Geliefde Springs-sakeman sterf toe rowers toeslaan

Johan Jordaan is Maandag in ‘n rooftog doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

ʼn Bekende sakeman van Springs in Gauteng is dood nadat hy verbete probeer het om sy gesin teen ʼn bende rowers wat hul onderneming wou beroof, te beskerm.

Johan Jordaan (65) het Maandag in hom en sy vrou, Stephne, se winkel – Mr. Lawnmower & Pool – gesterf, maar eers nadat hy glo self een van die rowers doodgeskiet en nog een gewond het.

Die egpaar bedryf die winkel al sowat 38 jaar lank en is bekende sakelui in die omgewing.

Vyf mans, almal gewapen, het die winkel gister kort voor 09:00 binnegekom en Stephne aanvanklik aangehou. Johan was in sy kantoor in die winkel en Stephne het vir hom geskreeu dat hulle beroof word.

Johan en Stephne Jordaan. (Foto: Verskaf)

Johan het oënskynlik uit die kantoor gestorm en twee van die rowers raakgeskiet, voor hy self gewond is. Die bende het op die vlug geslaan en Johan het agter die toonbank inmekaargesak.

Die liggaam van een van die aanvallers is glo later gevind, terwyl ʼn tweede vermeende aanvaller, ook gewond, aangekeer is. Na verneem word, is ʼn derde man, glo die bestuurder van die wegkommotor, reeds aangekeer. Die polisie is glo kort op die hakke van nog twee aanvallers.

Stephne en hul dogter, Jackie Bentley – wat ook by die onderneming werk – het by hom gewaak terwyl hulle om hulp gewag het.

“Steph, ek gaan dood …” het Johan aan sy vrou gesê kort voor hy gesterf het.

Niks is tydens die voorval geroof nie en niemand anders in die winkel is beseer nie.

Pieter Jordaan, een van die egpaar se seuns, sê hy is inderhaas van Pretoria na Springs nadat hy oor die voorval ingelig is. “So baie dinge het deur my kop gegaan. Toe ek daar aankom, het my ma nog steeds by my pa gesit. Dit was verskriklik om te sien.

“My ma is stukkend.”

Die egpaar se ander seun, ook Johan (Jorrie), het Maandag van sy wittebrood teruggekeer. ʼn Vriend het hom en sy vrou by die lughawe met die tragiese nuus ingewag en ook na die toneel geneem. Saam het die familie vir oulaas van Johan afskeid geneem.

Stephne en Johan Jordaan en hul familie. (Foto: Verskaf)

Pieter het sy pa as ʼn steunpilaar in die gemeenskap en ʼn besonderse man bestempel.

“Hy was ʼn ongelooflike man en daar is so baie mense wat vir hom lief was. Hy het altyd gehelp waar hy kon. Dit is ʼn baie groot boom wat geval het.”

Pieter sê hy en sy gesin het Sondag by sy ouers gekuier. “Ons het lekker gekuier en gebraai en was almal bymekaar. Dit was baie spesiaal.”

ʼn Gedenkdiens vir Johan word Vrydag om 10:00 by Vinkvlei op Springs gehou. Hy laat ook drie kleinkinders, ʼn broer en ʼn suster agter.

  • Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Belinda ·

Sjoe dis hartseer. My hart is baie seer vir hulle part. Sterkte aan die familie. Hopelik sal die gereg doen wat reg is sodra hul al die verdagtes gevang het. sjoe dis waarlik n baie hartseer storie. RIV Johan.

Anton ·

Iemand gaan nou weer sê: “Genoeg is genoeg” en dan doen ons weer bokkerol tot volgende keer. (More of so) :-(

piet ·

Wat is jou voorstel moet die gewone publiek (ons) doen? Laat weet tog asseblief.

Petrus Johannes ·

Gee n oplossing stel voor wat gedoen moet word vriend

pamela ·

Shoe, ek raak daagliks verby die winkel, hy is so lank al daar, van my kinderdae af. Dis ook minder as 2km van my huis af. So jammer oor Johan se afsterwe.

