Geliefde Lieb Bester sterf

Lieb Bester is Woensdagoggend oorlede. Hy was 72. (Foto: kykNET/Facebook)

Die geliefde veteraanakteur Lieb Bester is Woensdagoggend in die ouderdom van 72 dood.

Bester het die afgelope ruk met swak gesondheid gesukkel en is vroeër vandeesmaand weer in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy ʼn terugslag beleef het.

Ds. André Bester sê sy jonger broer is omstreeks halfses vanoggend oorlede. “Hy het rustig gegaan.

“Hy was die afgelope twee weke so ontsettend dankbaar vir alles en het aanhou sê hoe dankbaar hy is vir die lewe wat hy gehad het en dat die Here goed is vir hom,” sê Bester.

“Ek glo nie hy het gedink hy gaan sterf nie; hy het net hierdie ontsettende dankbaarheid gehad vir die dokters en die hospitaal en die mense. Hy het aanhou sê hoeveel engele daar op aarde is.”

André sê hy het rustigheid oor sy broer se dood. Lieb was sedert hul pa se dood jare gelede vir hom soos ʼn pa en hy het die afgelope paar jaar by André en sy gesin gewoon.

“Ons twee was baie na aan mekaar. Vir my was hy nie die akteur nie, hy was net my broer. Ons het gewoond geraak om hom met mense te deel en hy was só lief vir mense. Hy het ʼn ongelooflike hart gehad,” vertel André.

André sê hulle het nie Lieb se skielike dood verwag nie.

“Ons verstaan dat lewe en dood in God se hande is en die Here bepaal ons geboorte- en sterfdag. Lieb het ook daarmee groot vrede gehad. Ek is dankbaar dat hy verlos is van moontlike lyding en pyn. En saam met die hartseer, het ek regtig die wonderlikste vrede in my hart: Ek weet hy is waar hy graag wil wees, by die Here.

“Hy laat ʼn groot leemte. Ons het wonderlike herinneringe. ʼn Lewe se herinneringe.”

Die gesin se verlies word gedeel deur die duisende Suid-Afrikaners wat Lieb Bester as akteur en deesdae ook as TV-aanbieder geken het.

Lieb was veral bekend vir sy rol as “prof. Fritz” in die sepie Villa Rosa en is benoem in die kategorie sepie-akteur van die jaar in die Tempo-toekennings ʼn paar jaar gelede. Hy het ook gespeel in Agter elke man en Spoorloos, en was ʼn veldaanbieder vir die TV-program Met ʼn huppel in die stap. Lieb het daarbenewens in verskeie rolprente gespeel.

Lieb kon boonop onder meer ʼn konsertina, trekklavier en kitaar aan die brand speel.

Tientalle boodskappe van medelye het reeds ingestroom en hy is uit velerlei oorde as “legende” bestempel.

Die sanger, akteur en aktivis Steve Hofmeyr sê Lieb was sy kinderheld.

Die modeontwerper Simon Rademan het ook sy medelye met Lieb se familie betuig. “Life was so good with you in it, kind Sir”, het hy geskryf.

Die Kaapse Affodille, ʼn vroueorkes, sê Lieb was ʼn inspirasie. “Dit is ʼn groot terugslag vir die vermaaklikheidsbedryf. ʼn Legende vir ewig. U bydrae sal voorwaar onthou en gemis word.”

Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

Dirk ·

Nog n grote het geval.Jy was n legende in die vermaaklikheids bedryf Lieb.Jy gaan virseker gemis word.Sterkte aan sy familie,julle is in ons gebede..

Toy ·

Dit is so hartseer. Rus sag Lieb. My simpatie aan die familie.

Agter die skerms..... ·

My trane loop sommer net uit my own uit. Lieb jy was daai iets in almal se lewens. Ek en my ma het altyd baklei wie hou die meeste van jou maar sy het nog altyd gewenn want Steve Hofmeyer is nog altyd altyd my nommer een. Ek staan op aandag vir jou oom Lieb vir jou werk vir al die rolle wat jy vertolk het maar net omdat jy Lieb was. Amen

Fran ·

Ja, hy het ‘n dogter wat getroud is en 2 kleindogters. Hulle woon in Nieu-Seeland. Só jammer Erika!

