Geliefde ‘kommentator, mentor, legende’ sterf

Kotie Grové. Foto: Nelson Mandela Universiteit

Huldeblyke stroom in ná die dood van krieketkommentator Kotie Grové.

Grové (71), ʼn veteraanuitsaaier met meer as 40 jaar ervaring, is vanoggend by sy dogter Hendrien se huis in Melville, Johannesburg, dood. Hy het kanker gehad.

Grové het hom in 1976 as tellinghouer by die SAUK se kommentaarspan aangesluit. ʼn Jaar later het hy sy buiging as kommentator gemaak tydens ʼn wedstryd tussen Oostelike Provinsie en Natal op St. George-park in die Baai.

In 1994 het hy by die betaalkanaal SuperSport aangesluit.

Vir Grové, ʼn professor in Grieks en Latyn aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth, was die uitsaaiwerk eintlik net ʼn stokperdjie. Hy het uitsaaiwerk egter later as sy groot liefde beskryf, hoewel die akademie hom onderhou het.

Grové het in 2014 uit die akademie getree, maar was steeds aktief agter die mikrofoon. Hy het, ten spyte van sy siekte, tot so onlangs as verlede maand nog krieketkommentaar gelewer.

Hy word beskou as ʼn Afrikaanse krieketinstelling en ʼn huishoudelike naam wat oor meer as vier dekades ook ʼn mentor vir opkomende kommentators in radio én televisie was. Hy word beskryf as ʼn man wat sy tyd, kennis én vriendskap vrylik gedeel het.

Foto: Nelson Mandela Universiteit

ʼn Oud-Proteaspeler en deesdae self ook krieketkommentator, Fanie de Villiers, sê Grové het ongelooflik baie vir die krieketgemeenskap beteken. Hy het hom as die “godfather” van die kommentaarstelsel beskryf en sê Grové het oneindige respek afgedwing.

De Villiers sê as dosent het Grové boonop groot empatie met jongmense gehad en het hy deur sy loopbaan ekstra moeite gedoen om studente wat in die moeilikheid beland het, agter die skerms te help.

“Dat hy ʼn absolute legende was as ʼn dosent, is nie eens ʼn kwessie nie. En ʼn mens is eintlik in ʼn posisie om te sê, hel, ek wens ek kan soos hy wees eendag. Ek dink dis die beste wat ʼn ou van iemand kan sê. Ons almal gaan hom baie mis,” het De Villiers gesê.

Krieketafrigter Dave Nosworthy sê hy is platgeslaan deur Grové se dood, terwyl die ATKV, wat Grové in 2015 met Afrikoon-status vereer het, sê Grové se stem en puik Afrikaanse kommentaar sal gemis word.

Grové word oorleef deur sy vrou Hendrina, nog twee dogters en ʼn seun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nico ·

Baie jammer om te hoor,baie van sy Afrikaanse komentaar gehou op Supersport,Sterkte aan die familie.

Blom ·

So jammer om te hoor, hy was ‘n puik krieket kommentator – sy stem sal beslis gemis word.
Sterkte aan sy familie met hulle groot verlies.

jannie ·

“Ek wil nou nie snaaks wees nie”…maar ek gaan vir ou Kotie se snaakse segoed mis by die krieket…..RIP Kotie Grove…Legend.

cf ·

Dis so sad. Het dit baie geniet om na hom te luister. RIV Kotie.

Nefie ·

Sjoe hartseer is ek nou, Oom Kotie was een van my gunstelinge. Hy en Fanie het altyd so mooi met mekaar gestry, dit het die kommentaar so lekker lewendig gehou. Rus sag.

Kotie-aanhanger ·

Rus sag Kotie! Jy is die rede hoekom ek na Afrikaanse kommentaar geluister het. Jou kritiese analise en meelewing het my liefde vir krieket kyk laat ontwikkel. Ons sal jou stem mis. Sterkte aan sy geliefdes en ook mede-kommentators.

Garath ·

Kotie RIV. Vir my was hy die Charles Fortune van Afrikaanse krieket kommentaar

Valerie ·

Verwys na die Derde Skeidsregter…
Beslissing? Nie uit nie.

Adam ·

Wat ‘n man!! Saam met hom krieket gespeel, gekuier en oneiendige respek gerky vir een van die jongste professore wat daar was. RIV, jy was ‘n legende in jou leeftyd.

Anne-Marié ·

Hy is en bly ‘n legende – ‘n kommentator sonder weerga. Ek het altyd die 7 boulbeurte afgetel tot Kotie weer aan die beurt kom, veral saam met Fanie of Jeremy. Sy skerp sin vir humor, eerlikheid en kennis was besonders. Nuwe kommentators behoort na opnames van Kotie te luister, want dít is hoe dit gedoen word. Wat ‘n verlies en ons het nooit eers geweet hy is siek nie. Professionele mens tot op die einde. Ek mis vir Robin Jackman by die Engelse kommentaar net so. Hy is ‘n gentleman soos Kotie. Rus sag Kotie. Dit het regtig gevoel of jy ons huisvriend is. Wat ‘n verlies.

Carel ·

Ek het die voorreg gehad om aan UPE Grieksby hom te kon hê. Hy was n uitmuntende dosent en lewensvormer, motiveerder en omgeemens wat in elke student van hom belang gestel het. Sy invloed op my lewe sal altyd bly. Beste wense aan sy eggenote en gesin.

Tiaan ·

‘n Absolute legende Oom Kotie rus in vrede jou stem sal gemis word op die afrikaanse komentaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.