Gemartelde babahondjie kry nuwe huis

Kiara saam met haar nuwe eienaares Marlise Radley (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

Kiara, die jong hondjie wat gered is nadat sy glo deur ’n groep kinders gemartel is, se nuwe lewe by haar aanneemouers het begin.

Kiara se nuwe eienaars, Louis en Marlise Radley van Bloemfontein, het haar Saterdag by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein gaan haal. Dié paartjie was een van meer as 50 diereliefhebbers wat by die DBV aansoek gedoen het om Kiara aan te neem.

“Al het sy drie bene, het sy ’n groot hart om daarvoor op te maak. Ons is so dankbaar Kiara het so vinnig haar ‘vir ewig’-familie gekry,” sê Reinet Meyer, senior inspekteur by die DBV.

Maroela Media het vroeër berig die DBV het verlede Saterdagmiddag ’n oproep van ’n bejaarde vrou ontvang dat ʼn hondjie (Kiara) deur ’n groep kinders in ’n informele nedersetting digby Bloemfontein gemartel word.

Die groep kinders het Kiara op die grond gesleep en geskop en as sy probeer opstaan het, het die kinders haar in die lug geskop asof sy ʼn sokkerbal was. Hulle het Kiara ook met ʼn stok gemartel deur dit in haar keel te probeer afdruk. Toe die kinders belangstelling verloor het, het hulle haar blykbaar opgetel en in ’n asblik gegooi.

Kiara was ernstig beseer en het verskeie beenfrakture opgedoen. Haar bek was aan die binnekant stukkend en een van haar pote moes geamputeer word.

Meyer vertel die egpaar het dadelik op die DBV se Facebook-plasing oor Kiara gereageer. Meyer sê die Radleys se aansoek was ook die heel eerste een wat hulle ontvang het. Daarna het byna 50 aansoeke ingestroom.

“Nadat hulle Kiara se storie gelees het, het hulle ingekom om Kiara te ontmoet. Hulle het dadelik verlief geraak op haar en toe vorms vir haar aanneming ingevul. Die oomblik toe Kiara gereed was om aangeneem te word, het hulle haar kom haal.”

Meyer sê die egpaar het ook in die week verskeie kere ’n draai by die DBV gemaak om soveel moontlik kontak met Kiara te hê.

“Ons kan nie vir beter aanneemouers vra nie. Die Radleys is groot diereliefhebbers en ons is seker hulle gaan Kiara die liefde gee wat sy verdien. Dit na als wat sy moes deurmaak.”

Volgens Meyer moet Kiara nog terapie ondergaan om te leer om op slegs drie pote te loop. Haar nuwe eienaars het onderneem om haar daarmee te help.

“En wat boonop lekker is, is die feit dat die egpaar hier in Bloemfontein woon. So ons kan nog steeds vir ou Kiara’tjie gaan kuier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Iemand wat diere mishandel en martel sal dit met mense ook doen. So bly Kiara het ‘n wonderlike huis gekry.

Yvonne

As die kinders nou al so wreed is….wat wag.

Elmarie

Nou wat van daardie kinders?! Het iemand hulle aangespreek of iets? Hulle gaan dit mos weer doen. Liewe hemel! Ek is skoon naar.

Genis

Marlise mag die Here jou ryklik seen…. Aan die dieremishandelaars, dit spreek boekdele, oppas die wiel draai stadig….

louis

Was dit wit kinders dan was hulle aangekla en voor die hof gebring