Geliefde pastoor dood gevind

Martin Beneke. Foto: Facebook

ʼn Geliefde pastoor van Johannesburg is Maandagaand dood aangetref nadat hy die oggend by die polisie as vermis aangemeld is.

Martin Beneke (45), stigter en senior pastoor van die Life in Christ Network in Roodepoort, het Maandagoggend vermis geraak nadat hy ʼn geleentheid by sy matriekdogter se skool in Parktown bygewoon het.

Karel Beneke, Martin se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê Martin het sy broer, Hein, Maandagoggend laat weet dat hy hom ʼn bietjie later sou sien as wat hulle afgespreek het, aangesien hy ʼn bietjie langer by die skoolgeleentheid wou bly. Later het Martin se vrou, Michelle, vir Hein gebel om te vra of hy Martin gesien het. Kort daarna het Martin se dogter, Carla, ook geskakel om te vra waar Martin is.

“Kort daarna het ons ʼn WhatsApp-boodskap van Martin se selfoon gekry. Hy het in die boodskap gesê hy is gekaap en ons moet sy selfoonsein naspoor,” het Karel gesê. Hy het gesê die familie het onmiddellik die polisie in kennis gestel en ʼn vermistepersoonsaak is geopen. Hulle het daarna onmiddellik na Martin begin soek.

“Ons kon vasstel dat sy voertuig deur ʼn e-tolhek tussen 14de Laan en Malibongwe-rylaan gegaan het. Kort daarna het ons sy selfoon se sein in Cosmo City opgetel. Ons het dadelik gery na die plek waar die selfoonsein nagespoor is, maar ons het niks daar gevind nie.” Karel het gesê hulle is later, toe dit al begin donker word, vir ʼn tweede keer na ʼn oop veld in Cosmo City waar Karel se selfoonsein nagespoor is, maar weer kon hulle niks vind nie.

Kort daarna het hulle ʼn oproep van ʼn polisiebeampte gekry wat hulle ingelig het dat Martin se voertuig en sy liggaam op ʼn plaas in die Magaliesburg-omgewing gevind is. “Dit blyk dat Martin vroeër die dag gekaap is en op die agtersitplek van sy voertuig vasgemaak is. Ons vermoed hy was daar in staat om vir ons ʼn boodskap te stuur,” het Karel gesê.

“Die kapers wou vermoedelik geld by hom gehad het en toe hy dit nie vir hulle kon gee nie het hulle nou maar seker besluit hulle het genoeg van hom gehad. Hulle het hom toe uitgeneem op ʼn grondpad tussen Magaliesburg en Carletonville.”

Karel het gesê ʼn vrou wat op ʼn plaas in dié gebied woon het glo die middag Martin se voertuig opgemerk toe dit verby haar gery het met twee wit persone voor in die voertuig. Die vrou het glo haar kinders op ʼn nabygeleë plaas gaan oplaai toe haar buurvrou haar gebel het om haar in kennis te stel dat iets op haar plaas brand. Die vrou het huis toe gejaag en daar op Martin se brandende voertuig afgekom.

Volgens Karel is Martin se liggaam langs die voertuig gevind met sy hande op sy bors vasgebind. Sy liggaam was erg verkool en die voertuig was totaal deur die vlamme verwoes. Martin se liggaam is Dinsdag na Roodepoort geneem waar sy familie hom uitgeken het.

Sers. Mpho More, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Intussen is talle boodskappe op sosiale media gedeel waarin mense hul skok en hartseer oor Martin se dood uitspreek. Martin was tien jaar lank ʼn pastoor by die AGS voordat hy die afgelope twee jaar ʼn pastoor by Life in Christ Network was.

“Ek dink [die boodskappe op] Facebook vertel jou die hele storie van wie Martin was,” het Karel gesê. “Hy was baie gewild en mense het hom verskriklik geniet. Hy was ʼn ernstige mens wat steeds ʼn sprankelende humorsin gehad. Met groot respek gesê, sy kollegas wat my vandag gebel het, het soos kinders gehuil. Hy was baie geliefd,” het Karel gesê.

Martin word oorleef deur sy ouers, Karel en Elaine, sy vrou, Michelle, sy broer, Hein, sy susters, Elaine en Barbara, en sy twee dogters, Carla en Chenique.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

MissDemeanor ·

Dit is verskriklik. Hoop die skuldiges word opgespoor en swaar gestraf.

Marianne ·

So jammer vir sy familie wat agterbly met die groot hartseer. My grootste hartsbegeerte is dat hierdie misdade en geweld moet einde kry. Genoeg is genoeg.

Elsa ·

Vader ons vra U Beskerming oor die hele familie dat geen onheil naby aan hulle sal kom na hierdie gebeure nie, dankie vir U Genade Hand oor elkeen , ons skuil by U , U is ons krag en U is steeds die Goeie Herder…. ‘n Bloedsirkel om die familie vandag en dae wat volg is ons gebed dankie vir wysheid in hierdie saak….

