Geliefde skoolvrou sterf van varkgriep in Pta

Sandra la Grange. Foto: Verskaf

ʼn Jare lange skoolvrou van Mpumalanga wat onlangs na Pretoria verhuis en na kleuters omgesien het, is Sondag in ʼn Pretoriase hospitaal weens varkgriep oorlede nadat sy drie weke gelede begin siek word het.

Sandra la Grange (55) het jare lank administratiewe werk gedoen by drie skole in Mpumalanga, onderskeidelik Evander Kollege, Hoërskool Oosterland in Secunda en Hoërskool Kanonkop in Middelburg, voor sy en haar man, Pieter la Grange (59), verlede jaar na Pretoria verhuis het.

Die egpaar het na Wonderboom in Pretoria se Moot-gebied verhuis en Sandra het onlangs by ʼn plaaslike kleuterskool begin werk en na kleuters omgesien.

Pieter het Sondag aan Maroela Media gesê sy vrou het op 7 Julie begin siek word en griepsimptome ervaar.

“Dit wou net nie opklaar nie en teen 10 Julie het sy baie siek begin word. Sy het onder meer spierkrampe en koors gehad, gesukkel om asem te haal en het baie gou moeg geword. Sy is die eerste keer op 12 Julie dokter toe en is medikasie voorgeskryf,” het Pieter gesê.

Toe Sandra teen 14 Julie nog nie beter voel nie, is sy weer na haar huisdokter waar sy ander medikasie toegedien is. Dit het egter net tydelik gehelp en haar toestand het verswak.

“Sy is die 16de weer terug dokter toe, waarna hy haar in die Moot-hospitaal laat opneem het. Dieselfde dag het die dokters daar toetse op haar gedoen en gesê hulle vermoed sy het varkgriep. Sy is op 17 Julie in die hospitaal se waakeenheid opgeneem en in ʼn geïnduseerde koma geplaas. Sy het nooit weer daarna wakker geword nie,” het Pieter verslae gesê.

Sandra is Sondagoggend teen 03:45 in die hospitaal se waakeenheid dood.

Volgens Pieter het toetse vasgestel dat sy met die H1N1-virus gediagnoseer is.

“Ons het almal eers gedink dis net gewone griep en was nie bewus dat dit varkgriep kon wees nie. Teen die tyd dat die vasgestel is, was haar longe so erg beskadig dat dit te laat was. As dit vroeër vasgestel kon word, sou sy dalk nog gelewe het.”

Pieter het gesê die familie koester geen kwade gevoelens teenoor Sandra se dokters nie. “Hulle het almal gedoen wat hulle kon,” het hy gesê. Hy sê hy het verneem dat drie mense vandeesweek glo in Pretoria aan varkgriep dood is.

Pieter beskryf Sandra as ʼn opgewekte vrou met ʼn hart van goud wat baie geliefd was en vir ander mense omgegee het.

“Sy was ʼn regte mens-mens en sou haarself te na kom om ander mense te kan help. Sy het ook ʼn groot passie vir diere gehad, van voëltjies tot honde en katte. Sy was ook baie kreatief, kunstig en lief vir tuinmaak.”

Buiten haar man, laat Sandra drie kinders, JP le Roux (28), Rochelle le Roux (26) en Aruscha le Roux (21), en vier stiefkinders, Pieter la Grange (37), Chantelle la Grange (36), Marcha Breckle (34) en Dillen la Grange (25), agter.

Haar begrafnisreëlings moet nog getref word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Sieg ·

Jammer om te hoor, innige simpatie vir die familie, deesdae moet maar versigtig wees jy weet nie wat in die land gebeur nie. Alles is deur mekaar

Linda ·

Mense sterf van die H1N1 varkgriep virus veral tieners en ouer mense. Ja daar is varkgriep wat sy kop in Pretoria en Roodepoort weer begin uitsteek het en mense moet versigtig wees. Dit is moeilik om dadelik te bepaal wat die pasient onderlede het, tensy bloedtoetse gedoen word omdat erge griep simptome ervaar word !!!

techie ·

Vanjaar se griep is geen gewone griep nie. Ek het hom gehad en was vir 4 weke lank siek. Alle sterkte en meegevoel aan die naasbestaandes!

