Geliefde Vernon Koekemoer veg om sy lewe

Só het Suid-Afrikaners Vernon Koekemoer in 2008 leer ken (Foto via Facebook)

Cassie Booyse (66), beter bekend as Vernon Koekemoer, veg om sy lewe in die Tambo-gedenkhospitaal in Boksburg ná onsuksesvolle heupoperasies.

Booyse het in 2008 oornag ʼn sensasie op die internet geword ná ʼn foto van hom by ʼn musiekfees, met ʼn kortbroek, geknoopte hemp, mullet en glasie in die hand, versprei het. Hy is “Vernon Koekemoer” gedoop en die foto het wêreldwyd versprei. Hy was só gewild dat hy selfs in ‘n Nando’s-advertensie verskyn het.

Nou is Booyse se toekoms bedenklik.

Linda Coetzee, sy lewensmaat van die afgelope nege jaar, sê aan Maroela Media hy het in 2018 met sy regterheup begin sukkel. “Hy het nie ʼn mediese fonds gehad nie, en ons is na die Tambo-gedenkhospitaal. Hy is vir Januarie 2019 ingeboek vir ʼn heupvervanging.”

Ná die operasie het dit gelyk of dit ʼn sukses was en hy is uit die hospitaal ontslaan, maar hy kon maande later steeds slegs met krukke loop en hy was deurgaans in pyn.

“Die hospitaal het ons bly wegwys. Hulle het net gesê hy kort meer oefening, hy moet meer loop. Maar hy was in baie erge pyn.”

Cassie Booyse net voor die hospitaal hom op 17 September 2022 by die huis kom haal het (Foto verskaf)

ʼn Tweede heupvervanging is uiteindelik gereël en volgens Coetzee het die dokter ná dié operasie erken hy het ʼn fout gemaak met die eerste operasie. “Hy het gesê hy het die verkeerde prostese ingesit.”

Die paartjie was hoopvol, maar dit was weereens ʼn onsuksesvolle poging.

“Hy het sepsis gekry in die wond. Die sug het sommer uit die wond bly loop. Hy kon steeds nie loop nie. Hulle het net vir hom antibiotika bly gee.”

Coetzee sê hy het later só baie antibiotika gedrink dat sy tande later begin uitbreek het.

“Ons was een dag op pad iewers heen, maar hy was in só baie pyn dat ons moes terugkeer huis toe. Hy het op die bed gaan lê en ek het die wond weer oopgemaak om dit skoon te maak. Dit is tóé dat ek ʼn tou uit die wond sien hang het. Ek kon nie verstaan waar dit vandaan kom nie.”

Sy het ʼn toutjie van ongeveer 30 cm lank uit die wond getrek. “Ek weet nie of dit dalk ʼn steek is wat nooit opgelos het en of dit ʼn stuk tou is wat hulle met die operasie in die wond vergeet het nie.”

ʼn Derde operasie is vir Februarie 2022 geskeduleer. “Hy het weer infeksie bly kry en hy kon sedert Februarie nog glad nie weer loop nie.”

Coetzee sê Booyse was Saterdag in soveel pyn dat ʼn ambulans hom moes kom haal. “Ons het al 09:00 die oggend ʼn ambulans ontbied, maar hulle het eers die middag om 17:00 by ons opgedaag.”

Cassie Booyse in 2008 (Foto via Facebook)

Volgens haar het hy ook nie meer beheer oor sy blaas nie en die urine loop net uit. “Hy het my vasgegryp van pyn. Hy kom op, en dan gaan lê hy weer.” Sy sê hy is só moeg van die pyn dat hy sommer net aan die slaap raak.

“Ek gaan hom nooit weer sien nie,” het sy aan haar ma en suster gesê. Sy is saam hospitaal toe, waar ʼn dokter by die ongevalle glo wou weet of hy verward is en of hy regtig pyn het. “Ek was woedend. Ek het in die motor gaan sit om te kalmeer.”

Die hospitaal het weer X-strale geneem en vir Coetzee gesê Booyse is baie siek. “Hulle het gesê die infeksie het in sy been ingetrek. Hy veg om sy lewe.”

Sy is baie kwaad vir die dokter wat die oorspronklike operasie gedoen het. “Hy het vyf jaar van ons lewens gesteel. Hy het sy lewe verwoes. Ek weet nie of ek hulle kan vertrou om hom te help nie. Ek wil hê hulle moet hom help, maar ek weet nie of hy nog sterk genoeg is om te baklei nie.”

Coetzee was Sondagoggend by Booyse en hy is steeds baie swak.

“My hart breek om hom só te sien. Ek wil seker maak dat hierdie nie met enigiemand anders gebeur nie. Dokters moet weet, as hulle met mense werk, dat hulle professioneel moet wees.”

Coetzee sê sy het gereeld met die uitvoerende hoof van die hospitaal kontak gemaak en hulle gevra om ondersoek in te stel. “Ek het hulle vier jaar gelede al gevra om ondersoek in te stel.”

Cassie Booyse in die hospitaal (18 September 2022) (Foto verskaf)

Met opvolgbesoeke sê sy het die dokters elke keer net gesê “ons sien julle oor twee weke”.

