Geliefde onderwyser gegroet: ‘Hy het gedoen wat hy hier moes doen’

Andri Basson en sy seun, Joshua. Foto: Verskaf

Andri Basson, ʼn jong onderwyser van Hopetown in die Noord-Kaap wat Sondag in ʼn trompop botsing op die N8 tussen Bloemfontein en Petrusburg gesterf het, sal die naweek finaal gegroet word.

Basson (28) het gesterf toe die voertuig waarin hy en sy swaer, Xander Pitchers, was reg van voor teen ʼn ander voertuig gebots het. Basson is op die toneel dood, terwyl Pitchers matige beserings opgedoen het. Na wat verneem word, het nog twee mense in die ander voertuig in die botsing gesterf.

Rouchelle (27), Basson se vrou, het Donderdag aan Maroela Media gesê haar man en broer was die naweek in Bloemfontein om na die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Australië te kyk en het Sondag weer teruggekeer huis toe. Rouchelle was saam met familie by ʼn reünie in Prieska toe sy die oproep gekry het dat Andri en Xander in ʼn ongeluk was.

“My pa was in Kimberley en hy het dadelik na die ongelukstoneel gery. Hy het ons toe van daar af gebel,” het Rouchelle gesê. Sy het gesê Xander het breuke in sy voet opgedoen en ʼn paar ligte snye en kneusplekke, maar is nie ernstig beseer nie.

Rouchelle en Andri sou op 3 Oktober vanjaar twee jaar getroud gewees het. Hulle is die ouers van ʼn ses maande oue seuntjie, Joshua. Andri was ʼn onderwyser vir gr. 10 tot 12-leerders by Hoërskool Steynville in Hopetown.

Andri, Rouchelle en Joshua Basson. Foto: Verskaf

Volgens Rouchelle voel sy asof sy ondanks die hartseer oor Andri se dood ook vrede in haar hart het. “Ek dink Andri is onmiddellik dood. Hy het nie tyd nodig gehad om sy saak reg te maak voor hy gaan nie, sy saak was klaar reg. Ek weet waar hy is en dít gee vir my berusting. Eintlik is ek jaloers op hom. Hy het net 28 jaar nodig gehad om sy doel op aarde te voltooi. Party van ons gaan dalk 90 jaar oud word sonder om ons doel te bereik, maar Andri het gedoen wat hy hier moes doen.”

Rouchelle vertel dat ʼn inwoner van Hopetown, Willie Tuck, ʼn kort huldeblyk aan Andri geskryf het ná sy dood wat hom, volgens haar, perfek opsom. “Andri was ʼn man met ʼn Jesus-hart, veral vir kinders. Op ʼn stil, rustige manier was hy ʼn geestelike reus, my ver vooruit. Hy het die volledige pakket van innerlike krag, geloof, vrede en kalmte gehad. ʼn Soliede jong man wat altyd ʼn Jesus-geur onder ons kinders versprei het,” het Tuck geskryf. “Andri Basson, ek weet vir seker dat jy nie dood is nie, maar dat jy net ʼn adresverandering gemaak het. Ek sien uit na ons weersiens.”

Afgesien van sy vrou en seun word Andri ook oorleef deur sy ouers, Rista en Riaan, en sy suster, Christa. ʼn Gedenkdiens word Saterdagoggend by die NG kerk in Hopetown gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Speedguard ·

Tragies,tragies, wat ‘n verlies vir almal ,Sterkte !

Johannes Visser ·

Sterkte aan die famile, sy ouers was my onderwysers in die tagtiger jare in Upington. Ons dink aan hulle in die tyd van hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.