Geliefdes groet pa wat eie lewe neem

Jason Jonker (26) is uit die Lewende Woord-kerk in Langenhovenpark, Bloemfontein, begrawe.

Jason Jonker se ouers het Saterdag in roerende huldeblyke aan hul seun gesê dat hulle steeds met baie vrae oor sy selfmoord worstel, en dat hulle hom baie sal mis.

Jonker (26) is uit die Lewende Woord-kerk in Langenhovenpark, Bloemfontein, begrawe.

Hy en sy meisie, Rochelle Drury (24), het twee weke gelede ʼn dag uitmekaar hul eie lewens geneem. Die paartjie laat ʼn babaseun van tien maande agter, en Drury het ook ʼn vierjarige seuntjie uit ʼn vorige verhouding. Dit is nie duidelik wat die paartjie gedryf het om hul eie lewens te neem of hoe hulle dit gedoen het nie.

Jonker se pa, Philip, het ʼn huldeblyk aan sy seun gelewer en ʼn brief van Jonker se ma, Maureen Labuschagne, voorgelees.

In dié brief sê Labuschagne dat die hoekom-vraag in haar gedagtes bly maal.

“Ek verstaan nie my kind, ek verstaan glad nie. Jy kon nog altyd praat. Reguit sê wat jy wou, wat jou pla. Dié keer was jy stil gewees. Hoekom? Wat het jou so opgevreet van binne?

“Jy het dalk tekens gegee wat ek gemis het. Elke boodskap gaan ek weer en weer deur om te kyk. Ek sal altyd vrae hê en antwoorde soek, maar dít is saam met jou.”

Labuschagne sê sy voel asof sy Jonker “gefaal het”.

“Toe jy klein was kon ek jou teen die monsters in die kas en onder die bed beskerm. Maar die monster in jou gedagtes kon ek nie keer nie.”

Die seer van haar seun se dood, sê Maureen, is iets wat haar vir altyd sy bybly.

“My kind, ek mis jou, en die random oproepe om te hoor wat ek maak en hoe om two minute noodles lekker op te jazz.

“Ek mis die TikTok-video’s wat jy altyd gestuur het. Ek mis die soene as jy inkom om hallo te sê, en soene om baai te sê. Ek mis jou stem en stywe drukkies. Ek mis die planne wat jy altyd gemaak het. Nou is daar net stilte. Elke keer as my foon lui, hoop ek dis jy en dat ek jou net nog een keer kan hoor sê: ‘Moeder, wat maak mamma?’

“Die stilte vreet my van binne af op. My kind, as ek tyd kon terugdraai sou ek, maar dis onmoontlik. My seer sal nooit weggaan nie, en jou plek in my hart sal nooit vervang word nie. Hier waar jy vandag begrawe word, gaan ʼn deel van my saam met jou. Ek is en sal altyd baie lief wees vir jou, en jou seuntjie vertel watse goeie pa jy was.”

Jason Jonker het twee weke gelede sy eie lewe geneem. (Foto: Verskaf)

Labuschagne sê die dag wat sy haar kind weer sien, gaan sy hom ʼn “vet drukkie, ʼn soen en ʼn helse pak slae gee” omdat hy nie gepraat het nie, en die laaste “monstertjie vir homself gehou het”.

Sy pa, Philip, sê hy het gesukkel om dit wat hy vir sy seun wou sê, neer te pen.

Hy vertel bewoë dat Jonker ʼn onbeplande pienkvoet was, maar dat hy en Labuschagne nooit spyt “oor hul tweede wonderwerk” was nie. Jonker het ook ʼn ouer sussie, Jessica (27).

“As ouers kan ons nie méér trots wees op ons kinders nie.”

“Dinge het nie altyd mooi uitgewerk vir ons nie, maar nooit het ons ons liefde vir mekaar verloor nie. Ons kon nie vir ʼn beter seun en dogter gevra het nie. Ouma en Oupa kon nie vir beter kleinkinders gevra het nie. Jason se kinders kon nie vir ʼn beter dad gevra het nie, en Jessica nie vir ʼn beter boetie, vriend en beskermer nie.

“As kind het sy hom beskerm en as grootmens het hy haar beskerm.”