Jolene ·

Nee, ek kan nie meer nie! Ek wil huil, skree, vloek, wegkruip, mense sommer seer maak! Ek is so jammer! Jammer aan elke persoon wat iemand verloor het. Ek kan net dink hoe (ek kan dit nie help nie) hoe daai arme man moes gevoel het! Ek huil, kriup weg in my huis. Is heeltemal “paranoid” oor my 16 jarige seun se veiligheid. Hy loop nou 3 strate op na die bus toe.

“Liewe Here, asseblief hou U beskermde hand oor elke man, vrou en kind. Almal wat hartseer en bang is. Laat hulle veilig voel. Maak ons harte weer heel. Of kom asseblief vinnig, ons kan nie meer so aan gaan nie!”
Amen.

Ogies ·

Ek stem saam Jolene mens kruip weg in jou eie huis, maar jou eie huis is ook nie meer veilig nie, jy stap winkel toe en jy is in gevaar, jou kinders is nie meer veilig in die skool nie, nie by virende of familie nie, hulle is nie meer veilig by malls nie. Wat gaan van ons word?????? En wanneer sien die regeering daar is baie belangriker probleme as hulle.

Hannelie ·

Baie dankie Jolene. Ek dink ons voel almal soos jy. Sterkte aan die familie.

Ogies ·

Ons land is besig om uit tyd te hardloop, mense word vermoor vir hulle besittings. Hoe kaap jy ‘n kar en dan as jy niks meer kan kry nie brand die motor en die persoon. Watse mense (diere) doen sulke goed? Wie is in staat om sulke goed te doen aan jou medemens. Ek verstaan net nie hoekom moor jy hoekom vat jy nie net en gaan nie. Ons land is nie meer veilig vir ‘n geruime tyd nie maar waarnatoe gaan ‘n mens??????? God net U kan ons red en U kan ons help

WIEBO ·

n Mens sou dink dat n man van God beskerm sal wees van gevare ens. Kan die Here nie na Sy mense omsien nie. Hy was n pastoor………………… Alle sterkte aan die familie! Mens kan nou ook nie vir God sterkte vra nie, Hy het dit moes laat gebeur.

Sjandre ·

God het al in sy woorde gesê mens moet hom nie op die proef stel nie. Geloof in god is sleutel tot die ewige lewe.

Ons broer is van ons ontneem deur die duiwel en sy boose magte, maar saam moet ons Staan my hart is seer maar god laat alles gebeur vir n grooter rede wat Ek en jy nie nou sal verstaan nie, maar wag hy wat was, wat is en weer sal wees kom kom en dan sal ons verstaan. My simpatie en mee gevoel aan die familie en veral die kinders. Weet net papa is nou veilig en hy is met god! Onthou hom vir wie hy was en nie vir hoe hy ons na gelaat het nie. God is groot en say sy wil sal geskiet! Hul gaan die skudiges vas trek en God sal sy oordeel oor hul sprees!

John ·

Nie God of Satan het dit gedoen nie, mense het dit gedoen. Mense wat die gawe gegee was om vir hulself te dink en te doen.

Baie sterkte aan die familie. ·

Baie sterkte, so ‘n daad is vir ons as mense ongelooflik om te begryp, maar God het ‘n raadsplan met alles, en Hy is tenvolle in beheer.
WEIBO, om ‘n pastoor te wees vrywaar jou nie van gevaar nie, maar kan jou wel in gevaar plaas. Dit is jou reaksie daarop wat as voorbeeld vir andere moet stel. Van al die 12 apostels het net 1 nie geweldadig gesterf nie, dit moet as voorbeeld vir ons dien. God kan enige een van ons enige tyd na Hom roep.

bertie ·

NEE GOD HET DIT NIE LAAT GEBEUR NIE ONS GOD IS LIEFDE ONS VEG MET DEMONE DAAR BUITE ONS VADER HET GESE LAAT SON SKYN OOR GOED EN SLEG EK SAL KOM EN DIE KAF VAN DIE KORING SKEI DIS TYD LAAT ONS TERUG DRAAI NA GOD DAN SAL HY VIR ONS N VADER WEES EN ONS SY KINDERS

Ouma ·

Nêrens in die Bybel staan daar dat as jy ‘n gelowige is nét goeie dinge met jou gaan gebeur nie. Inteendeel. Die duiwel slyp sy tande vir jou. Maar ek glo hierdie gelowige man het nog in sy sterwens oomblike nog vir sy moordenaars gebid. Ons land is in ‘n toestand. maar gaan lees maar die profete. Die eindtyd kom stadig maar seker naby. Soveel boosheid dwarsdeur die wêreld, natuurrampe het ons nog nooit gesien nie!

Stoute ogies ·

Ek kry skoon hoendervleis net om die artikel te lees. Dit is vreeslik hoe ‘n mense se lewe so vinnig kortgeknip kan word. Baie sterkte aan vriende, familie en gemeentelede wat van so ‘n besonderse man moet afskeid neem. Veral sterkte aan sy matriekdogter wat pas haar eind-eksamen begin het – dit kan nie vir haar maklik wees nie. Liefde in oorvloed vir al die agtergeblewenis. Ons dra jul op in ons gebede.

