Geliefde renoster gestroop

UBhetyan-O-Africa se Ubhet en Yane. (Foto: Verskaf)

Die wildsplaas en rehabilitasiesentrum UBhetyan-O-Africa in Mpumalanga se enigste renosterbul is gestroop. Dít nadat dié geliefde renoster wonderbaarlik herstel het nadat hy in 2015 óók deur stropers geskiet is.

Ubhet (18) se karkas is Dinsdag op die plaas naby Middelburg aangetref nadat hy Saterdag drie keer deur stropers geskiet is.

“Een skoot in die boud, een in die nek wat sy rug afgeskiet het en een in die kop,” vertel Deon Cornelius, eienaar van UBhetyan-O-Africa.

Ubhet se horing is ook verwyder.

Daar word in dié stadium vermoed dat die stropers te voet op die plaas toegeslaan het. “Dit is slim manne hierdie. Hulle weet hoe om te stroop,” sê Cornelius.

Volgens Cornelius was Ubhet nog ongedeerd toe hy Saterdagoggend patrollie op die plaas gery het. Ubhet is egter nie ná die naweek gewaar nie en Cornelius het sy span aangesê om na die renosterbul te soek. Die gru-vonds is Dinsdagoggend gemaak.

“Dit vang my nou eers,” vertel Cornelius aan Maroela Media.

Ubhet was UBhetyan-O-Africa se heel eerste renoster. Dié renosterbul was drie jaar oud toe hy in 2006 op die plaas aangekom het. ’n Renosterkoei, Yane, is twee maande later bygekry en dié twee het die plaasnaam UBhetyan-O-Africa geïnspireer. Dit beteken “renosters in Afrika” in Zoeloe.

Die renosterbul Ubhet. (Foto: Verskaf)

“Ek het nog die foto’s van [Ubhet] se eerste spore op die plaas… Hy het [sedertdien] diep spore in ons harte getrap.”

Cornelius vertel dat Ubhet ’n skoot oorleef het toe stropers in 2015 op UBhetyan-O-Africa toegeslaan het. ’n Dragtige renosterkoei en verskalf is destyds gestroop hoewel Ubhet deurgetrek het. Die mediese koste het egter R300 000 beloop.

Volgens Cornelius kos dit die veiligheid van een renoster per maand sowat R10 000.

“Jy probeer jou bes om hulle so veilig as moontlik te hou.”

Ubhet het voor sy dood ses renosterkalwers geproduseer.

“Ons het nou generasies verloor. Hy kon nog talle koeie gedek het in sy leeftyd,” vertel Cornelius nadat hy sy enigste renosterbul kwyt is. Hy sal nou inderhaas ’n nuwe renosterbul moet aankoop aangesien die renosterkoeie binnekort gedek moet word – dit is om te verhoed dat hy weens stropers ’n hele teëlseisoen verloor.

’n Fondsinsamelingsete word Sondag ter ere van Ubhet gehou om fondse in te samel sodat ’n gedenkbeeld opgerig kan word op die plek waar dié geliefde renoster inmekaargesak het.

Besoek UBhetyan-O-Africa se Facebookblad vir meer inligting oor die fondsinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janee ·

Ag fliptog!!!! Sal dit dan nooit tot ‘n einde kan kom nie? Al dier waarvoor daardie manne omgee is die panda….verder is alles medikasie of kos.

Snowball ·

So mooi, om so verinneweer te word vir die belaglike bygelowe van ‘n ander volksvreemde kultuur. So sal Afrika se laaste……(en jy kan maar self invul : leeu, donkie, renoster, silwerrug, olifant, ietermagog, perlemoen, haai) tot niet gaan om siek idees en bygelowe te bevredig. My siel sukkel om hierdie lot as beskaafde mense te beskou.

DEON ·

Dit is dieselfde mense wat laas jaar sleeping with the rhinos gedoen het se bul wat afgemaai is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.