Geliefde onnie sterf ‘onverwags’ in klaskamer

Francois Visser. (Foto: verskaf)

Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes is in rou gedompel nadat sy ontwerp-onderwyser onverwags in sy klaskamer oorlede is.

Francois Visser (58), wat al langer as 32 jaar skoolhou, is vroeg Maandagmiddag, vermoedelik aan ʼn hartaanval, by sy lessenaar oorlede. ʼn Ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Volgens Griselda Botha, kommunikasiebeampte by Hoërskool Parel Vallei, het ʼn matriekleerder op Visser se liggaam afgekom.

Die skool het Maandag die nuus op sy Facebook-blad gedeel en weens dié tragedie die skool Dinsdag verdaag. Leerders en personeel het weer vandag teruggekeer skool toe.

“As vakhoof van ontwerp het hy jare lank ons lewe letterlik en figuurlik ingekleur met sy pittige sêgoed, unieke planne en stille liefde,” skryf Griselda Botha, kommunikasiebeampte by dié skool, in ʼn huldeblyk.

“Sy kennis van ontwerp en kuns was van onskatbare waarde en laat ʼn groot leemte by Parel Vallei en die breë ontwerp-onderwyskringe in die Wes-Kaap.

“Hy het kreatiwiteit aangewakker en leerders die vryheid gegee om te droom. Vandag is daar vele suksesverhale van oudstudente wat ondernemings in dié veld het, alles danksy idees en die passie wat in sy klas ontstaan het.”

Volgens Botha sal baie leerders en personeel nooit die Mej. Parel Vallei-kompetisies en matriekafskeid-dekor vergeet nie. Visser het selfs die personeelkamer opgekikker en stylvol oorgedoen, sê sy.

“Ons groet meneer Kwas, soos ons hom genoem het, maar sy kleurryke stempel sal vir altyd op PV rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jessica ·

Ek groet ook meneer Kwas vanuit die Noord Wes, wat n verlies vir die skool en die samelewing…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.