Geloofsvryheid in spervuur

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

Is dit jou reg om dit wat jy in jou hart glo, te kan uitleef en met ander te deel? Suid-Afrikaners aanvaar die reg op geloofsvryheid as vanselfsprekend, maar daar is tans talle konsepwetgewing en hofsake waarvan die uitkoms hierdie reg onherroeplik kan wegneem, of die uitleef daarvan selfs kan kriminaliseer.

Volgens Freedom of Religion South Africa (FOR SA) se uitvoerende hoof, Michael Swain, word geloofsvryheid tans op verskeie vlakke bedreig. Hy het onlangs ’n groep geestesleiers in Pretoria oor die kwessie toegespreek. “Dit is belangrik om aktief betrokke te raak by die verdediging van geloofsvryheid. As ons wil keer dat die regering ons forseer om dinge te doen en te sê wat teen ons geloof is, kan ons nie langer bekostig om stil te bly nie,” sê hy.

Swain werk saam met ’n span van regskenners om ’n rooi vlag te swaai indien daar enige voorgestelde wetgewing in die parlement voorgelê word wat geloofsvryheid bedreig.

FOR SA is nou betrokke by beleidsbesluite, wetgewing en hofsake rakende die kwessie, en help ook gewone landsburgers om sin te maak van konsepwetgewing, en die implikasies wat dit moontlik op geloofsvryheid kan hê.  “Landsburgers kan dan by die openbaredeelnameproses betrokke raak en só hul stemme dik maak teen voorgestelde wetgewing.”

Hy meen dit is een van die doeltreffendste maniere om geloofsvryheid te verdedig. “Ons het verlede jaar meer as 150 000 formele klagtes teen die nuwe voorgestelde Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie  (BGVOD) ingesamel. Die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling is tans besig om deur elke klagte te werk, wat maande sal duur.” Dit is ’n rekord aantal klagtes teen enige voorgestelde wetgewing – soveel so dat dit die e-posstelsel van die regering oorweldig het.

Een van die belangrikste sake waarby FOR SA tans betrokke is, takel die algehele verbod op godsdiensbyeenskomste tydens die inperkingsmaatreëls. Hul eerste poging om die staat te keer om ’n verbod op godsdiensbyeenkomste tydens ’n ramptoestand te verklaar, het in die Johannesburgse hooggeregshof misluk.

FOR SA se regspan het goedkeuring ontvang om te appelleer. Die uitslag van die komende appèl hou dus verreikende gevolge vir alle Suid-Afrikaners in. Indien dit sou misluk, plaas dit ongekende mag in die regering se hande om te doen net soos hul goeddink gedurende ’n ramptoestand, en dit sonder enige oorsig, selfs deur howe.

“Hoe is dit moontlik dat burgers volgens die inperkingsregulasies na ’n dobbelhuis mag gaan, maar nie in ’n kerk mag byeenkom nie?” vra Swain.

Daar is tans talle sake wat die jaar in die howe gaan voorkom, wat die rol van geloofsvryheid in ons samelewing gaan toets:

Die Isipanda‑saak is ’n baanbreker saak wat binnekort in die hof sal draai.  Dit kan gevolge vir geloofsgebaseerde private skole inhou as die hof teen die skool sou besluit. Só ’n uitspraak sal veroorsaak dat skole se personeel en ouers gedwing sal word om teen hul geloofsoortuigings op te tree, en ouers hul kinders blootstel aan praktyke waarteen hul juis hul kinders wou beskerm.

Die Chetty‑saak sal ook die jaar in die hof voorkom. Simeon Chetty het tydens ’n geloofsbyeenkoms ’n persoonlike getuienis gelewer, waarna twee Hindoe-organisasies en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie hom van haatspraak aangekla het.

Daar is nog talle sulke hofsake en konsepwetgewing wat geloofsvryheid in gedrang bring. Swain meen burgers moet op alle vlakke terugveg en die fort hou. “Hoe meer mense aktief betrokke is, hoe moeiliker gaan dit wees om geloofsvryheid in te perk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Mense mense. Die bybel waarsku teen sulke dinge en so waar hier kom dit. Die duister magte wil alles oorheers en sal hulle so waar as padda manel dra dit nie regkry om my stil te maak oor my Lewende God en Vader nie. Afgodsbeelde, toordokters en voorvader geeste moet hulle maar beoefen want hulle besef nie die ellende en pyn wat wag as die oë finaal toegemaak word op hierdie aarde nie. Solank as daar asem in my liggaam is sal en gaan ek God vereer en oor Hom praat.

Sarel

Groot deel Suid Afikaners waardeer tans nie die voordeel nie .

Nico

Matt. 24 waarsku die mens teen hierdie sake, die mens wil mos sy/haar ore uitleen en luister na sulke valshede, die mens het nog godsdiens vryheid maak gebruik daarvan.