Geliefde Pta-egpaar sterf ure ná mekaar

Johan en Tiena Jansen. Foto: Verskaf

Johan en Tiena Jansen. Foto: Verskaf

“Hulle het die pad 40 jaar saamgestap. Nie eens die dood kon hulle skei nie. Hulle het hand-aan-hand die Hemel se poorte ingestap.” Só sê Tiena Ericksen, die dogter van die vriendelike slaghuiseienaars, Johan en Tiena Jansen van Kameeldrift in die noorde van Pretoria, wat albei verlede week skielik op dieselfde dag weens natuurlike oorsake gesterf het.

Die Jansen-egpaar het in 2007 die Drift-slaghuis saam met hul dogter en skoonseun, Craig Ericksen, begin en was bekendes wat die gemeenskap met vriendelikheid en bereidwilligheid bedien het.

Johan (63) is voorverlede Vrydag in die hoësorgeenheid van die 1 Militêre Hospitaal opgeneem met ʼn bloeiende maagseer en Tiena (59) is Dinsdag in dieselfde hospitaal opgeneem weens gevorderde longkanker.

Die egpaar is albei Woensdag oorlede. Tiena is omstreeks 08:15 dood en Johan om 18:00.

Ericksen het Maandag aan Maroela Media gesê albei haar ouers het sterk persoonlikhede gehad en het baie vir hul vier kinders opgeoffer. “My pa kom uit ʼn militêre agtergrond en was ʼn perfeksionis en baie goeie sakeman. My ma was ook ʼn perfeksionis en was ook baie sentimenteel. Sy was lief vir oudhede en was  ʼn ware familiemens.”

Ericksen het in  ʼn onderhoud aan Marelize Maré van Radio Pretoria gesê albei ouers se dood is moeilik vir die familie om te verwerk, maar hulle vind berusting in die feit dat hulle “saam gegaan” het…

Die egpaar laat hul vier kinders en agt kleinkinders agter. Hul roudiens is Dinsdag om 11:00 uit die Hervormde Kerk Kameeldrift-Oos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lise ·

Rus in vrede, mnr en mev Jansen. My innige simpatie aan die familie wat agterbly en baie sterkte vir die pad vorentoe.

SNEL ·

Sjoe, vreeslik erg om jou ma en pa op een dag te moet verloor. Baie sterkte aan die kinders en familie.

connie ·

Dit was 2 wonderlike mense wat ek geken het, altyd met n grappie of n dingetjie te se as kliente instap. Ons gaan jul baie mis. Baie sterkte aan die kinders, kleinkinders en familie jul is in ons gebede, vertrou op die Here om jul op die pad te lei na berusting.

Theresa ·

Dit is baie hartseer vir diè wat agterbly, maar kyk nou net hoe wonderlik genadig is die Here vir julle. Daar het julle ook sommer julle vertroosting en berusting gekry dat hulle so lief was vir mekaar en nogsteeds saam is. Baie sterkte vir julle, maar hulle 2 is op die wonderlikste plek en baie gelukkig nou sonder seer en enige pyn.

Eileen ·

God is groot! Vir jare het ek gedink aan die dag wat ek my ma moet groet, en weer by dieselfde graf moet staan waar ons my pa begrawe het – die pyn is iets verskrikliks, maar wil ek gaan en sê in die geval is dit over & done with – die kinders hoefnie daai beklemming om hul harte te kry met die wete dat hulle eendag hul ander ouer ook moet begrawe nie! Sterkte aan die gesin.

magriet ·

my simpatie aan die gesin, en my blydskap dat hulle saam kon gaan. hoe gelukkig was hulle nie

anon ·

eileen dis hartseer my ouers 40 jaar getroud di jaar hul my beste vriende al bly ek ver van hulle mis ek hul elke dag my pa word nou 63 en my ma 57 daars die dae wat ek wens ek was nog n kind in di huis hul word jonk gehoor deur di klompie kleinkinders sterkte aan die familie

J.A. van Niekerk ·

My Oupa en Ouma is 3 ure namekaar oorlede. Oupa eerste om 08h00 en Ouma om 11h00. Natuurlike oorsake

Christa de Klerk ·

Sterkte aan di familie. Mag God julle vertroos in di moeilike tyd. Dink aan julle

Tiena Ericksen ·

Dankie aan almal se omgee en vertroostende woorde! Ons mis ons ouers vreeslik baie. As ek terug dink aan my pa dan dink ek aan al die wonderlike dinge wat ons aan gepak het. As ek dink aan my ma, dan dink ek aan alles wat ons nog “moes” doen. Ek is baie bly hul seer is verby en dat hulle saam is, maar nog steeds wens ek ons was nog saam. Tiena Ericksen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.