Gemeenskap dra gesin ná boer se motorongeluk

Dissie Kruger. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Orania het vandeesweek hande gevat nadat Dissie Kruger, vooraanstaande boer van dié omgewing, Sondag in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig dat Dissie in ʼn stabiele dog ernstige toestand is nadat sy Land Cruiser op die R369 net buite Orania teen ʼn vragmotor gebots het.

Derius Kruger, Dissie se seun, het Woensdag aan Maroela Media gesê dat familie, vriende, kollegas en die groter Orania-gemeenskap hulle gesin op die hande dra sedert sy pa se ongeluk.

“Ons word geweldig baie ondersteun deur die gemeenskap en hulle bemoedigende boodskappe. Toe ons Kimberley toe gejaag het om saam met my pa te wees, het ons dominee en van ons vriende na ons plaas gegaan om seker te maak dat die diere versorg is. Maandagoggend het een van my vriende weer gehelp dat my ma die hospitaal besoek, terwyl ons die plaas beman het.

“Die manier waarop hulle ons nou bystaan, is ʼn uitvloeisel van die ongelukstoneel waar boere, paramedici en vrywilligers ingespring het om te help,” het Derius gesê.

“Op hierdie stadium dra die mense se gebede ons.”

Dissie en sy gesin. (Foto: Verskaf)

Derius is kort ná die ongeluk in kennis gestel van die voorval en het Orania se beheerkamer gebel wat nooddienste na die toneel ontbied het.

“ʼn Mens weet nooit wat jou reaksie gaan wees as so iets gebeur nie, maar as jy lank genoeg met hierdie goed werk dan skop jou oorlewingsinstink in. Ek en my vrou het in die kar gespring en op pad na die toneel het ons my pa se mediesefondsinligting bymekaar gekry vir die paramedici.”

Dissie se vrou, Esmien, was by die kerk besig om op die orrel te oefen ten tyde van die ongeluk.

Volgens Derius, wat self ʼn boer is, het hulle nie weer met sy pa gepraat sedert hy Sondagaand in die hospitaal opgeneem is nie.

“Ek, my vrou en my ma kon hom vinnig sien, maar hy was in baie pyn en het nie veel gesê nie.”

Dissie is steeds by die Mediclinic Gariep onder sedasie. Indien sy toestand nie verder verswak nie, sal daar binnekort op hom geopereer word.

“Omdat een van sy arms op twee plekke gebreek is, gaan daar moontlik penne in hierdie arm gesit moet word. Sy skouer moet plate kry en een van sy heupe is uit sy potjie. Hy het ook nog verskeie frakture opgedoen,” het Derius gesê.

“Met my beperkte kennis glo ek dat dit nog ʼn lang herstelproses gaan wees.”

Die oorsaak van Dissie se ongeluk is in hierdie stadium nog nie bekend nie.

“Sodra my pa by sy volle bewussyn is, sal ons weet wat gebeur het,” het Derius gesê.

Dissie se Land Cruiser ná die ongeluk. (Foto: Joost Strydom)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peach

‘n Gemeenskap wat saamstaan en mekaar ondersteun, is voorwaar geseënd en florerend….. eendrag maak mag. Groete Maroelanders.

Swerwer

Sterkte aan die familie en gemeenskap van Orania. Beterskap en volle herstel word Dissie toegebid.

Hennie J

Sterkte, voorspoed en volle beterskap word aan die familie toegewens en baie dankie aan die gemeenskap van Orania vir die onbaatsugtige ondersteuning. Dit wys net ons Afrikaneres kan saamstaam as daar nood is.

Skappie

Baie sterkte aan julle as ‘n gesin, en gemeenskap. Mag onse Liewe Heer vir Dissie deur hierdie tyd dra, en hom ten volle laat herstel.

Danie

Voorwaar n pragtige voorbeeld vir die res van die siek land.