Sy is bekommerd dat Booyse moontlik bloedvergiftiging opgedoen het. “Ek het hulle gewaarsku ek gaan hulle dagvaar as hy bloedvergiftiging opdoen, want mens kan nie daarvan herstel nie. In daardie hospitaal is jy net ʼn nommer.”

Volgens haar is dit net ʼn wonderwerk wat Booyse nou kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Harley Davidson ·

So vermoor die ANC regering mense met hulle onvermoë om te regeer,nog ‘n slagoffer van de klerk en sy bende julle sal onhou word .Ek dink dat die enigste uitweg is dat Afriforum begin met projekte om hospitale en skole te bou vir almal wat hulp nodig het.

gatgogga ·

Eie skole, hospitale, ens.
Dis waaroor “Kaap Afstigting” gegaan het, en wat ons slim Afrikaners nie wou ondersteun nie, toe ons moes.

Koen ·

Kom bly in Orania. Hoop jy het genoeg geld om ons te ondersteun .

Danie ·

Ek hoop almal wat so wil hê Afriforum moet hierdie, daardie en alles doen, is ook net so ywerig om by te dra tot die taak.

Rocco ·

Ek wonder wie gaan Afriforum se skole en hospitale befonds? Hospitale is ‘n baie duur om op te rig, toe te rus, gespesialiseerde werkers te hê, en te bedryf. In Engels sê hulle “You can’t expect Rolls Royce treatment, from bicycle pay”. Ek het simpatie met meneer Booyse se omstandighede, en toestand – meeste mense weet hoe die toestand van staatshospitale is, maar behoort nie aan ‘n mediesefonds. Sny maar terug op die luukses in die lewe, en betaal deur jou nek vir lidmaatskap tot’ n mediesefonds, en as jy siek word, is jy verseker van goeie mediese sorg

Yvonne ·

Genade dit is net een gemors op die ander….ek kry die man asook ander pasiente so jammer in hospitale waar dit so haglik gaan

Christine ·

Wanneer sepsis eers intree, is dit verby. Sy niere gaan oppak en dan sy hart. Die arme mense wat eers fantastiese diens gekry het 29+ jare by staatshospitale, is nou oorgelaat aan vuil, onhegieniese, oorvol hospitale met onkundige en onsimpatieke personeel. Staatshospitale het nou in lykshuise verander. My hart gaan uit aan hierdie man en vrou. Niemand verdien dit nie, maar ongelukkig weet ek van talle gevalle, en dit raak net erger. Ons hospitale is oorgelaat aan wesens wat NIKS met kwaliteit en hoë standaarde kan uitvoer nie. Dis net nie binne hul verwysings raamwerk moontlik nie.

Pieter ·

en ons blanke volk word so verarm dat jy nie n mediese fonds kan bekostig nie

Vexed ·

Dit help ook nie dat privaat medies fondse in die staat se sak is nie. Verhogings kom en die van ons wat nog soort van ‘n mediese fonds kan bekostig gaan nou begin betaal vir die “inenting” wat kastig gratis was. Nog bedrog. Standaard.

hendrie ·

Dankie, goed gestel van die droewe werklikheid wat hand-oor-hand voortstorm onderweg na die status van nog ‘n mislukte Afrikastaat…

Korrelkop ·

Absoluut! Hy is nou maar eenmaal nie ‘n wese van vooruitgang nie. Kan nie kreatief dink nie.

Marina ·

Ek kan nie verstaan dat daar nog nie vir hom ‘n hulpvonds op die been gebring is om hom oor te plaas na ‘n privaat hospitaal en iemand wat weet wat hulle doen nie

Koen ·

Begin een, Marina. Jy kan selfs daarby baat soos daardie vrou wat vir haar seun een begin het.

Maryann ·

My hart gaan uit na Cassie Booyse en gade, weet presies wat julle nou deurmaak, ek persoonlik ook mense aan die dood afgestaan wat deur staats instansies behandel was en ook sepsis opgedoen het, dit is waarlik skandelik dat die staats hospitale geen dissipline en skoonheid kan handhaaf nie. Julle is in ons gebede, alle sterkte en glo met jou hele hart, verstand en siel. By GOD is NIKS onmoontlik nie!

Marianna ·

Suid-AFrika word nou ‘n VREESLIKE land. Jy lewe met vrees vir die dag as jy hospitaal toe moet gaan, hof toe moet gaan, jy jou kind in die skool moet sit as jy nie onder die rykes tel nie. Voor ’94 was hospitale skoon, ordelike plekke met ‘n matrone wat nie heeldag op haar selfoon sit nie. Dokters was van die beste en staatshospitale net soos privaathospitale. Hoekom verlaat die mense SA nou so? Vir die wat oorbly gaan dit ‘n ‘hel’ word in SA.

PieterJ ·

Ons almal se voorland wanneer NHS oorneem, daai selfde dag soek ek werk om terug te trek UK toe.

Driekus ·

Waar is Nandos? Hy het vir hulle goeie publisiteit gegee, Hulle kan gerus inspring en hulp verleen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.