Geliefde in koskringe sterf

Dr. Renata Coetzee

Dr. Renata Coetzee, die bekende koskultuurkenner, is vandeesweek in die ouderdom van 88 in Stellenbosch oorlede.

Volgens Truida Prekel, ʼn jare lange vriendin en familiewoordvoerder, is Coetzee Woensdag dood ná ʼn lang siekte.

“Renata het oor vyf dekades pioniersnavorsing gedoen om kennis oor en bewustheid van die verskillende voedselkulture in Suid-Afrika te bevorder,” het Prekel in ʼn verklaring gesê.

“Deur lewenslange navorsing, en nege boeke, het Renata plaaslike en internasionale bewustheid van, en respek vir, die voedsel-erfenis van verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika bevorder. Deur haar skryfwerk, TV-programme, openbare lesings en onderrig het sy duisende vroue en honderde mans toegerus met kennis oor gesonde voeding, en oor die fynere kuns om gaste en toeriste met keurige, kreatiewe, outentieke inheemse kosse te onthaal. Verskeie van vandag se top-sjefs, onder andere Niël Stemmet, Reuben Riffel en Kobus van der Merwe, sê Renata was vir hulle ʼn inspirasie en ʼn mentor. In 2016 het Renata met Reuben Riffel in ʼn CNN-program Culinary Journeys opgetree.”

Coetzee is opgelei as voedingskundige en voedselwetenskaplike, maar was veel meer as ʼn  inspirerende dosent en akademikus.

“Sy het met respek en insig die voedselkulture, lewenstyle en tradisies van verskeie Suid-Afrikaanse groepe nagevors. In Spys en Drank het sy eers die multi-kulturele kos- en sosiale gebruike in die Wes-Kaap, tussen 1652 en 1800, nagevors. Die boek Funa – Food from Africa het die tradisionele Afrika-koskulture gevier. Haar unieke gespreksnavorsing in die laat 1990’s en vroeë 2000’s onder verskillende Khoi-Khoin-groepe het nuwe lewe gegee aan die Khoi-Khoin-voedselkultuur, deur die pragboeke Koekemakanka (in Afrikaans) en Kukumakranka (Engels).”

Coetzee se laaste boek, A Feast From Nature – Food Culture of the First Humans on Planet Earth, is waarskynlik die mooiste en die interessantste. Vir hierdie boek het Coetzee die voedsel-kultuur en lewenstyle van die vroegste mense ondersoek, en dit in verband gebring met dié van die Khoi-Khoin. Sy het haar kundigheid gekombineer met multidissiplinêre navorsing van meer as 15 jaar, waarin sy op ʼn unieke manier aspekte van argeologie, paleontologie, plantkunde, genetika, geskiedenis, taalkunde, kultuur en veel meer bymekaargebring het. Alhoewel dit wetenskaplik gefundeer is, is die illustrasies en uitleg so mooi dat die boek ʼn egte versamelstuk is.

Coetzee het by verskeie universiteite studeer en doseer, onder meer Potchefstroom (nou Noordwes), Stellenbosch, Pretoria, Wisconsin in Madison, en Cornell. In 2000 het sy die Kanselliersmedalje van Pretoria Universiteit ontvang vir haar navorsing oor etniese Afrika-kos, en vir die grondlegging van nagraadse studies in volume-spyseniering. In 2007 ontvang sy ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Noordwes. In Oktober 2016 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns haar ʼn spesiale medalje vir haar lewensbydrae toegeken.

Inligting oor Renata se lewensviering in Stellenbosch sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mari ·

Rus in vrede.Jy was ‘n ikoon sonder gelyke. Jy het soveel mense se harte en lewens aangeraak. Dankie vir die kosbare nalatenskap in die vorm van boeke, bewusmaking , deel van kennis, en natuurlik, jou glimlag & omgee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.