Geliefde dominee Dinsdag gegroet

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die gemeente op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal sal Dinsdag tydens ’n gedenkdiens van hul geliefde leraar afskeid neem. Intussen is niemand nog aangekeer vir die moord op ds. Liezel de Jager verlede week in die NG kerk Suidkus se pastorie nie.

Bianca Swanepoel, skriba van die NG kerk Suidkus, het bevestig dat De Jager se gedenkdiens Dinsdag omstreeks 10:00 sal plaasvind. Die diens sal op YouTube uitgesaai word.

“Sy het nie voorgegee nie en het haar werk uitgeleef. Die bediening was nie haar werk nie. Dit is wie sy was,” het ds. Rion Britz, De Jager se jare lange vriend en kollega, Maandag aan Maroela Media gesê.

“Die NG gemeente Kanoneiland treur. Die NG gemeente Suidkus treur.”

Britz het saam met De Jager aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer en later in dieselfde ring gedien voordat De Jager en haar gesin na die Suidkus verhuis het.

Volgens Britz was De Jager die eerste vrouepredikant in sy omgewing se ring toe sy haar destyds by die NG gemeente Kanoneiland in Upington aangesluit het.

“Al die ringspredikante het met skok en afgryse van haar dood kennis geneem … Sy het soveel mense aangeraak. Sy was vir baie ’n steunpilaar en ’n bron van ondersteuning. Dit was ’n voorreg om haar byna 19 jaar lank te kon ken. Daar waar sy was, het sy lig en blydskap gebring.”

De Jager het haar sowat drie jaar gelede by die NG gemeente Suidkus as leraar aangesluit. Dit is by dié kerk se pastorie waar sy egter Woensdag met wurgmerke aan haar nek aangetref is.

Geen van die geliefde leraar se besittings is tydens die moord geneem nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, het vanoggend aan Maroela Media gesê niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord nie.

Mbele wou nie uitbrei oor die ondersoek en of enige verdagtes al geïdentifiseer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chris dupreez ·

Die hele storie oor die moord klink vir my verdag. Ek hoop ek is verkeerd.

Misky ·

Ek het gister se berig in Rapport gelees en klink asof daar heelwat meer agter die storie is. Tragiese einde vir die jong vrou en mamma wat God se Woord verkondig en leef het

fransdutoit3 ·

Hierdie saak gaan nog ‘n interessante wending neem.. ????

Cherokee ·

Niks interesant daaraan nie. Dìt is vir sensasiejagters. Dit is bloot aaklig.

sophial ·

Ek ruik rot iets klink nie lekker nie, nogtans sterkte vir haar familie en vriende.

Zelda ·

Mens kan dink wat jy wil, maar jy kan nie sê wat jy wil nie. Ek kan wel sê ek ruik ‘n rot….

piet ·

Verskriklik om te dink jy gaan vir ‘n rustige draffie net om terug te kom en in jou jaart vermoor te word.

Samuel ·

Hier is heelwat mense wat rotte ruik!!? Waarom? Simpatie met haar naasbestaandes. Rus in vrede.

JohanR ·

By hierdie moord is daar nou weer ‘n kinkel in die kabel! Maar die tyd sal leer.

Prikkie ·

fransdutoit3 – ek is bevrees dat dit dalk ‘n afgryslike wending kan wees.

Waarnemer ·

My innige simpatie met die kinders en familie van ds Liezel de Jager.Mag haar siel in vrede rus.Jy mag dink wat jy wil,maar ek is redelik seker dat my gedagtes wat ek nie nou al hier mag uiter nie,werklik gaan word….daarom betuig ek slegs simpatie aan haar kinders,ouers,broers en suster(indien enige)asook ander familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.