Geliefde onnie sterf saam met vier honde

Marezanne Lingenfelder. Foto: Facebook.

ʼn 40-jarige Johannesburgse vrou het Saterdag saam met vier van haar geliefde honde in ʼn trompop botsing gesterf. Die bestuurder van die ander voertuig was vermoedelik onder die invloed van alkohol.

Ruan Lingenfelder, Marezanne Lingenfelder se broer, het aan Maroela Media gesê Marezanne was Saterdag op pad van Bloubosrand in Johannesburg na die Midrand-omgewing waarheen sy sou verhuis.

“Die ongeluk was baie na aan die plek waar sy sou bly.”

Ruan vertel dat die twee voertuie, sy in haar klein Mazda-motor en ʼn man wat vermoedelik onder die invloed van alkohol was in ʼn bakkie, trompop gebots het. Die man het glo in sy bakkie van die toneel gevlug.

Marezanne en vier van die vyf Australiese skaaphonde wat saam met haar in die motor was, is op slag dood.

Die vyfde hond, wat die ongeluk oorleef het, is volgens Ruan tans in die sorg van ʼn kennis van die familie.

Marezanne het in Januarie vanjaar by die St. Teresa’s School in Rosebank begin werk. Daar was sy ʼn liggaamsopvoeding-onderwyser en was ook in beheer van hokkie, tennis en swem by dié skool.

“Hoewel Marezanne nog net van Januarie af by ons was, het sy reeds in ons harte ingekruip en ons het haar reeds as ʼn vriend en geliefde kollega geag. Sy was baie geliefd onder die meisies [van die skool],” het Catherine Hamilton, hoof van die skool, in ʼn verklaring gesê.

Berading is Maandag by die skool beskikbaar gestel.

Intussen het die Kingsmead College in Melrose in Johannesburg waar Marezanne vroeër by sportafrigting betrokke was, op Facebook gesê hul is verpletter deur die tragiese nuus.

“Marezanne was ʼn sagte vrou en geliefd deur baie. Sy was ʼn passievolle atletiek- en hokkieafrigter en het ʼn verskil gemaak in baie meisies se lewens.”

Die St. Teresa’s School sal Vrydag om 11:00 ʼn gedenkdiens vir Marezanne hou in die Rooms-Katolieke kerk in Rosebank. Haar familie sal dié diens bywoon.

Volgens Ruan is Marezanne se pa vandag in Pretoria om haar liggaam uit te ken.

“Sy was baie liefdevol en het ʼn baie groot hart gehad. Sy was lief vir mense en vir haar diere, daar was altyd plek vir nog enetjie,” het Ruan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Albaster ·

Dit is baie hartseer. Dit is die skuld van n wanfunksionele metropolisie en regsisteem. Ek het self gesien hoe n man uit sy groot bakkie weggehol het nadat hy n student raakgery het. Geen regsisteem is veronderstel om so n wegholler te laat wegkom nie, duidelik wou die persoon nie getoets word vir drank nie, daarom moet aangeneem word dat die persoon dronk was.

JM ·

Simpatie met die familie, sien alweer alcohol en nie sigarette nie wat die ongeluk veroorsaak het. Sluit hom toe vir moord en geen borgtog nie

Hytie ·

Jou tyd is jou tyd. Hoekom oorleef sommige mense sulke ongelukke en ander nie.

Karen van Zyl ·

“Hytie” Ek vra myself daai vraag omtrent elke week, ek het oorleef.

Fisika ·

Bestudeer fisika en patologie dan sal jy verstaan waarom sekere mense oorleef en ander nie. Dit het niks met ‘n voorafbepaalde tyd tedoene nie.

Piet ·

Fiskika, as jy hou van die wetenskap moet jy asb nie by fisika stop nie hoor. Jy sal by n paar baie interesante vraagstukke begin vashaak. Einstein het self uit frustrasie uitgeroep ” this is a put up job” op n tyd wat hy wou bewys het dat alles in die heelal self ontwikkel het.

Theresa B ·

Nie te dronk om weg te hardloop nie. Lafaard. Nou weet almal ook wie die bakkie bestuur het. Alles SO onnodig, maar almal doen wat hulle wil mos deesdae. Baie sterkte vir haar familie en vriende. Vader help ons asseblief – gee uitkoms!!

Danie ·

Solank jy apartheid kan blameer of bloot net honger is en nooit it self verantwoordelikheid hoef te neem nie is die saak mos reg. Dan is jy mos onthef van alle blaam en is die die slagoffer se skuld.

Hierdie verskoning word deesdae deur almal gebruik. Daar is blykbaar geen beperking nie. Solank dit net nie jou skuld is nie.

Dit maak nie saak dat die antwoord op die volgende vrae EK is nie:
Wie het besluit om te alkohol drink?
Wie het besluit om met ‘n dronk lyf agter die stuur in te klim?
Wie het besluit om boonop nog van die perseel op die pad te ry?
Wie het toe onverskillig gery omdat die oordeelsvermoë nie daar is nie?
Wie het waarskynlikheid die ongeluk veroorsaak?
Wie is eintlik ‘n alkoholis?
Wie is eintlik skuldig aan moord a.g.v bogenoemde?
Wie het lafhartig die pad gevat?
Wie gaan nie verantwoordelikheid vir die ongeluk en die gevolge neem nie?
Wie gaan ander blameer?

Nix ·

Ek verstaan ook nie wat apartheid hiermee te doen het nie? Dit maak nie saak waste kleur die ongeluk veroorsaak het nie, dis nog steeds ongelooflik hartseer en onnodig.

Adam ·

Waar pas die “apartheids-tirade” by die tragiese gebeurtenis in?

Piet ·

Danie maak n wilde aanname wat snaaks genoeg geplaas word. Mens kan seker maar net noem dat korrupsie en n tekort aan geskoolde wetstoepassers ons paaie in ‘n slagveld verander het. Ek het al gesien dat iemand my amper verongeluk omdat hy nie n bakkie kan bestuur nie, maar hy het sopas sy kode 10 gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.