Geliefde oogspesialis dié week finaal gegroet

Dr. Johan van den Berg (53), die bekende oftalmoloog van Pretoria wat verlede week in ʼn trompop botsing gesterf het, sal Vrydag finaal tydens ʼn gedenkdiens gegroet word.

Adriaan van den Berg, Johan se broer, sê die gedenkdiens sal Vrydag in die 3ci-kerk in Zwavelpoort, Pretoria-Oos, plaasvind. “Daar is ʼn paar mense wat van oorsee af kom vir die diens,” het Adriaan gesê. Hy voeg by die gedenkdiens sal nie net ʼn herdenking wees nie, maar ook ʼn viering van Van den Berg se lewe.

Maroela Media het vroeër berig Van den Berg was verbonde aan die Centurion Ooghospitaal, maar het ook ʼn oogkliniek in Trichardt bedryf waar hy Vrydae pasiënte gesien het. Hy en sy drywer was Vrydag omstreeks 05:45 op pad Trichardt toe, toe hulle sowat 10 km buite Delmas teen ʼn vragmotor gebots het.

Van den Berg is op slag dood. Die drywer is beseer, maar is sedertdien weer uit die hospitaal ontslaan.

Adriaan het vroeër sy broer beskryf as “ʼn reus in die oogkundebedryf”, maar veral ʼn nederige gesinsman en passievolle Christen. “As ons hom enigsins sou wou vereer, is dit om erkenning te gee aan die nederige gesinsman wat alles van homself gegee het om soos Christus te dien en nie eer te soek nie,” het hy gesê.

Johan van den Berg en sy vrou, Carien, by hul vier dogters. (Foto: Verskaf)

Dié beskrywing is ook weerspieël in die tientalle kommentare wat op sosiale media ingestroom het ná Van den Berg se dood. Talle mense het gedeel hoe hy hulle sig herstel of andersins hul lewe ingrypend verander het deur sy toegewyde mediese behandeling. ʼn Paar mense het ook vertel hoe Van den Berg dikwels behoeftige pasiënte gratis sou behandel sonder om enigiets daarvoor terug te verwag.

“Die wêreld het ʼn pragtige siel verloor. Ons treur saam met [sy] familie. [Hy] was net een van daardie spesiale mense wat omgee met [hom] gedra het,” lui een van die kommentare. “Geen gelyke nie. My held, ons pasiënte se held. ʼn Reus wat nou hoog vlieg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Amalia ·

Sjoe nog ‘n Engel by God, ek dra sy gesin en familie op in my gebed. Mamma en sussie gan verseker hulle Pappa baie mis. so ‘n pragtige foto. Mag hulle net die mooi onthou. Sterkte aan al die familie; vriende en kollegas

christine ·

Sjoe hartseer, hartseer sterkte aan sy vrou en kinders ,familie en vriende.

Minnie Pretorius ·

Dis hartverskeurend!!!
‘n Enorme verlies vir sy gesin, vriende, kollega’s en die Mediese Beroep.
Een van die room van die bekwame manne van ons volk verloor!
Ons groet jou!
Die Pretorius Gesin

MAGDA ·

Hartseer, hartseer, hartseer. Sterke vir die familie. Johan het verskeie operasies op my oog gedoen. ‘n Groot verlies vir die mediese beroep.
MAGDA

Heidi ·

Wat ‘n groot verlies!! In 2013 het my man ‘n groot rug operasie ondergaan… Om ‘n lang storie kort te maak… Sowat 3 weke ‘n die operasie het hy sy sig verloor… Om dit te hoor wanneer jy maar net 11 maande getroud is… Was nie maklik nie

Dr Johan vd Berg is flinke optrede… Sy kennis en saam met die ander dokters se behandeling… Kan hy vandag weer sien!! Dankie Dok.. Die Here het deur jou ‘n wonderwerk gedoen!!

Maar dis nie al nie… Die hierdie einste Dokter wat my selfs na ure geskakel het om te hoor hoe dit gaan… Nie net met my man nie… Maar ook met my… Hy was ‘n Dokter duisend… Ons gaan hom voorwaar mis!!!

Guve ·

Sterkte aan Dr. Johan se familie en sy kollegas, hy was werklik uitstaande.

Alfred Kleisen ·

Dr. Johan sal ek altyd onthou as ‘n uiters kundige, vriendelike en nederige persoon wat my so mooi behandel het en my laser operasie suksesvol uitgevoer het. Ek gaan hom beslis mis en bid dat ons hemelse Vader, vertroosting mag gee aan al sy geliefdes in hierdie hartseer tyd.

Karin ·

My hart is stukkend. Jy het saam met my geglo en gebid en die Here geloof toe ek na remissie die prostese in my linkeroog gekry het en na 7 jaar blind, weer 16% kon sien. Jy het Dr Piet bygestaan en ondersteun met hierdie tricky pasiënt. Jy het my geloof en hoop gedeel. Jou plek is leeg. Maar ons harte sal alryd vol wonderlike, positiewe herinneringe bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.