‘Geloof versterk’ ondanks motorfietsongeluk wat been eis

Annette van den Berg soos wat sy vandag lyk. (Foto: Verskaf)

As dit nie vir die Here se genade was die dag toe Annette van den Berg in ʼn motorfietsongeluk was, wat haar linkerbeen geëis het, nie, was sy nie vandag meer hier nie.

Van den Berg (40), was ʼn passasier agter op die motorfiets toe die ongeluk op 6 Mei 2017 plaasgevind het. Dié laerskoolonderwyseres van Mbombela (Nelspruit) het veelvuldige beserings opgedoen, maar die ergste was haar linkerbeen waarvan die hoofslagaar in die slag afgesny is.

Dit was die heel eerste keer wat sy so ver op ʼn motorfiets sou reis. Sy en die bestuurder van die motorfiets was van Ohrigstad in die rigting van Hazyview op pad toe hulle skielik van die motorfiets afgeslinger is.

“Ek was heeltyd erg op my senuwees, asof ek kon aanvoel dat iets vreeslik gaan gebeur. Ek het gebid vir beskerming en het die bloed van Jesus oor ons gepleit. Skaars vier kilometer later het ek geweet hier is groot moeilikheid.”

Sy sou eers later hoor dat die motorfiets daardie dag ‘n bakkie getref het nadat dié voertuig glo voor die motorfiets ingedraai het. Van den Berg het op daardie oomblik in die bestuurder se valhelm vasgekyk en kan nie presies onthou wat gebeur het nie. Sy onthou net die slag, die val en hoe sy en die bestuurder saam met die motorfiets gerol het.

“Dit het gevoel asof ons nooit gaan ophou rol nie. Terwyl ons so gerol het, het ek gewonder of ons ooit tot stilstand gaan kom en of ons nog gaan leef wanneer ons wel tot stilstand kom,” vertel Van den Berg aan Maroela Media.

Annette kort na die ongeluk. (Foto: Verskaf)

“Ek onthou nog hoe ek die laaste slag op my rug geval het en tot stilstand geskuur het, waar dit gebrand het soos ʼn kool vuur en die dodelike pyn wat deur my linkerbeen geskiet het, het gevoel asof iemand elke liewe beentjie daarbinne vergruis het.

“Ek het tussen die gille van pyn hardop begin bid en dankie gesê dat die Here my pyn gaan kom verlig. Ek het oor en oor net vir myself gesê alles gaan oukei wees, min wetend dat my been op daardie oomblik net 30% aan my lyf geheg was.”

ʼn Paartjie wat op die ongelukstoneel afgekom het, het stilgehou en hulp aangebied. Van den Berg het tot vandag toe kontak met dié mense.

“Ons het sowat ʼn uur gewag vir ʼn ambulans. Al was die pyn ongelooflik, en al was my been so te sê van my lyf afgeruk is, was ek teen dié tyd steeds by my volle positiewe. Ek het nie uitgebloei nie, iets wat ek tot vandag nie kan glo nie.

“Selfs die dokter het na die tyd vir my gesê ek is gelukkig om te leef. Ek het vir hom gesê ek leef, want God leef. Was dit nie vir my Redder nie, was ek nie vandag hier nie.”

Sy is van die Ohrigstad-hospitaal oorgeplaas na die Medi-Clinic Nelspruit-hospitaal vir verdere behandeling en het talle operasies ondergaan om haar been te probeer red.

“Die operasies was so seer dat ek later gewonder het of ek nie maar net die been moet laat amputeer nie.

“Ek was aanvanklik vir vyf maande in die hospitaal en daarna was ek vir kort rukkies tuis voordat ek weer maande lank opgeneem is. Die hospitaal het later soos my huis gevoel.”

Met die laaste operasie het haar hoofslagaar weer oopgegaan en dié keer kon dokters niks doen nie. Haar been moes noodgedwonge geamputeer word.

Annette en haar seuntjie, Stephan, kort na die ongeluk in haar hospitaalbed. (Foto: Verskaf)

“Toe ek op 1 September 2018 wakker word na ʼn nege uur lange operasie, was dit onbeskryflik seer. Ek was nog aan ʼn ventilator gekoppel en het probeer praat, maar ek kon nie. Ek onthou dit was Lentedag, maar ek was sielsongelukkig.”

Sy was woedend, onthou sy. “Ek was smoorkwaad vir die Here. Ek was baie hartseer en het gevra hoekom dit met my moes gebeur. Ek was iemand wat nie die woord ‘slakkepas’ geken het nie en was altyd aan die gang, ʼn besige bytjie.

“Ek het selfs met die prostese gesukkel, en gesukkel om dit te aanvaar. Die been is ongemaklik en nie esteties mooi nie. Ek was soms so gefrustreerd dat ek die been wou gooi,” erken sy.

Sy verstaan uiteindelik vandag waarom die Here haar tot stilstand geruk het. Sy het ook met die hulp van vriende en familie geleer om aan te pas by haar omstandighede.

“Die Here wou my lewe spaar sodat ek Hom opnuut kon vind en my geestelike lewe kon behou. Ek het fisiek swak gevoel, maar geestelik baie sterk. Die Here wil hê ek moet ander mense ook naderbring aan hom.”

Annette wys haar prostese. (Foto: Verskaf)

As onderwyseres is dit haar passie om met kinders te werk en is dit haar missie om ander te inspireer en hoop te gee wanneer hulle deur diep waters gaan.

“Dinge sal beter word. Ná elke storm skyn die son weer. Ek het gekies om die emosionele trauma en al die twyfel soos bakstene op te tel en vir myself ʼn fondasie te bou sodat ek uit die gat kon klim waarin ek was om weer die lig te sien.

“Die Here het die moeilike dinge in seëninge omgeskakel. My dogters (nou 19 en 17) en my seun (nou 11) het geleer om meer selfstandig te wees en bewus te raak van die behoeftes van ander mense en geleer hoe om empatie en simpatie te hê.”

Dit het haar lank gevat om te besef sy kan steeds ʼn goeie ma wees vir haar kinders en steeds die lewe geniet. Sy kon selfs na drie jaar terug keer werk toe.

“Ek klim rotse en gly by waterglybane af, alles met my prostese. My selfbeeld het ʼn groot knou gekry sonder my been, maar die stryd was nie onoorkombaar sonder die hulp van God aan my sy nie. Ek glo net Hy kan dit doen. Hy het alles vir my teruggegee wat ek verloor het.”

Van den Berg sê sy droom daarvan om ʼn motiveringspreker te wees en die boek waarmee sy besig is, klaar te skryf.

“Ek deel graag my storie, want daar is soveel gebroke mense daar buite wat hulp en bemoediging nodig het. Ek glo God sal my bring na my eindbestemming volgens sy wil.”

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sharmane ·

Dit is wonderlik. En altyd Goed om iets positive te lees of hoor!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.