Geliefde dokter dood gevind

Dr. Jaco Putter is Sondagaand dood. (Foto: Facebook)

ʼn Geliefde huisdokter wat al jare lank ʼn praktyk in Pretoria bedryf, is Sondagaand dood in sy huis in Nieuw Muckleneuk aangetref. Volgens sy familie is hy vermoor.

Pasiënte wat meer as 30 jaar by dr. Jaco Putter (60) se praktyk in Doornpoort aan die noorde van Pretoria aangeklop het, het vandeesweek hul skok en hartseer oor sy skielike heengaan uitgespreek.

Dr. Armand Koekemoer, een van Putter se familielede wat tans by sy praktyk werksaam is, het Maandag die skoknuus op Facebook bevestig.

“Dit is met groot hartseer om julle in kennis te stel dat my oom gisteraand [Sondag] oorlede is,” het hy geskryf.

“Die gerugte wat die ronde doen dat hy vermoor is, is waar, maar in hierdie stadium is daar nie baie inligting beskikbaar nie.”

AO Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het by navraag Putter se dood bevestig.

Volgens Van Dyk het ʼn familielid die aand op Putter se liggaam afgekom. Hy het op sy rug in die stort gelê.

“Dit wil voorkom of die slagoffer verwurg is, maar die presiese oorsaak van sy dood sal met die nadoodse ondersoek bevestig word.”

Die polisie is na die toneel ontbied en dit het aan die lig gekom dat die huis se hekmotor stukkend is. Die deksel is in die motorhuis aangetref, wat reeds oop was.

“Die verdagte het die slagoffer se selfoon, tablet, juweliersware, horlosies en Alfa Romeo-motor gebuit.”

Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek tans ʼn saak van moord.

ʼn Oudpasiënt van Putter het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê dat Putter haar deur moeilike tye gedra het.

“Hy was ʼn regte mense mens wat jou hart, kop en lyf uitsorteer het,” sê sy.

“Sy deernis met siek mense was iets spesiaals om te beleef.”

Volgens die oudpasiënt het hy altyd opgekom vir sy pasiënte en selfs mediese fondse gekontak as sy pasiënte se eise afgekeur is.

“Hy het ook ander dokters gehelp om hul praktyke op die been te bring, en het ander hul oomblik in die son gegun,” sê sy.

“Ek bars elke keer in trane uit wanneer ek aan sy dood dink, want dit was net so onnodig.”

Ander pasiënte deel hierdie sentiment en sê ʼn groot boom het vandeesweek in die gemeenskap geval.

“Dr. Jaco laat ʼn groot leemte in ons harte en gemeenskap. Hy was vir meer as 30 jaar ons huisdokter en ek sal sy omgee en liefde vir sy pasiënte altyd onthou,” skryf een pasiënt op Facebook.

“Dit is skokkend om te verneem dat my gesin se dokter van 36 jaar nie meer saam ons gaan lag en grappe maak in sy spreekkamer nie,” skryf nog ʼn pasiënt.

Koekemoer het intussen Putter se pasiënte verseker dat sy oom se praktyk sal voortgaan om die gemeenskap te bedien.

“Ons besef dat Dr. Jaco Putter ʼn groot invloed op baie van julle lewens gehad het, en hy los ʼn groot leemte in ons harte en in die gemeenskap agter,” skryf hy.

“Met trots leef my oom se visie en droom voort in sy praktyk. Hy los groot skoene vir my om te vul.”

Amptelike begrafnisreëlings is nie in hierdie stadium bekend nie.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eugene ·

Nog n’ sinnelose moord. Hoedman sal Sy werk meer ernstig moet opneem. Bring die dood straf terug.

Di ·

Hoop hulle vang die skuim wat dit gedoen het. Sterkte aan die familie en vriende. Wat ‘n groot verlies

Skappie ·

Jammer om te hoor van hierdie dokter wat vermoor was. Sterkte aan sy familie en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer elkeen styf vashou in hierdie moeilike tyd wat voorle.

Elmarie ·

Hy was ‘n geliefde Dokter wat nie eers ‘n vlieg sou seer maak nie. Hy het sy pasiënte eerste gestel en die ekstra myl gestap. ‘N sinnelose dood! Rus sag Jaco.

Papsak ·

Toe wat se daai een wat doodstraf wil weg he nou weer wreed dood gemaak is dit menslik om dit te doen nee ten eerste nou bring die doodstraf terug asb laat hulle n les geleer word wat so moor

Casper ·

Mashego-Dlamini ons agbare adjunk minister jy moet jou kop laat lees.Jy treë in vir moordenaars en verkragters van onskuldige vroue en kinders maar jy wil vir die wêreld vertel hoe hulle moordenaars moet behandel,absurd en by snert verby.Kyk na die statistieke in Botswana en oor die wêreld heen waar die doodstraf geld.Ek hou nogal van die manier hoe Dubai met moordenaars en verkragters werk.Direk na jou skuldigbevinding word jy in die openbaar tereggestel,goed so.Dink net hoe lekker plek sou ons land gewees het as die doodstraf vir halsmisdade van krag was.Ek wens ek kon vir die meisie sê wat ek van haar dink.

Zoey ·

Was vir jare by Dr Jaco. Hy was goed, en hy het baklei vir sy pasiente. Die vernederende manier waarop hy tot sy einde gekom het maak my woedend. Sy dood is sinneloos, sy pasiente word wees gelaat. Ek glo Armand sal sy beste doen om daar te wees, maar al die jare se kennis van ‘n pasient kan nie net so oorgedra word nie. Sterkte aan sy familie, vriende en pasiente.

Elma ·

MM, n huisdokter is n doter wat nog huisbesoek doen, soos in die baie verre verlede nog die geval was. Gebruik eerder die woord Algemene praktisyn.
Sterkte aan die familie, mag julle vertroosting kry.

Natasja ·

Dr. Putter was vir naby 20 jaar my huis dokter voor ek verhuis het! Hy was n wonderlike dokter wat alty d die beste vir sy pasiente gedoen het! Hy het ook nie geskroom om hospitaal personeel oor die kole te haal as hul nie ordentlik na sy pasiente gekyk het nie!

Ek onthou hoe hy 1 keer die verpleeg personeel uit getrap het omdat ek nie my medikasie ontvang het soos ek moet nie!

Hy was voorwaar n yster met n goeie hard! RIV Dr. Jaco!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.