Gemeenskap bid saam vir nóg  ʼn wonderwerk ná aanval op boer

Kallie van Heerden. Foto: Facebook

Die familie van Kallie van Heerden, die boer wat Maandagmiddag op ʼn plaas in die Hartbeesfontein-omgewing in Noordwes vyf keer geskiet is, bid nou vir “ʼn tweede wonderwerk” sodat hy volkome sal herstel.

Van Heerden (62) word tans in die waakeenheid van die Anncron-hospitaal in Klerksdorp behandel.

Pieter du Preez, AfriForum se takvoorsitter in Stilfontein, het aan Maroela Media gesê Van Heerden se toestand is steeds ernstig en hy word deurentyd onder verdowing gehou.

Van Heerden is vyf keer deur sy aanvallers geskiet en het koeëlwonde aan sy hand, bors en arm opgedoen. Een van die koeëls het in sy long vasgesteek. “Dokters het besluit dat hulle die koeël daar gaan laat en nie nou gaan opereer om dit te verwyder nie. Ek dink daar word nou daarop gefokus dat hy moet rus,” het Du Preez gesê.

Marle van Heerden, Van Heerden se dogter, het aan Maroela Media gesê die eerste wonderwerk was dat haar pa vyf skote oorleef het. “Ons bid nou net vir die volgende wonderwerk. Die Here is almagtig,” het sy gesê.

Volgens Marle is Van Heerden se toestand in dié stadium onveranderd en is hy nog te swak vir ʼn operasie. Sy het ʼn beroep op die publiek gedoen om saam vir haar pa te bid.

Maroela Media het vroeër berig Van Heerden is Maandag omstreeks 16:00 by sy motorhuis deur drie aanvallers oorval. Hy is in die huis in gedwing waar die aanvallers hom gedwing het om die kluis oop te sluit. Volgens Du Preez is Van Heerden se voete vasgebind en is hy in ʼn slaapkamer geskiet voordat die aanvallers gevlug het.

Kallie van Heerden en sy vrou, Thelma. Foto: Facebook

Die aanvallers het Van Heerden in die kamer toegesluit, maar hy kon ten spyte van sy ernstige toestand daarin slaag om hulp oor die burgerbandradio te ontbied. Van Heerden se buurman was eerste op die toneel aangesien hy hom reeds na die plaas gehaas het toe hy die skote gehoor het.

“Voor enigiets verder gebeur het, het Kallie en sy buurman eers by die venster gekniel en saam gebid. Later toe sy toestand baie versleg het en hulle bekommerd geraak het, het Kallie gesê as die Here hom moet kom haal, is hy gereed om te gaan. Hy het vrede in hom.”

Van Heerden se vrou was nie ten tyde van die aanval by die huis nie.

“Die gemeenskap het op ongelooflike wyse ingespring om ondersteuning te bied ná die aanval,” sê Du Preez. “AfriForum het mense gestuur om die misdaadtoneel skoon te maak en ons het gehelp om die diefwering wat afgebreek is om Kallie te red weer terug te sit. Daar is heeltyd mense op die plaas om die plaas op te pas, die buurtwag help om na die honde om te sien, die buurman het dadelik ingespring om met die boerdery te help en te sorg dat die diere kos en water het. En nou bid ons almal saam vir die volgende wonderwerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Foxi ·

Wonderlike mense wat inspring om te help. Dankie Here…….
Die boewe wat die aanval gepleeg het…..dit wat hulle gesaai het, sal terugkom na hulle.
Sterkte aan die familie, glo net, hy sal gesond word. Als is in die Here se hande.

EMS ·

God is almagtig. Daar gebeur elke dag wonderwerke. Dankie vir ander wat help. Mag elke misdadiger sy hart vir God gee voor sy einde ook kom. Wees altyd gereed weet nooit wanneer dit ons tyd is nie. Heer ons vra vir volkome geneesing in Jesus Naam.

Veronica ·

Kallie en Thelma, ek ken julle nie, maar ek bid saam met julle vir genesing en vrede! Ons aanbid mos n WOW God!!!!Liefde in Christus.

Linda ·

Here, maak die ‘n wonderwerk bo alle
ons bid hom terug van die vyhand
beskerm hom, bedek hom, genees hom
in U vertrou ons dis nie asof ons iets of iemand anders het
Loof U, Prys U solank in die gang tot hy wakker is

Miekie ·

Beste Kallie , Thelma en Marle. Eerstens is dit ‘n wonderwerk dat Kallie nog lewe en ons sal ons Hemelse Vader vra om julle in die holte van Sy hand te hou , gesond te maak en te beskerm. Aan al die wonderlike mense wat sommer net inspring en help dis ook fantasties

Lana ·

Bid saam met julle vir Kallie se genesing!! Wonderlike buurman en mense wat so help!!

riaan ·

Sterkte ou maat hoop hulle vang die klomp gemors wat jou so verniel het jy het almal altyd met respek hanteer, jou nog nooit hoor vloek of selfs hard praat met enige iemand nie.Soos op die foto van jou en Thelma het ons jou altyd gesien met die selfde groot glimlag, twee great mense,

Pieter du Preez ·

Mense ek dink ons moet die plaaswag en sekeriteits maatskappye ook bedank. Veral vir Jakkals en sy span wat daar is vir die boerdery. Sowel vir die gesin. Hulle gaan ook baie uit hulle pad

cool ·

Ons hemelse Vader , dankie vir die beskerming teen die vyande van u volk, die wonderwerke wat u daagliks ons mee seen, ek bid vir Kallie se gesondhied, en as u Kallie huistoe roep, mag u sy geliefdes styf vas hou…
U kinders roep na U, help ons uit die boose se kloue vry…
In Jesus Christus naam
Amen

Marius ·

Aan al die mense daar betrokke. Dankie vir al julle hulp. Ek kry trane in my oë as ek sien ons mense begin al hoe meer georganiseerd raak, en dat ons wel kan saamstaan. Die regering gaan ons nie help nie, so ons moet paraat wees en ons self help. Ek bid in die naam van Jesus dat Kallie ten volle sal herstel. God seën julle almal!

Baklei terug ·

Dankie Afriforum vir jul bystand aan ons boere. Trots om lid van julle te wees.

Alle wense vir beterskap aan die boer en gesin.

Ek probeer altyd leer uit sulke situasies wat kon mens anders doen maar in so geval dink ek nie mens kan veel doen nie. Dalk n item in die salk he wat nood sein kan stuur? Baie moelike situasie. Sterkte oom.

ESTE STANDER ·

Ons GOD is groot! Dankie Here vir u liefde en genade! Here staan die familie by en hou hulle styf teen U vas…. laat U wil geskied, Amen.

Driekie ·

Alle eer aan Hom. – Een ding wat by elke aanval voorkom…volgens my die hoofmotief van aanvalle en inbrake. . is: ‘gedwing om kluis oop te sluit’ .. Mense, hulle versamel wapens.. …en ons weet waarom… Maak n plan.. Hou bv twee kluise aan… Wanneer hulle jou dwing om oop te sluit maak jy die verkeerde een oop…waar jou dokumente of speelgoed geweertjies bewaar word…. Of… Moenie jou wapen in n kluis toesluit nie ….dra dit 24/7 aan jou…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.