede oorweeg, waaronder die moontlikheid dat sy inwendige bloeding kan hê weens komplikasies van ʼn vroeëre operasie. “Omtrent 03:00 Maandag staan die dokter saam met my langs haar bed en vra my het iets haar nie dalk gebyt nie. Toe onthou ek van die byt op haar arm. Ek het haar arm opgelig en ons het gesien die bytmerk het toe ʼn blou kol om gehad,” het Johan gesê.

Die dokters het dadelik begin om Hettie met antibiotika te behandel, maar sy het al meer verswak. “Toe die dokter daardie oggend daar uitstap, was ek vreeslik opgewonde dat die oorsaak [van haar simptome] vasgestel is en ek het die Here geloof en geprys en vrede in my hart gehad. Die volgende dag het ek by Hettie gesit en gesien hoe sy al swakker word. Ek het die Here gevra hoekom, want hy het my dan nou net hierdie vrede oor haar gegee. Maar ek besef nou Hy het my dié vrede gegee omdat Hy haar kom haal het.”

Johan vertel Dries Booysen van die Kairos-gemeente het ʼn hele nag by Hettie in die hospitaal gesit en vir haar gebid. Hy sê hy is sedert Hettie se dood oorval met oproepe en boodskappe van mense van oor die hele land.

“Sy was regtig ʼn fantastiese vrou. Daar is soveel mense wat haar geken het en vir haar lief was, dit is werklik so. Ek dink ek het al honderde oproepe gekry van oral oor,” sê Johan.

Hy sal Hettie altyd onthou vir hoe sy na ander uitgereik het en hulle wou help en ondersteun. “Sy was mal oor bak en sy het altyd die lekkerste brode en koekies gebak en net vir almal uitgedeel. Sy sou sommer net kolwyntjies gebak het en vir die kinders by die skool gaan uitdeel het. Ek het al met haar baklei en gesê sy gee so baie vir ander dat sy haarself te na kom, maar dit was net haar hart. Sy wou dit vir ander doen.”

Hettie word oorleef deur haar dogters, Marinda en Lanet, haar seun, Charles, en een kleinkind. ʼn Gedenkdiens sal Saterdag om 10:00 in Rosenhof-skool se saal gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Annie ·

Sterkte aan haar man, kinders en familie. Ek het self trane in my oe gekry.

Speedguard ·

Sterkte my ou maat, Soms bevraagteken ‘n mens die Here se wil en mag jy, dit is duister en onverklaarbaar, Vrede en sterkte vir jou en jou gesin, dit is baie erg !!

Teresa Erwee ·

My hart gaan uit na haar man en familie. Ek is self 5 weke gelede self ook deur ‘n spinnekop op my maag gebyt. Teen die tyd dat ek dit agter gekom het was die hele area rooi en ontsteek en kliphard. Die wond moes later dreineer word, daar was ‘n diep “gat” wat 4 weke gevat het om te genees. Ek besef net nou hoe gelukkig ek was.

So jammer ·

Ai mens besef nie hoe kort is die lewe nie. Julle het ‘n mooi lewe saam gehad, vertroetel dit maar en baie sterkte vir die toekoms en die hartseer wat voorle. RIV vrou. Die Here het jou kom haal.

Lollie ·

Baie sterkte aan die res van die gesin. Net gisteraand ook ń baie goeie vriend asn die dood afgestaan. Indien die dood so naby aan jou kom besef jy eers hoe kort en kosbaar die lewe is. Vir die naasbestaandes is dit verskriklik om dit te aanvaar en te bewerk. Elke dag is daar regoor die wêreld sulke hartseer. Woorde maak dit nie beter nie maar glo dat baie mense se harte uitgaan na julle! Sterkte! God sal julle hierdeur dra en nie alleen los nie, al voel dit so!

Theresa ·

Ai, so hartseer! Mag die familie berusting vind – moeilik so onverwags!

Nick van Zyl ·

Aan Hettie se man,Johan, wil ek my meeste opregte meegevoel oordra. Ek is n klompie jare ouer as julle, maar die nag toe my vrou na n huwelik van 45 jr my ontval, kon niks my troos nie! n Mens val in n baie diep gat en die lewe verloor sy sinvolheid! Maar daar is hoop. Kyk op en weet die Here sal jou deur dra!

SARIE VAN HEERDEN ·

Knopoiespinnekoppe skuil onder die buitenste oorhangende vensterbanke, onder stoepstoele,net waar jy die klein ronde wit balletjies tussen die min spinnerakke sien moet jy weet dit is hulle. Party mense spoel die ronde balletjies af met die tuinslang maar dan verskuif jy net die pestelensies. Haal hul af, gooi hul in kookwater en spoel hul in die toilet af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.