Geliefde ‘Boer soek ʼn vrou’-deelnemer verloor kankerstryd

Flip Kotzé wat aan die tweede seisoen van Boer soek ‘n Vrou deelgeneem het. (Skermskoot: KykNet)

Flip Kotzé, die geliefde boer van die Uniondale-distrik in die Wes-Kaap van die tweede seisoen van Boer soek ʼn vrou, het sy stryd teen prostaatkanker verloor.

Boer soek ʼn vrou het die nuus Woensdag op sy amptelike Facebook-blad bevestig. “Dis ’n baie hartseer tyd vir die Boer soek ʼn vrou-span. Ons het verneem dat boer Flip onlangs sy stryd teen kanker verloor het. Aan sy familie en vriende: Julle is in ons gedagtes,” lui die inskrywing.

Volgens berigte is die kanker maar net ʼn paar maande gelede by Kotzé gediagnoseer.

Kykers het destyds op die kassie gesien hoe die liefde tussen Kotzé en Wenda, wat later sy vrou geword het, begin blom het. Wenda het destyds nie ‘n brief vir Boer Flip geskryf nie, maar nadat een van die vroue wat hy plaas toe genooi het weens werkverpligtinge nie kon saamkom nie, het hy aangekondig daar is iemand wat hy elders ontmoet het, wat nou ook plaas toe kom.

Wenda is saam plaas toe en die romanse het liefde het behoorlik geblom. Kotzé en Wenda het in 2011 saam die paadjie kansel toe gestap.

Boer Flip en sy geliefde Wenda. (Skermskoot: KykNet)

In ʼn onderhoud wat kykNet met Kotzé gevoer het nadat die twee in die eg verbind is, het hy erken Wenda het hom uit sy dop uit laat kruip. “Ek dink ek was erg introvert gewees, maar met hierdie een hier langs my … sy is aan die gang, sy is erger as ʼn rooimier! En ʼn ou begin naderhand dit aanleer,” het hy geskerts.

Die twee het in die onderhoud gekoer oor hul opregte “boeretroue” en gesê dit was ʼn reusefamiliefees. “Dit was ʼn baie lekker troue. Ek dink ons was eers 01:00 die oggend daar klaar. Toe is die mense opgedans,” het Kotzé vertel.

Hy het erken dat hy so verknog geraak het aan sy vrou dat wanneer sy winkel toe gaan hy haar na ʼn uur begin soek. “Dit is nou maar so. Ons is nou deel van mekaar. Dit is vir my absoluut wonderlik om so iemand by my te kan hê,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Sanet ·

Baie sterkte aan sy naasbestaandes, so jammer om te hoor ???

Genoeg ·

Ek het net vandag die Huisgennot van 22 November 2018 gelees en gewonder hoe dit nou met Flip gaan en hier lees ek nou op MM dat hy nie meer met ons is nie. Ons kan maar net aan Wenda sê, sterkte met die pad sonder Flip, daar sal erge hartseer tye wees, maar deur Genade sal die mooi oomblikke wat julle bymekaar was, hierdie juk sagter en ligter maak.

Oujongvrou ·

Ek is so bly hy was sy laaste jare gelukkig. Sterkte Wenda.

Ena ·

Better to have la
Oves and lived a short while…than to have died a lonely death.
A lot of people die alone….and did nor ever have the experience to have live a short and precious while.

Theresa ·

Baie bly julle het die paar jaar saam geniet en was baie gelukkig. Baie sterkte Wenda en familie.

Ellisras ·

Kanker is ‘n oorlog wat jy nie kan wen nie. Jy kan ‘n paar veldslae in die stryd wen. Maar die eind geveg gaan jy nie wen nie.
Dit is juis ‘n rede om posetief te wees. As jy mos weet iets gaan gebeur beplan vir dit.

Nettie ·

@Ellisras – ek stem. Kanker kan NIE gewen word nie; nie altyd nie. As jy kanker kry, gaan jy dood daaraan – miskien nie nou nie, maar wel later. Ek weet: dis nou vanjaar my ma se 3de keer in 6 jaar wat sy ‘n kankerdiagnose gekry het – eers slaan hy hier uit, toe slaan hy dáár uit en toe verder, slaat hy nog ‘n keer op ‘n ander plek uit. En g’n dokter – onkoloog of chirurg – kan jou verseker dat hy/sy jou genees het na dit wat hy/sy gedoen het nie.

Liz ·

Ellisras & Nettie my man is vroëer die jaar oorlede aan kanker. Maar ek sê hy het nie sy stryd verloor nie. Kanker het verloor. My man is veras. Die kanker is verbrand. My man se siel leef voort en is gesond. Hy het gewen. ?

RonelS ·

Baie hartseer nuus. Ons dink aan sy vrou, kinders en geliefdes. Baie sterkte.

PJN ·

Flip R.I.P. Dit was ‘n voorreg om jou voorheen te kon ken in Polokwane. Jy is nou op ‘n beter plek.

wraggies ·

Manne, gaan vir die jaarlikse prostaat ondersoek, bloed neem ens, begin al op 50. Daar is geen tekens in die begin nie en as dit vroeg genoeg behandel is kan dit jou lewe red. Doen dit net.

Erich ·

Jammer oor jou verlies. Ons simpatie. Sterkte vorentoe Wenda.

Kobus ·

My pa kon nie vir `n beter vrou gevra het nie, Wenda was toegewy aan hom. Sy het hom so mooi versorg en na hom omgesien.

Manne, my pa sou wou hê dat ek julle waarsku: Laat toets julle tenminste 2 keer per jaar! Hierdie is `n verskriklike siekte wat eers simptome wys wanneer dit te laat is……

Estie ·

Ellisras & Nettie, ek weet van mense wat kanker gehad het en jare later aan ‘n hartaanval oorlede is – glad nie kankerverwant nie. En moet asb nie veralgemeen nie, ons wat wel kanker “survivors” is, wil nie hoor dat ons nie genees is nie – dis onsensitief.

Retha ·

Ek stem saam. Daar is baie mense wat kanker klop en heeltemal van iets anders doodgaan. My pa het keelkanker gekry en geweier dat Dokters hom opereer. Hy het chemo en bestraling gekry en was baie honger in daardie tyd. Ek het baie gebid dat die Here hom ‘n hongerdood moes spaar. Hy is 9 jaar later in sy slaap oorlede aan sy hart. Volgens ‘n ondersoek kort tevore, geen spoor van kanker nie.

wilma ·

Kobus, wat ‘n lieflike getuigskrif vir Wenda. Baie sterkte en innige simpatie. Ek wil graag beaam wat jy sê oor die prostaatondersoek. My man is ook een van dié wat gediagnoseer is nadat die kanker omtrent oral versprei het. Deur die genade en uitstekende behandeling wat hy by Steve Biko Hospitaal ontvang het, is dit nou bykans 2½ jaar later en hy gaan nog aan alhoewel sy krag nie meer veel is nie. Sover as wat hy kan, noem hy dit aan mans om te gaan vir die ondersoek, maar meeste steur hulle nie daaraan nie totdat dit te laat is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.