Geliefde rugbyman sterf

Arthob Petersen.

Die gemeenskap van die Paarl, maar ook die rugbygemeenskap, is in rou gedompel nadat Covid-19 die lewe geëis het van die geliefde sportadministrateur Arthob Petersen, in sy Paarlse tuisgemeenskap bekend as oom Zoy.

Petersen het jare lank in die Paarl skoolgehou en het met sy geduld, vakkennis en geloof in die vermoëns van sy leerders aan baie van hulle die selfvertroue gegee om uit te styg bo werklik uitdagende omstandighede.

Onderwys, opvoeding en opheffing was ʼn lewenslange passie waarvoor Petersen sekerlik die beste in die Boland onthou sal word, maar buite die Drakenstein en weg van Dal Josafat se berge is dit as sportadministrateur, en spesifiek as spanbestuurder van die Springbok-rugbyspan, dat sy spore die aardbol vol lê.

Petersen was ʼn beginselvaste en sagsinnige man in die dae van omstredenheid gedurende die laat 1990’s toe dr. Louis Luyt president van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie was, en pres. Nelson Mandela staatshoof.

In daardie dae was die unies noord van die Sandrivier (Noord-Vrystaat se Perswiele en al die unies van die ou Transvaal) gewoonlik aan Luyt se kant en die suidelike unies (Vrystaat, KwaZulu-Natal en die unies van die ou Kaapprovinsie) meer krities teenoor Luyt.

Hoewel Petersen, met die Bolandse Rugby-unie as sy standplaas, baie beslis teen Luyt se manier van doen was, het hy dit telkens met soveel ordentlikheid gedoen dat sy goeie verhoudinge alkant behoue gebly het.

Petersen was spanbestuurder van die Springbokke onder die afrigting van Carel du Plessis, Nick Mallett, Jake White en Peter de Villiers.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.