Geliefde chirurg van Pretoria oorlede

Dr. Gareth du Plessis en sy vrou, dr. Liandi Freese (Foto verskaf)

Dr. Gareth du Plessis (48), ʼn geliefde spinale chirurg van Mooikloof in Pretoria, is Vrydagaand oorlede. Maroela Media het verlede jaar berig hoe hy uiteindelik ná 113 dae uit die hospitaal ontslaan is.

Elmaré Schutte, Gareth se suster, het die nuus van sy afsterwe aan Maroela Media bevestig. Hy is gisteraand omstreeks 22:20 oorlede aan komplikasies weens Crohn se siekte, wat fistels en perforasies in sy ingewande veroorsaak het. Chirurge het uiteindelik meer as 20 prosedures uitgevoer om die situasie te probeer regstel, maar uiteindelik het hy die stryd verloor.

“Dit is ʼn groot verlies vir sy pasiënte, sy kollegas, sy familie en sy vriende,” het Schutte oor haar ouer broer gesê. “Hy sal nie net gemis word vir sy mediese kundigheid nie, maar ook sy unieke sin vir humor en die ongelooflike empatie wat hy vir mense gehad het. Hy was my liefste boetie, ons was beste pêlle van dag een af. Niemand sal ooit my laat lag soos hy nie.”

Schutte het ook die besondere ondersteuning wat sy vrou, dr. Liandi Freese, en al sy kollegas aan hom gegee het sedert hy die eerste keer siek geword het, geloof.

“Gareth het maande se rehabilitasie by die Muelmed-rehabilitasiesentrum deurgemaak,” het Liandi bygevoeg, “en hard gewerk en goed genoeg herstel om huis toe te kom. Hy het ekstra kwaliteit tyd by ons gekry, voordat hy weer siek geword het en dae voor Kersfees weer in die hospitaal opgeneem is.”

Die Du Plessis-gesin saam met ‘n kollega se babatjie (Foto verskaf)

Gareth was omring deur verskeie van sy vriende, familie en kollegas toe hy Vrydagaand vreedsaam oorlede is. “Hy sal baie gemis word.”

Gareth laat sy vrou Liandi en hul twee kinders Kira-lee (11) en Liam (9) agter.

Maroela Media het verlede jaar berig Gareth was 86 dae lank in die intensiewesorgeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal en was 74 dae lank aan ʼn ventilator gekoppel in dieselfde hospitaal waar hý gewoonlik pasiënte versorg het. Hy het veelvuldige bloedoortappings en nierdialise ondergaan en longontsteking en Covid-19 onder lede gehad. Trane van blydskap het vryelik gevloei toe hy eindelik ná 113 dae uit die hospitaal ontslaan is. Hy is aanvanklik met ʼn dermperforasie opgeneem.

In ʼn video neem personeel van Unitas-hospitaal finaal afskeid van “Pappa G”, soos hy bekendgestaan het, met ʼn lied “Robala ka Kgotso” (Rus in vrede).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Ai, en nog so jonk.
RIV dokter.
Sterkte aan sy gesin, familie, en vriende.

Andre ·

As oud-pasiënt van dr Gareth was dit ‘n skok om van sy afsterwe te lees. Voorwaar een dokter waarvoor ons net respek en die die hoogste agting het. Ek kan die video verstaan waarom die personeel so agterna is, hy was ‘n mense-mens. Ons innige simpatie met sy naasbestaandes en vriende.

Jamie ·

Rest in peace Doc. Thank you for all you did for me but, most of all, for your friendship.

You will be sorely missed by myself and many others.

My sincere condolences to all friends and family.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.