Hein ·

Die Virus is besig om baie mense van ons af weg te vat. My broer is huidiglik baie siek van Covid. Hy het 2 dogters wat alreeds hulle ma verloor het. Die ding moet nou net klaar kry. Mens kan nie meer so aangaan nie. RIV Lieb

Elinette ·

Hy het nierprobleme gehad a.g.v. SARS-CoV-2. So baie mense sterf, nie a.g.v. die virus self nie, maar a.g.v. komplikasies nádat hulle herstel het van die infeksie.

Hein ·

Jip ek weet maar dit bly nogsteeds die Virus wat dit veroorsaak het. Al is die virus indirek die oorsaak bly dit nogsteeds die oorsaak.

Samuel ·

Lieb Bester was een van die beste akteurs in SA. Ek het groot respek vir hom gehad. Mag hy in vrede rus. Innige simpatie met sy naasbestaandes.

Casper ·

Dit is hartverskeurend.Hy ervaar geen pyn en siekte waar hy nou is nie.Sterkte aan sy familie.

Jacobus ·

Baie groot boom het geval. R I V. So baie vir so baie mense beteken.

Harley Davidson ·

Een van die leiers sal vir Ramaposa moet vra en wie gaan dit wees ?

Lorna ·

RIV ou grote
Amazing ???? mens
Alle sterkte aan family en vriende
RUS SAG

Ansie ·

RIV Lieb. Sal jou altyd onthou. Innige simpatie met sy geliefdes.

Asgat ·

Ai sit ek sommer en huil met my pa se dood en Oom Lieb…. so baie herinneringe. Rus in Vrede veilig in Gods arms en Sy Huis. My gebede vir al sy familie, vriende en almal wat se hart breek vandag.

Genis ·

Baie hartseer, groot verlies vir SA vermaaklikheid…R.I.V. Sterkte aan al die familie en friende

Magda G ·

RIV. Dit is baie hartseer maar jy is nou op n gelukkiger plek????????

Mariana ·

Nog een van ons grotes is weg. RIV Lieb. Sterkte aan sy familie. Hartseer

Hunnybee ·

Nog ‘n groot seder in ons akteurswêreld wat geval het. So hartseer. Rus in vrede, liewe Lieb!

Moedeloos ·

Agge nee so hartseer. R.I.P. ou Lieb sal jou altyd onthou.

Elinette ·

2021 word die jaar waarin baie bekendes tot sterwe kom: Ben Kruger, Shaleen Surtie-Richards en nou Lieb Bester. Hartseer, maar dit is soos die lewe maar is – jy word gebore, jy leef, jy gaan dood.

Deon ·

Rus in vrede… Baie dankie vir wat jy vir afrikaans en afrikaners beteken het.

JohanR ·

Wat ‘n besondere mens en akteur! Daar verloor ons nog ‘n groote.

Tokkel ·

Rus in vrede, ons sal jou mis op die kassie, maar jy is op die mooiste plek ooit!

Delene ·

Uitstekende Akteur en mens! Rus Sag Lieb! As ek reg onthou is hy nou met een van sy dogters herenig. Het een van sy kinders nie saam met sy ex vrou in ‘n gesinstragedie gesterf nie?

loddertjie ·

Daar sal beslis met liefde aan Lieb gedink word, groot verlies vir SA! ????

Jax ·

Ai my vriend. My hart is baie seer! Rus in vrede by Jesus se voete en by Suné. Nicole, sterkte met die groot verlies. Sterkte ook aan die res van sy familie vriende. Lieb het diep spore in baie harte getrap en so baie mense se lewens aangeraak.

Yolande ·

Dis is regtig ‘n groot verlies. Jammer om te hoor van sy afsterwe. Sterkte aan sy familie en vriende. RIV Lieb Bester

Frieda ·

Rus in Vrede jy was ‘n goeie mens en sal lank onthou word almal gaan jou mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.