Geliefde oudhoof van Oranje-meisieskool oorlede

Margaretha Lategan, oftewel ML, Spies (Foto: Hoër Meisieskool Oranje

Margaretha Lategan, oftewel ML, Spies, voormalige hoof van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, is Donderdagmiddag in die ouderdom van 106 jaar oorlede.

Spies was die enigste oorlewende oudhoof en was in ’n versorgingsoord in die Strand woonagtig. Haar gesondheid het die laaste ruk verswak.

Volgens die Hoër Meisieskool Oranje was dit Donderdag ook presies ’n jaar nadat nóg ’n geliefde oudhoof, Mariehetta Matthee, tydens ’n gedenkdiens by die skool gegroet is.

Spies het die skool van 1962-1982 (die tweede langste in die skool se geskiedenis) gelei en was altesaam 42 jaar lank ’n onderwyser aan Oranje.

Sy het in 1941 as boekhou-onnie begin en het in haar tyd as skoolhoof steeds die vakke Duits, Aardrykskunde, Geskiedenis en Drama onderrig.

Die skool het in ’n verklaring gesê Spies het drama as vak by Oranje begin, die eerste en vir lank die enigste skool in die land om dit as matriekvak aan te bied.

“Spies het ook die matriekdrag ingestel en dis in haar tyd dat nuwelinge vir die eerste twee weke met hul vorige skooldrag skool toe begin kom het, voordat hulle ingelyf word as Oranjeniete en die pampoenrok begin dra. Spies het nooit haar bande met die skool verbreek nie, die skool ook nie met haar nie.”

Die skool se sanggroep het die afgelope naweek vir Spies gaan sing toe hulle in Stellenbosch vir die interskole teen Bloemhof was. Sy het in Junie haar verjaardag gevier.

Anne-Marie Klink, skoolhoof, sê Spies se nalatenskap sal vir altyd onthou word.

“Dis met baie groot hartseer dat ons afskeid van ’n groot legende van Oranje neem. Sy het in soveel oud-Oranjes se lewe baie diep voetspore getrap – voetspore wat ons altyd sal navolg. Die meetsnoere het vir haar in lieflike plekke geval. Dankie, me. Spies.”

Volgens Klink was Spies lief vir die uitdrukking “blom waar jy geplant is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.