AL ·

Ek is van Pretoria en het ook varkgriep gekry nadat ek gewone griep gehad het. Dis beslis anders. Mens word baie vinnig baie siek en koorsig en hoes erg. As jy siek voel, moenie wag nie. Laat doen ‘n keel smeer en bloedtoets. Ek is gou gediagnoseer en na ‘n paar dae in die hospitaal was ek beter. My gesin het Tamiflu gekry en nie siek geword nie.

AP ·

Ek het so ‘n maand gelede gelees dat daar geen varkgriep in SA op die oomblik is nie, in daardie week was my skoonseun van Hartbeespoortdam baie siek met griep, en was dit as vark griep gediagnoseer, nog (ek praat onder koreksie) twee of drie van sy kolegas was ook gediagnoseer. Sterkte aan die gesin.

Monique ·

My liefste tannie. Dit was n voorreg om tannie te kon ken vir 19 jaar. Wonderlike vrou wat spore agter los. Dit was skielik. En n groot skok. Ek sal tannie altyd koester in my hart. Dankie vir al die liefde en omgee. Rus sag. Ons bly lief vir tannie San.

Science chique ·

Dit is ‘n jammerte dat Maroela media nogsteeds na die influenza A virus strain H1N1 pdm09 verwys as varkgriep. Dit was in 2009, toe die pandemie uitgebreek het, bloot verwys as varkgriep omdat navorsers bepaal het die vark was verantwoordelik vir die oordrag na die mense. Varke se rooibloedselle is baie soortgelyk as mense sin en as hulle ‘n griep virus kry kan dit die mens aansteek.. Sedert 2009 is die sogenaamde varkgriep elke liewe jaar in sirkulasie wêreldwyd en deel van seisoenale griep. Wêreldwyd in mediese kringe word varkgriep glad nie meer gebruik nie. Dit saai onnodige paniek en dit is onverantwoordelike media dekking.. Dit is wel jammer dat die persoon gesterf het aan H1N1 pdm09 en jaarliks wêreldwyd sterf omtrent 1 miljoen mense aan griep. Dis een van die grootste redes hoekom die wêreld gesondheids organisasie… WHO… Mense sterk aanraai om te vaccinate. Flu kills…. Daar is ook groot verkil tussen griep en verkoue… Gaan besoek gerus http://www.who.int vir FAQs

Panic ·

Ons almal is nou nie so geleerd soos jy nie, die media ook nie, so hulle berig maar net soos die inligting aan hulle deurgegee word deur die medici wat seker maar dink hulle en ons is te onnosel om al die simbole te verstaan, so hulle noem dit toe sommer varkgriep. Soos ons leke maar na kieme verwys en julle na bakteriee. Weet jy dalk of sy een van die simboolgriepe gehad het of VARKGRIEP?

MTSteyn ·

Nonsens, daar bestaan geen ooreenstemming op globale vlak betreffende die nomenklatuur van hierdie spesifieke virus nie.

Verder sterf daar ongeveer 650,000 mense per annum aan seisoenale griep-verwante siektes, pandemie-tipe sterftes natuurlik uitgesluit.

My meegevoel aan die naasbestaandes.

Alwyna ·

Ek het n probleem met gewone huisdokters wat pasiente nie na n hospitaal kan verwys nie. Hulle het nie n ‘aandeel’ in hospitale nie en daarom moet pasiente eers na n spesialis verwys word eerdat hulle opgeneem kan word.
n Ander opsie is natuurlik om na die noodeenheid van n hospitaal te gaan maar dan moet jy mos eers betaal….???

Netso ·

Ek vra ook net die vraag hoekom as dokters sê “ek vermoed jy het varkgriep” jou sonder om enige toetse te doen jou huistoe stuur? Ons het gaste hier oorsee gehad wat dieselfde week nog deur hulle dokter vertel was hy dink sy het “varkgriep” onderlede?

Hannelie ·

Ek het geleer ‘n gewone huisdokter is nie opgelei soos ‘n internis of spesialis nie. Mens kan nie 3 keer na dieselfde dokter gaan en elke keer net pille kry nie, dokters moet , indien ‘n pasiënt ‘n 2de keer kom, die pasiënt verwys. Haar lewe kon dalk gered word as haar huisdokter haal dadelik na ‘n spesialis verwys het.
Alwyna die noodeenheid se “dokters” wat daar aan diens is, is ook nie jou huisdokter nie. My man en dogter was by Medi Kliniek en die dokter daar aan diens by Noodgevalle het gesê my man het pampoentjies, toe sy my dogter ondersoek, het die ook pampoentjies. Toe my dogter nie gesond word, is ek na my dokter, en hy het die pille gekyk en gesê dit is pille vir ‘n persoon wat griepsimptome het. Simpatie aan haar geliefdes.

