Geliefde oudleraar, vrou op Bethal vermoor

Dr. Hannes Beukes en sy vrou, Ibel. (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Bethal in Mpumalanga is in rou gedompel ná die dood van ʼn afgetrede dominee en sy vrou Woensdag.

Dr. Hannes Beukes (70) en sy vrou, Ibel (67), se liggame is gister in hul voertuig in ʼn veld digby die Bethal-dam op die dorp gekry. Maroela Media verneem hul liggame was in die kattebak van die voertuig. Die polisie het dit nie bevestig nie.

Beukes was jare lank die leraar van die Hervormde Kerk op die dorp. Ibel Beukes is ‘n afgetrede onderwyseres.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê die egpaar het gister (Woensdag) by hul huis vertrek om hul huiswerker in Emzinoni, ʼn nedersetting buite Bethal, te gaan aflaai, maar het nooit weer teruggekeer huis toe nie.

ʼn Verbygaande motorfietsryer het die voertuig laatmiddag in die veld opgemerk en alarm gemaak.

Volgens Hlathi het die egpaar ernstige, sigbare beserings aan hul liggame gehad. Paramedici is dadelik ontbied, maar hulle is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie het ʼn moorddossier aangelê en ʼn reusesoektog na die verdagte/s van stapel gestuur.”

In dié stadium is die motief vir die moorde nog duister. Die polisie het ook by die gemeenskap gepleit om met enige inligting vorendag te kom.

Ibel Beukes se suster het mense op Facebook vir hul ondersteuning ná die moorde bedank.

“Baie dankie vir al die boodskappe van meegevoel en ondersteuning vir die ongelooflike hartseer en onnodige moord op my suster Ibel en swaer Hannes…,” het Terna Victor Hattingh Donderdag geskryf.

Op sy beurt het die provinsiale polisiehoof die “wrede en hartelose” moorde ten sterkste veroordeel.

“Dit is werklik ontmoedigend om sake te hanteer waar sekere individue kwesbare en weerlose burgers onmenslik aanval,” het lt.genl. Mondli Zuma gesê.

“Ons het ʼn span speurders aangestel om die moordsake op te los en ek is vol vertroue dat diegene verantwoordelik binnekort agter tralies gaan wees.

“Ek wil ook my diepe medelye met die familie en vriende van die slagoffers betuig,” het Zuma gesê.

Enigiemand met inligting oor die moorde word gevra om ao. Nico Veldman by 079 396 3652 te bel. Wenke kan ook by die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Genis ·

Dis verskriklik! Hoe wreed en onsmenslik… Ons het n grootter vyand in die land as COVID – 19

Oujongvrou ·

Dit sal weer vir n selfoon of iets so belagliks wees waarvoor 2 weerlose ou mense wreedaardig vermoor is. Kan sulkes mense genoem word??

Maritha ·

Hoekom ry mense nog hul werkers aan na gebiede wat onveilig is? Laat hulle liewer loop. Dit is te gevaarlik om daar stil te hou!

Maria ·

Omdat hulle goeie mense is. Maar dit kan nie meer nie, dit mag nie!

Michael ·

Mense moet hulle luiheid stop en self hulle huiswerk begin doen.

Danny ·

Harteloos en goddeloos.. Medelye aan geliefdes en vriende. Mag die gemeenskap sy hulp aanwend in alle aspekte om die skuldiges hok te slaan.

koos10 ·

Gaan die minister van polisie en die president nou ook die gemeenskap besoek en 1000de beloftes maak?

SomeOne ·

sterkte aan almal betrokke

” “wrede en hartelose” moorde ten sterkste veroordeel” , maar daar is nie afskrik vonnise ingestel nie

Agter die skerms..... ·

Man daar is net nie woorde nie. Genis jy is reg daar is ‘n groter vyand in die land as COVID. Hoe doen mens dit net – hierdie mense het niemand niks gedoen nie – nee man regtigwaar. Kry hierdie mense net in die hande wat die moorde gepleeg het en sit hulle agter tralies onmiddellik en moet nie eens vir hulle borgtog gee of iets nie. Dis rerig erig onmenslik.

Annette ·

Dis so tragies! Wreed en onmenslik! Mag reg en geregtigheid geskied. Ek het net verlede week iemand in Emzinoni gaan aflaai omdat die goed wat sy gedra het, lomp en swaar was. Dit sal maak dat `n mens niemand meer jammer kry en help nie. Ek is verras dat eMzinoni ‘n “nedersetting” genoem word!

gatgogga ·

“In dié stadium is die motief vir die moorde nog duister.”
Ja, swaer.
Moet mens dan voorgee dat jy onnosel is, net om polities korrek te wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.