Geliefde radioman kry tweede kankerskok

Ian saam met sy verloofde, Stacey, en hul seun, Tristan. (Foto: Verskaf)

Die geliefde Kaapstadse radio-aanbieder Ian Ward (42) is gediagnoseer met fase 3B-longkanker.

Ward, wat die afgelope 20 jaar al deel is van die radiogemeenskap, het as ʼn jong aanbieder by UCT Radio begin. Hy het daarna ook ʼn bekende stem op Good Hope FM en Heart FM geword. Ward is ook die stigter van Clicks Live, die radiostasie wat in Clicks-winkels landwyd speel.

Ward het vyf jaar gelede die nuus ontvang dat hy kolonkanker het, maar ná chirurgie en uitgebreide chemoterapie was die kanker in remissie. Hy het steeds gereelde bloedtoetse en x-strale laat doen om seker te maak die kanker kom nie terug nie.

Maar in ʼn roetine-ondersoek verlede maand het dokters onreëlmatighede waargeneem, waarna ʼn gewas in Ward se hart en linkerlong opgemerk is. ʼn Brongoskopie is ʼn week later gedoen, wat gewys het dat hy fase 3B-longkanker het. Ward begin Donderdag 8 November weer met chemoterapie by die Tygerberg-hospitaal.

Die nuus van Ward se diagnose was veral moeilik vir sy verloofde, Stacey Robertson (31), en hul agtjarige seun, Tristan, om te aanvaar.

Ian saam met sy seun, Tristan (Foto: Facebook)

Ward het nie ʼn mediese fonds nie en moet nou sy mediese koste, wat chemoterapie en bestraling insluit, self hanteer.

ʼn Skarefinansieringsfonds is intussen vir Ward se kankerbehandeling gestig en het tot dusver R25 794,91 van die R150 000-teiken ingesamel.

“Ek was baie verras deur die veldtog om vir my geld in te samel, maar waardeer dit ongelooflik baie. Ek is nie die soort mens wat hulp sal vra nie. Die gevoel van geliefd wees deur mense wat ek ken en wat ek nie ken nie, is onwerklik,” het Ward gesê.

“Ek het boodskappe ontvang van mense wat ek nog nooit ontmoet het nie, maar wat oor die afgelope twee dekades na my oor die radio geluister het, wat vir my boodskappe van hoop en bemoediging stuur. Ek is ook oneindig dankbaar vir my ondersteuningsnetwerke by die huis, veral Stacey, wat my bystaan en daar bly staan deur die tweede ronde van kanker.

“Ek gaan nie jok nie, dis moeilik om te weet dat ek ʼn (sogenaamde) ongeneeslike gewas het, maar ek is baie positief dat ek, met God se hulp, en die aanhoudende ondersteuning van mense oor die hele wêreld, hierdie stryd kan oorkom. Ek verwag ʼn tweede wonderwerk,” het hy gesê.

Om ʼn skenking vir Ward se mediese koste te maak, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Geloof ·

Hy sal genees word sy geloof is in ons skepper en hemel se Vader wat leiding gee.

Positief ·

Kyk dalk of jul nie kanker dekking het met jul polisse nie – ek self het vergeet daarvan tot my makelaar my ingelig het daarvan, het my baie gehelp. Baie sterkte en bly positief, dinge werk altyd uit op ‘n manier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.