Geliefdes platgeslaan ná sportvrou se skielike dood

Xena en haar verloofde, Marius Ferreira. (Foto: Xena Botha, Facebook)

Xena Botha, Suid-Afrika se kragvrou en oudspeler van die Springbokke se vrouerugbyspan, sou komende Saterdag 40 jaar oud geword het. Dié kranige sportvrou is egter Saterdag in ’n hospitaal in Bloemfontein dood aan komplikasies nadat sy verlede Maandag haar galblaas laat verwyder het.

Botha het in 2020 die Afrika-rekord vir dooiegewigoptel (deadlift) en bankdruk (bench press) verbeter.

“Ons is geskok oor haar dood. Ons het vas geglo die operasie sou goed afloop,” het Delene Botha (68), Botha se ma, gesê.

“Haar gesondheid was goed voordat sy die operasie ondergaan het.”

Volgens Delene het die familie talle vrae oor Xena se “skielike dood”. “Maar ons het rus gevind met die gedagte dat die Here haar streep getrek het. Sy was gereed, dit was haar tyd. Dit is seer en gaan nog vir lank seer wees, maar ons weet die Here maak nie ’n fout nie.”

Botha het die afgelope ses maande saam met Marius Ferreira op ’n plaas buite Bloemfontein gewoon en volgens Delene was dit gerusstellend om haar dogter “rustiger” te sien. Sy het ʼn ruk afgevat van gewigoptelkompetisies om haar liggaam te laat rus.

“Sy was die laaste ses maande ’n ander mens. Sy het rus op die plaas en in die natuur gevind. Sy sou saam met Marius die kalfies melk gee en in ekstase daaroor wees. Dis asof sy ophou jaag het na titels en prestasies.”

Sport was haar lewe

Xena Botha. Foto: Verskaf/Andrew Harvard.

Botha is tydens die Africa Strongman Union-kompetisie in Desember 2020 as die nasionale rekordhouer vir dooiegewigoptel en bankdruk gekroon met ’n rekordgewig van onderskeidelik 240 kg en 130 kg.

Voordat Botha gewigoptel begin doen het, het sy as ’n kranige rugbyspeler vir die Springbokke se vrouespan by die Wêreldbeker-toernooi uitgedraf. Sy het ook vir die Westelike Provinsie en die Vrystaat gespeel.

Sy het egter in 2013 haar rugbystewels opgehang en dit met gewigte vervang. Dit is toe dat sy aan Strongman-kompetisies begin deelneem het.

“Toe Xena vir die Vrystaat rugby gespeel het, het die span een keer besluit om vir die pret aan só ʼn Strongman-kompetisie deel te neem. Toe byt die gogga haar.”

Volgens Delene het Botha op skool nie só ʼn groot passie vir sport gehad nie en eers ná skool daarin begin presteer. Haar liefde vir sport kom wel van haar pa, Morris, wat Springbokklere in judo het.

“Op skool het sy aan atletiek en netbal deelgeneem. Hulle het as voorbereiding vir netbal soms raakrugby gespeel. Sy het toe ’n liefde vir rugby ontwikkel.”

Botha het ná skool aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en as biokinetikus gekwalifiseer. Sy kon egter nie op universiteit rugby beoefen nie omdat dit nog nie so algemeen onder vroue was nie.

Sy het tydens haar kliniese praktiese jaar as biokinetikus in Kaapstad vir die Westelike Provinsie se vrouespan rugby gespeel. Dit is hier waar haar rugbyloopbaan vlamgevat het.

‘Mens met vele fasette’

Xena Botha was ook ’n kranige rugbyspeler in haar jonger dae (Foto: Xena Botha, Facebook)

Delene beskryf haar dogter as ’n mens met vele fasette – van perfeksionis en toegewyde sportvrou tot iemand met die sagste omgee-hart.

“Sy sou nie net ’n ekstra myl vir ander loop nie, maar sommer vyf myl.”

Volgens Marius was Botha sy sielsgenoot en lewensmaat.

“Sy was my engel wat vir niks teruggestaan het nie. Sy was die beste deel van my lewe. My toekoms. Ons het so baie toekomsplanne gehad,” vertel Marius.

“Geen vrou op aarde sal my Xena se plek kan vat nie.”

Botha word oorleef deur Marius, Delene, Morris en haar broer, Frederick Botha.

’n Roudiens vir Botha vind Vrydag om 11:00 in die NG Kerk Fauna in Bloemfontein plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Surfer ·

Jy is in geen hospitaal meer veilig nie al is dit vir n klein operasie. Punt. Hoekom?, gebruik jou gesonde verstand.

Roderick ·

RIV Xena. Was bevoorreg om jou te ken deur rugby. My innige meegevoel aan die bree familie en vriende.

Ester ·

Stem saam George, hulle moet bloedtoetse laat doen vir Remdisivere…. Hospitale het moordkampe geword.

Mieke ·

My diepste en innigste simpatie aan die familie. Mag die Here julle krag en vertroosting gee en julle deur hierdie moeilike tyd dra.

Di ·

Wat ‘n groot verlies! Innige meegevoel aan al die familie en vriende. Mag ons Hemelse Vader julle deur hierdie moeilike tyd help.

Annalie ·

Hoe op aarde sterf mens na `n galblaas operasie ? Wat het verkeerd gegaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.