Geliefde seun sterf onder vragmotor

Willie van Wyk het sy eie rekenaarbesigheid in Mokopane gehad (Foto: Verskaf)

“Geen ouer wil ooit só ʼn oproep ontvang nie.”

Jannie van Wyk van Mokopane, Limpopo, sê sy grootste vrees is bewaarheid toe hy Maandagmiddag ’n oproep ontvang het dat sy seun, Willie van Wyk, in ’n motorongeluk dood is.

Van Wyk (33) was Maandag met sy BMW in ʼn in ’n ongeluk betrokke met ʼn vragmotor wat houtpalette vervoer het. Die ongeluk het op die R101, sowat 40 km buite Polokwane plaasgevind.

By paramedici van ER24 se aankoms op die toneel het hulle Van Wyk se motor vasgekeer onder die vragmotor aangetref.

Van Wyk is op die toneel dood verklaar. Hy was die enigste persoon in die motor.

“Volgens inligting het die vragmotor stilgestaan in die pad. Willie kon hom dalk met die stilstaande vragmotor misgis het. Maar wat daar gebeur het, weet niemand nie,” vertel Jannie.

Jannie sê hy het net na 12:00 ’n oproep ontvang dat Willie moontlik in ’n ongeluk was.

“Die persoon wat my gebel het, het Willie se registrasienommer vir my gelees en ek het dadelik geweet dit is my kind. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.”

Volgens Jannie het Willie die dag Polokwane toe gery om voorraad op te tel vir Careta Consultants, sy rekenaarbesigheid in Mokopane.

“Willie het altyd die N1 gevat na Polokwane en nooit die ou pad (R101) gery nie. Ek verstaan nie waarom hy daardie dag nou spesifiek die ou pad gery het nie.”

Volgens Jannie was Willie ’n harde werker, stiptelik en ook ’n perfeksionis.

“Die meenthuis waar hy gebly het, was altyd netjies. Selfs die klere in sy kas was volgens kleure sorteer. As hy by ons op die plaas kom kuier het, sou hy kort daarna sy kar laat was, want hy het nie daarvan gehou as sy kar vol stof is nie.”

Jannie sê sy seun was baie vriendelik en het altyd gelag. “Hy het ’n aansteeklike lag gehad. Hy was ook ’n pleaser en het mense gou jammer gekry. Hy het ’n hart van goud gehad.”

Willie word oorleef deur sy ouers, Jannie en Ralie, twee broers, Jannie (30) en Koos (40), en ʼn suster, Elaine (42). Elaine woon in Nieu-Seeland.

’n Roudiens vir Willie vind Vrydag om 11:00 in die Hervormde Kerk op Mokopane plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marlz Johnston ·

Sterkte Jannie en Ralie. Mag jul Vrede van Bo ontvang

Tino ·

Dit is baie erg. Hoekom het die vragmotor stil gestaan op die pad?

Daai drywer moes afgetrek het maar dis mos lekker hier in afrika, hoeveel ongelukke gebeur nie so nie

JohanR ·

Ek dink die nuwe pad reel in SA is dat solank jy jou hazards aansit kan jy ENIGE plek stop.

Linx ·

Niemand weet hou die ongeluk gebeur het nie,maar dit kom voor j weet,j moet dalk n verklaring gaan aflé

Carine ·

Dis verskriklik hartseer en ek dra Schantel en haar kinders in my gebede. Willie was bitter lief vir hulle dit sy eie kinders genoem. RIV Willie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.