Geliefde sakeman sterf in fratsongeluk

Paul Oosthuizen. Foto: Verskaf

ʼn Sakeman van Polokwane in Limpopo is dood toe hy homself vandeesweek per ongeluk met ʼn jaggeweer geskiet het.

Paul Oosthuizen (57), die eienaar van Zenpro Motors in Polokwane, was Maandag besig om sy vuurwapens by sy huis skoon te maak toe die tragiese voorval plaasgevind het.

Jan-Carel Oosthuizen, Paul se seun, het aan Maroela Media gesê die familie sukkel nog om sy pa se skielike dood te verwerk. “Dit is iets wat net so skielik gebeur het. Dit is werklik net ʼn verskriklike fratsongeluk,” het hy gesê.

Volgens Jan-Carel was sy pa ʼn kranige jagter en was hy goed vertroud en altyd versigtig met vuurwapens.

Hy het gesê sy pa was besig om sy vuurwapens skoon te maak omdat hy binnekort saam met vriende sou gaan jag. “Ons dink hy het die een geweer skoongemaak en teruggesit in die kluis, en toe ʼn tweede geweer uitgehaal toe die skoot afgegaan het. Die koeël het hom aan die linkerkant van sy bors getref en is weer agter by sy skouerblad uit.”

Volgens Jan-Carel vermoed die familie sy pa het probeer om badkamer toe te loop om die bloeding te stop, maar kon net ʼn paar treë gee voordat hy in die gang inmekaargesak het. Oosthuizen se vrou, Rienie, was nie ten tyde van die voorval tuis nie, omdat sy gaan stap het. Toe sy later tuis kom, het sy haar man in die gang aangetref.

“Sy het na die bure gehardloop en gevra dat hulle kom help. ʼn Dokter wat my pa goed geken het, het ook dadelik gekom, maar toe hy daar kom het hy gesê my pa is reeds oorlede.”

Jan-Carel is Oosthuizen en Rienie se enigste kind. Die egpaar het ook ʼn skoondogter, Melissa. “Ons het net verlede week vir my pa vertel hy gaan in Oktober oupa word,” sê Jan-Carel.

Oosthuizen en Rienie was 34 jaar lank getroud. “My ma is maar baie hartseer. Dit gaan al beter, maar sy kry nog oomblikke wat sy net begin huil. Sy bly vir nou eers by my en my vrou in die huis sodat ons haar kan ondersteun,” sê Jan-Carel.

Oosthuizen het in 1991 Zenpro Motors begin en saam met Jan-Carel en Rienie in die onderneming gewerk. “Hy was een van die beste mense wat ek ooit geken het,” sê Jan-Carel.

“Hy kon regtig met enigiemand van enige ouderdom praat. Hy was soos ʼn tweede pa vir my vriende en het dit geniet om saam met die jong manne te kuier. Hy was mal oor jag en visvang en lief vir die buitelug – hy sou enige tyd eerder tyd op ʼn plaas deurbring as om by die see te gaan vakansie hou. Ons sal hom altyd onthou vir sy groot hart.”

Oosthuizen word Dinsdag om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Suid in McDonaldstraat begrawe.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan van der Walt ·

Dis altyd tragies as so iets gebeur. Toe ek ʼn dienspligtige was, het ek twee voorvalle op die grens beleef waar ouens tydens geweerskoonmaak ʼn skoot laat afgaan het, een was gelukkig om net ʼn gat in die tent se dak te skiet, die ander voorval het die persoon homself raak geskiet, maar gelukkig dit oorleef.

Twee goue reëls: moet nooit ʼn vuurwapen laai (patroon in die loop) en jou vinger op die sneller hou, mits jy op die punt is om die wapen af te vuur nie.

Marius Serfontein ·

Enorme verlies. Die soort mens wat ‘n blywende indruk maak en een van die mees aangename, hulpvaardige en beginselvasste mense wat ek ken. Altyd bereid om te help met raad en daad. Mooi loop Paul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.