Philip sê sy seun sou uit sy pad gaan om ander te help en dat sy vriende en kollegas soos sy eie broers was.

Wie Jonker as kind, pa, vriend, broer en beskermheer was, sê Philip, gaan nie die “leë hol kol” in sy bors vul nie, “maar ek kan nie ʼn trotser dad wees nie”.

Ook Philip het in sy huldeblyk gesê dat hy homself party dae verwyt oor wat met Jonker gebeur het.

Hy het ʼn beroep op aanwesiges by die begrafnis gedoen om seker te maak hulle weet wat in hul geliefdes se lewens en gedagtes aangaan.

“Daar is een ding wat ek en Maureen baie graag vir julle wil vra: Ken jy jou familielid, jou kinders, man of vrou se situasie op ʼn daaglikse basis? Is jy seker jy weet wat in sy of haar lewe aangaan?

“Daar is ʼn ding wat hulle altyd vir ʼn mens sê as jy huis of kar koop: Lees die fynere skryf op die kontrak. Ek dink ons as ouers, vriende, broers en susters is geneig om die fynskrif te mis.”

Philip sê depressie is ʼn “lelike ding” en iets wat ʼn mens onkant betrap.

“As jy jou oë uitvee dan het hy jou gebyt. Dan, ongelukkig, gebeur dinge soos wat met Jason en Rochelle gebeur het. Ons kan nie een van daai twee kinders terugbring nie, maar ons kan wel probeer om ʼn volgende kind of grootmens se lewe te red.

“Wees bewus. Maak seker jy weet wat in jou kind se lewe aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Di ·

Sjoe wat ‘n harseer storie. Sterkte aan die ouers, familie en vriende. Mag die Hemelse Vader julle die nodige krag gee om dit te verwerk. Die vrae sal altyd daar wees, tyd genees wonde.

Waarnemer ·

Diline,n wond is n stukkende plek wat genees,om iemand aan die dood af te staan is n seer wat NOOIT genees nie,dit word NIE beter NIE en NIEMAND kan jou troos nie.Slegs as jy die wete het dat hierdie persoon JESUS as sy/haar VERLOSSER en SALIGMAKER aan geneem het,ervaar jy in n mate berusting.Die seer en gemis bly ALTYD daar.

Jeffrey ·

“Toe jy klein was kon ek jou teen die monsters in die kas en onder die bed beskerm. Maar die monster in jou gedagtes kon ek nie keer nie.”… Hierdie is een van die mooiste maar tog hartseerste dinge wat ek n moeder al hoor sê het…Ai. Baie hartseer. RIV

ES ·

Sjoe dis darem maar aaklig… Baie stertke aan die familie, mens weet nooit wat die gemoedstoestand van mense is nie. Altwee families het soveel vrae en ek hoop hulle vind vrede in hul harte.

MK123 ·

My hart gaan uit na hierdie ouers. Mens sal altyd wonder waar het jy die tekens gemis, maar die hartseer waarheid is dat daar heel moontlik geen tekens was nie. ‘n Persoon wat so ongelooflik seer het en so graag die pyn wil eindig, gee nie tekens weg nie want hy/sy is bang iemand wil hom/haar stop om ‘n einde te bring aan als.

Filistyn ·

Tragedie. Sterkte en vertroosting aan familie en vriende

RB ·

Soveel rou smart vind weerklank in hierdie ouers se woorde!

En uiteindelik is die waarheid dat ons kinders ons net geleen word.
Mag julle berusting vind in die wete dat julle vir hierdie kinders die beste ouers was vir die tyd wat hulle hier was.

Perdeby ·

Jy kan jou familie en kinders ken so goed as wat jy wil, hulle deel ook nie alles nie, ander mense se boeke bly maar duister.

SlinkseKoljander ·

Mense besef nie die druk waaronder almal deesdae sit nie, Ek het dit altyd as aandag soek gesien, todat dit jou self tref.

Sterkte aan die familie.

Ronel ·

Sulke twee mooi mense. Ek hoop regtig dat die familie eendag antwoorde sal kry. Baie sterkte aan hulle kinders en die res van hulle familie

Skappie ·

Ek kan maar net vir julle as ouers en gesin se sterkte vir dit wat vir julle voorle. Hierdie kan vir seker nie ‘n lekker tyd vir julle wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.