Geliefde ‘Kokkedoor’-deelnemer sterf

Chris Greeff. Foto: Facebook

Chris Greeff, die geliefde sjef wat aan die tweede seisoen van die kykNET-realiteitskosreeks Kokkedoor deelgeneem het, is Woensdag in die ouderdom van 70 oorlede.

Wilmer Muller, reklamebeampte vir dié program, het namens kykNET en Homebrew Films dié nuus aan Maroela Media bevestig.

“Dit is met hartseer dat ons van Chris se heengaan verneem. Hy het destyds met sy deelname aan Kokkedoor diep in kykers se harte gekruip met pittige sêgoed en sy elegante kookvernuf,” het Muller gesê.

Errieda du Toit, koskenner en inhoudsvervaardiger van die seisoen waaraan Greeff ʼn deelnemer was, het aan Maroela Media gesê Greeff was ʼn diabeet. “ʼn Paar jaar gelede is sy een been as gevolg van diabetes geamputeer. Mense wat hom baie goed ken het my ingelig dat sy ander been ook onlangs geamputeer is. Dit het die laaste paar dae baie sleg met hom gegaan.”

Die presiese oorsaak van Greeff se dood is egter nog nie bevestig nie.

Du Toit het bygevoeg die koswêreld is diep hartseer oor Greeff se afsterwe. “Dit is baie selde dat ʼn mens iemand raakloop wat jou van die eerste oomblik af aanraak met sy kennis. Hy was só ʼn belese en berese mens en hy het baie geweet van álles – hetsy klassieke musiek, kuns of kookkuns. Ek het hom die kosghoeroe genoem, want hy was só ʼn wyse man.”

Sy sê elke gereg wat Greeff op Kokkedoor gemaak het, was ʼn baanbrekersgereg. “Hy kon ʼn meestersklas in enigiets aanbied. Die verlies van daardie diepte van kennis en ervaring is ʼn enorme verlies vir almal wat lief is vir kwaliteit-geregte.

“Ek het vanoggend weer deur die Kokkedoor-kosboek geblaai en na alles gekyk wat hy gedoen het. Sy werk is so inspirerend en ek weet hy het die ander deelnemers dikwels oopmond gelaat. Almal het begeer om soos sjef Chris net te kon wéét wat hulle doen. Die koskenner Peter Veldsman het ook vir Chris as universiteitstudent aan die Universiteit Stellenbosch geken en hy het glo destyds al uitgeblink.”

Begrafnisreëlings vir Greeff is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stella ·

Spitsvondige, elegant, kreatief en talentvol – ‘n regte ‘gentleman’. Ons gaan hom mis!

Lee ·

Baie sterkte aan die familie. Rus in Vrede Chris xx ‘n Regte Kokkedoor legend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.