Jaycee ·

Misdaad is besig om ons land uitmekaar te skeur. Elke dag moet ons van nuwe gevalle hoor en lees van iemand wat op ‘n wreedaardige wyse vermoor is. [My kommentaar is nie op enige rassegroep gerig nie]. Dit is die werk van waansinniges en dis my innige oortuiging dat die skuldiges van sulke dade op ‘n erge manier, soos die teregstelling in die openbaar, gestraf moet word. [En moenie vir my sê die wraak kom ons nie toe nie; dit gaan hier om handhawing van reg en orde in die samelewing en het niks met geloof of veroordeling van ander se geloofsoortuigings te doen nie; laasgenoemde sal God self oordeel, los dit vir Hom].

Alida ·

Die man is doodgemaak. Die details rondom die afskuwelike daad is nie nou belanglik nie.

Verstom ·

Wat ‘n afgryslike manier om te sterf. Ag Here, ek bid maar net dat hy klaar dood was toe die motor aan die brand gesteek is. Ek kan my nie indink hoekom soiets kon gebeur het nie. Mag God met ons almal wees.

Leahim ·

Dankie goeie beskrywing van die verdagtes nou kan die mense in die omgewing uitkyk vir die verdagte wit persone.

Thomas ·

So jammer! Sterkte aan die familie. Die Nuwe Suid-Afrika is nou die woonplek van moordenaars, waansinniges en dwase!

Alida ·

Martin het ‘n hart gehad vir die verlore wereld en spesifiek mans wat struikel met die uitdagings van die lewe en dwelms (troubled youths). Dit is hartseer dat hy sy lewe moes verloor aan die hand van die tiepe mens vir wie hy die meeste kompassie getoon het deur sy lewe. Die Here Jesus is nog nie klaar met daardie mans nie. Ek glo hy (Martin) het hulle pad gekruis om hulle te help maar hulle het gekies om op die donker stem te reageer. Johannes 10:10 “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek (Jesus) het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan he. “

Gideon ·

Daar is meer aan die die storie. Daar is fotos by n Total garage geneem waar hy saam met twee persone is. Dit was dan mense wat hy geken het.

Maans ·

Daar is baie aspekte van die storie wat nie sin maak nie, waarom n bakkie hi-jack en dit aan die brand steek. Hier is meer as wat die oog sien. Was meer as hi-jacking wat skeefgeloop het, klink meer na n “hit”

Dirk01 ·

Stem nogal saam die is nie n kaping nie .Wraak moord geld betrokke…..ek dink die polisie het reeds n goeie idee as ek na die informasie kyk

Ian ·

Stem saam met Maans en Gideon en sien ook my kommentaar van 24 uur gelede hierbo. Gaan kyk ook na beskrywing van die Persone wat die Bakkie op die grondpad bestuur het en sit 2 en 2 bymekaar. Vir baie mense gaan dit n skok wees , maar die Pastoor was dalk nie die mens wie almal gedink het hy is nie – voete van klei ???????. Gerugte wil dit ook he dat SAPS is nie 100 % seker dat gebrande Lyk die van die Pastoor is nie – vergelyk dit met die opspraakwekende Krugersdorp moorde verlede jaar , waar een van die Verdagtes twee jaar gelede by Petrus Steyn “doodgebrand” het in sy voertuig en toe later weer springlewend sy opwagting gemaak het. Verwerk hierdie goed en verstaan dan hoekom Maans en Gideon vraagtekens het.

Maans ·

Dirk en Ian is nogal in die kol, hier is meer sensitiewe inligting waarvan die man op die straat nie bewus is nie. Dit is hartseer wat met Martin gebeur het en almal se innige meegevoel met sy ouers, broer vrou en twee kinders. Wat die koerante skets is baie verwyder vanaf die werklikheid. Martin was meer as net n Pastoor, inteendeel was hy betrokke by transaksies van miljoene rande met verskeie prominente motorhandelaars reg oor Suid Afrika. Ek glo dat dit verseker nie n kaping is wat skeef geloop het nie.

Vergelding kom die Here toe ·

God het Sy dissipels & satan het sy dissipels

Hierdie is die werk van satan se demoon besete volgelinge

Hoekom laat God so-iets toe?? . . . eenvoudige verduideliking. . .

God se heel hoogste waardesisteem is LIEFDE . . . liefde spruit voort uit ʼn VRYE WIL se onvoorwaardelike oorgawe.
As God ʼn liefdes verhouding met ons wil hê . . . dan moet hy ons ʼn VRYE WIL gee.

Sonder VRYE WIL kan ʼn liefdes verhouding . . . of die Christen se primêre eienskap . . . DIE LIEFDE; nie bestaan nie.

Party mense gebruik dié vryheid om vir satan & alles waarvoor hy staan, te kies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.