Gemeenskap geloof ná hulle ‘gewapende rowers’ vastrek

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Gemeenskap in KwaZulu-Natal het twee gewapende mans vasgetrek en aan die polisie oorgegee nadat hulle glo ʼn vrou beroof het.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 33-jarige vrou het vroeg Sondagoggend in Engongameniweg in Umlazi gestap toe twee gewapende mans haar gekonfronteer het. “Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op haar gerig terwyl die ander een haar selfoon geëis het.”

Volgens Naicker het die verdagtes gevlug nadat hulle die vrou van haar selfoon beroof het. “Die slagoffer het onmiddellik die rooftog by ʼn nabygeleë winkel aangemeld waarna lede van die gemeenskap bymekaargekom het en na die verdagtes begin soek het.

Naicker het gesê die gemeenskap kon daarin slaag om twee mans voor te keer. Die gesteelde selfoon sowel as die vuurwapen waarmee die misdaad uitgevoer is, is glo in die verdagtes se besit gevind. Die gemeenskap het die polisie ontbied en die verdagtes oorgegee.

Die verdagtes, 15 en 18 jaar oud, sal binnekort in die Umlazi-landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap geloof vir hul optrede en dat hulle nie die reg in eie hande geneem het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dit bewys weer eens dat ons misdaad kan bekamp of selfs uitroei as ons SAAMSTAAN en mekaar BYSTAAN!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.