Pina in Centurion ·

Alwyna, hier by ons vra die noodweer Dr’s drie keer die voorgeskrewe tarief.

KoosGrapJas ·

Kyk ek het al baie in my lewe griep gehad maar in 2013 het ek varkgriep gehad en ek kan sê sonder twyfel dis nie dieselfde as gewone griep nie. Ek het hierdie jaar twee keer griep gehad, die een in Manila op gedoen en die ander in SA, was amper 3 maande lank siek, maar dit was nie ñ tiende so erg soos daai varkgriep nie.

My innige meegevoel met die famielie van die dame.

JAN ·

Dodelikste kombinasie is griep plus tabakrook. Veral pasiewe rokers soos kinders.
Ons leef in chemiese besoedeling en gewone insekdoders laat die wêreld histeries van vrees word.
Groot leedwese aan haar mense..

Dries ·

Daarmee stem saam , ek het elke jaar siek geword met brongitus en longontsteking, rook gelos, nog nie weer siek geword na 19 jaar. Volgens Dokter nog een jaar dan is my longe skoon.

JSO ·

LOL @Dries! Ja, Dokters hou daarvan om die mitetjie van “skoon” longe aan hul goedgelowige pasiente te verkoop. Jou longe sal nie skoon wees oor ‘n jaar nie. Jou longe is permanent beskadig.

Marietjie ·

Ek het die haar man elke aand in die hospital gekry nou die laaste 2weke terwyl ek my man ook besoek het. Die sekuriteit het ons 2 die eerste dag verwar as familie en vir my vertel ek mag nie ingaan nie. Dit het my mooi praat laat verstaan dat ek en die man glad nie familie is nie. My innige simpatie vir hom. Varkgriep is nie grappies nie, ek was bitter siek van varkgriep laasjaar.

kallie ·

Word ek ‘n jaar of twee gelede ook erg siek,is bykans 2 weke deur ‘n gewone GP behandel en ten einde laaste verwys hy my na ‘n spesialis. Dadelik hospitaal toe,antibiotika drips,pyn en koors meds. Toe ek hom na die tyd vra hoekom het die GP my nie dadelik verwys nie is sy antwoord : Hule is onder baie druk om nie pasiënte te verwys nie. Nou wys die getalle sterftes dit ook!

Tanzie ·

En net ‘n paar weke gelede, as dit so lank terug was, is op elke lamppaal die boodskap gewees dat; “dr’s stuur jou te maklike hospitaal toe”… Nou wonder ek wie wil dan wanneer hospitaal toe, as ek so na die kommentaar kyk… RIV en sterkte aan die familie.

Petro oberholzer ·

ek t laas jaar varkgriep gehad, was nog nooit in my lewe so siek nie. was 2 weke in isolasie van Moot hosptaal. het ook net gewone griep simptome gehad en net nie beter geword nie. my huisdokter het my dadelik vir n keel swap gestuur en dit het positief getoets mense wees bedag al moet jy gaan vir tweede opinie.

Sandra ·

Nee wat, noem dit Varkgriep. Dan weet ons almal waarvan daar gepraat word. Dan weet ons dit is in omloop en moet op die uitkyk wees as ons griep kry, want dit is dodelik.

Waarom word GP’S onder druk geplaas om ‘n pasient wat aan ‘n mediese fonds behoort in die hospitaal te laat opneem? Veral as sy sieker terugkom met die 2de besoek? Moet daar nie helder klokke begin lui nie? “Jammer” is nie genoeg nie.

Feitlik alle lede van mediese fondse sukkel om die maandelikse bydrae te betaal om sodoende in ‘n ordentlike hospitaal opgeneem te word. Vroegtydig! Nou lyk dit asof ons ook nie daarop geregtig is nie – al is ons dodelik siek!

treurgrond ·

Ek is nou helemal in trane. Net in trane. My hart gaan helemal uit na die familie toe helemal net uit. Jis dis hartseer hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.