Geliefde Parys-man kritiek ná motorfietsongeluk

Sandra de Freitas en Norbert Gluchowski (Foto: Verskaf)

ʼn Man van Parys in die Vrystaat is steeds in ʼn kritieke toestand in ʼn Johannesburgse hospitaal nadat hy meer as ʼn week gelede in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was.

Norbert Gluchowski (40) het op 15 Julie ernstige beserings aan sy pelvis, knie, hande en voete opgedoen toe hy vroegaand op pad huis toe van Potchefstroom in ’n botsing betrokke was. Hy word tans in die Netcare Milpark-hospitaal behandel.

Gluchowski se vriendin, Sandra de Freitas, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê dat Gluchowski omstreeks 18:30 tussen Potchefstroom en Parys twee motors op ’n reguit pad wou verbysteek, toe die botsing plaasgevind het. Gluchowski het ‘n motor se passasierskant en kattebak-gedeelte getref.

Gluchowski moes ’n noodoperasie in Potchefstroom aan sy pelvis ondergaan voordat hy na die intensiewe eenheid van die Millpark-hospitaal oorgeplaas is. Hy het sedertdien nóg drie operasies ondergaan en is in erge pyn.

Om sake te vererger het dokters Dinsdag tydens die jongste operasie infeksie in sy been ontdek en die moontlikheid bestaan dat Gluchowski se been geamputeer sal moet word.

De Freitas sê dat die ongeluk vir haar en haar geliefde se familie as ’n groot skok gekom het aangesien Gluchowski ’n ervare en verantwoordelike motorfietsryer is. Sy het bygevoeg dat Gluchowski al sedert 1999 ’n motorfietslisensie het en haar altyd voorsê oor die belang van padveiligheid.

Sy glo dit is juis te danke aan Gluchowski se liefde vir motorfietsry en sy spesiale motorfietstoerusting dat hy vandag nog lewe. ’n Versterkte rugsak wat hy ten tyde van die ongeluk op sy rug gehad het, kon sy ruggraat tydens die ongeluk beskerm”, sê De Freitas. Sy bestempel dit as ’n wonderwerk dat hy nie erger beserings opgedoen het nie.

De Freitas sê dat hulle nog glad nie aan die pad vorentoe en rehabilitasie kon dink nie, aangesien Gluchowski se toestand van operasie tot operasie afhang. “Die volgende stap is om te wag vir die infeksie om op te klaar wat hopelik sy been kan red. Ons wag met opgehoue asem.”

Sy sê dat mediese onkoste egter nou ʼn reuse-uitdaging is ten spyte daarvan dat Gluchowski “nie nalatig was nie en sedert 2005 aan ’n hospitaalplan behoort”. Volgens De Freitas het die maatskappy by wie die plan uitgeneem is intussen die plan verander en hul nou met die maatskappy onderhandel om gedeeltelik te help met die medieste koste van byna R800 000 tot op hede.

De Freitas swoeg nou nie net om donasies in te samel nie, maar ook om dokters te oorreed om hulle tegemoet te kom met die uitgawes.

Gluchowski bedryf ’n familiesaak wat onder meer graniet-kombuisblaaie in Parys vervaardig. De Freitas sê hy is baie geliefd in sy gemeenskap. “Hy het ’n goeie hart en altyd bereid om iemand te help in die dorp. Almal is lief vir hom.”

Sy erken dat Gluchowski se gemoed swaar trek in hierdie tyd en dat hy angstig raak tydens die mediese prosedures.

Vir meer inligting oor Gluchoski se vordering en die fondsinsameling, besoek die Norbert’s Immediate Support Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos ·

Opvallend dat hulle dit nodig ag om te moet noem dat hy nie nalatig was nie en ‘n “verantwoordelike motorfietsryer”.

vissie ·

Ai verstaan tog dat al kan jy hoe goed motorfiets ry en jare n motorfiets lisensie besit, dieselfde nie van die ander padgebruikers gese kan word nie…en die motorfiets ryer altyd aan die kortste ent sal trek in n pad ongeluk.

Nadia ·

Norbert, ons bid en dink aan jou en vertrou dat alles goed sal gaan en dat jy spoedig sal herstel en dat God sy hand oor jou sal hou. Ons almal hier in Parys het jou in ons gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.