Boer ·

Sterkte aan die famielie ek hoor daai rowers word almal gou gevang en dan moet hulle maar lank gaan sit.

Erika ·

Ons lewe in n Land met “mense” wat nie n flenter omgee vir ander se Lewe nie wat hulle eie Selfnugtige Agendas najaag…ten koste van ander. .Wat nie verwoordelik gehou word nie Omdat ons land n mafia &”gangster” land geword het..weens sekeres se direkte aandeel.. ipv verskil te maak bo hulle eie selfsugtige agendas…
Dit is so hartseer.

johan ·

Ek kyk elke dag die nuus en as ek dit nie mis het nie is daar omtrent elke dag ‘n moord of twee. dit is vreeslik in die land. Het al baie gewonder op my ouderdom of dit nog die moeite werd is om nog te lewe. Daaar is geen plesier in die lewe meer nie. Sterkte aan die famielie.

Elinette ·

Ek kan jou verseker – daar is BAIE BESLIS meer as een of twee moorde per dag. Maak dit eerder iets soos 60 moorde per dag.

Blikkies ·

Die Monsters vat alles wat ons het van ons af weg. Hoeveel goeie mense moet nog sterf en die oorblywendes in hartseer en verbittering agterlaat voor die Monster versadig is. Ek dink aan hierdie familie in hierdie tyd en bid dat reg en geregtigheid sal geskied.

Elinette ·

Die ding is – solank dit gaan in die land soos dit nou gaan, sal ons altyd aan die “genade” uitgelewer wees van sogenaamde “mense” wat nie ‘n jota of tittel omgee vir ander mense se lewe of eiendom nie. Hulle word gebore en grootgemaak met die idee dat hulle verontreg is en ontneem is van allerlei goed deur die “setlaars” en “koloniste”. Hulle vergeet ewe gerieflik dat as dit nie was vir diegene wat hulle so verag nie, dan hét hulle baie van dit wat hulle nou het, nooit gehad nie. Hulle leef ook in ‘n wêreld van “I/We demand”. Ek wil hê, hê en nogmaals hê, maar ek is nie bereid om te werk vir dit wat ek wil hê nie, want my oumagrootjie se oupagrootjie se grond is afgevat deur jou oupagrootjie se oumagrootjie. En so sal dit aangaan, tot Apartheid 360 jaar gelede begrawe is, maar hulle sal nog altyd “agtergeblewene” wees.

Juffrou ·

Monsters is ń goeie beskrywing. Meer mag ons tog nie sê.

Samuel ·

Baie hartseer om die nuus te hoor. Innige simpatie met die naasbestaandes en baie sterkte.

Irene ·

Ek is so bitterlik jammer vir julle familie. Baie sterkte. Wens so ek kon iets doen om te help met jumle hartseer.

Herms ·

Dit het as groot skok gekom. Johan en Stefanie het lank langs ons gebly in Springs jare terug. Johan en my pa was hegte vriende gewees. Hy was ‘n steun pilaar vir sy familie en ‘n baie goeie mens. Baie sterkte aan Stefanie en die gesin. My hart bloei saam met julle.
Herman Gerber

Jakes ·

Dit is tragies en sinneloos dat Johan op so n wyse moes sterf. Roof en moord in SA is totaal buite beheer. Boonop het hierdie lafaards geen gewete of respek vir lewe nie. Wanneer gaan die buitewereld notisie neem van wat hier aangaan? Ons innige medelye met Johan se familie en vriende.

Skappie ·

Sterkte aan Johan se gesin in hierdie moeilike tyd. Mag onse Liewe Heer julle styf in sy arms vashou.

Willem ·

Sterkte aan vrou en familie!!!Kom mnr cele hoed doen iets!!!!!Behalwe niks soos gewoonlik!!!!

Karina ·

Sterkte aan die familie en vriende van Johan. Dit is ‘n bitter hartseer storie die. Gelukkig het hy ‘n vuurwapen gehad en kon een rower bokveld toe stuur, ek hoop net diegewonde makkers volg die makker bokveld toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.