Sakeman se dood skok gemeenskap

Bernard Pedro snr. by sy twee kinders, sy dogter Zanne links en seun, Bernard jnr. (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van St. Helenabaai is erg ontstig nadat ʼn bekende sakeman van dié Weskus-dorp Vrydagaand tydens ʼn sakeroof koelbloedig doodgeskiet is.

Vier verdagtes is Dinsdagmiddag op St. Helenabaai in verband met Bernard “Bernie” Pedro (64) se dood in hegtenis geneem. Hy is Vrydagaand by die BP Marine-viswinkel in die Sandy Point-hawe vermoor. Niks is ten tyde van die rooftog gesteel nie.

Volgens kapt. Tania Hellfrich, Weskus-distrikspolisiewoordvoerder, het die oorledene nog sy vuurwapen en sy selfoon by hom gehad.

Bernard het saam met sy broer, Wayne Pedro (59), die ikoniese viswinkel en -fabriek besit en bestuur. Volgens Hellfrich het die rowers die aand gewag totdat Wayne die perseel verlaat en Bernard alleen daar was, voordat hulle toegeslaan het.

Hellfrich het bevestig dat vier plaaslike inwoners, drie mans van 29, 35 en 37 jaar oud en ʼn 18-jarige vrou, Dinsdag op St. Helenabaai inhegtenis geneem is. Die verdagtes word aangehou vir ondervraging en behoort nog vandeesweek in die Vredenburgse landdroshof op aanklag van moord en poging tot roof te verskyn.

Die polisie is nog besig om die presiese verloop van sake en die motief vir die moord te bepaal.

Lede van die gemeenskap het op Facebook juis na die Pedro-broers se werksetiek, wat laat nagte se werk ingesluit het, verwys. Volgens Wayne het Bernard lank nadat die fabriek in die aande gesluit is, nog gesit en werk. “Hy het met absolute toewyding op elke gebied gelewe. Hy was my broer en altyd daar vir my. Ons het lang gesprekke gehad wat gewoonlik begin het wanneer hy een van sy grappies gedeel het. ʼn Mens moes fyn luister, anders het jy dit gemis, want ʼn droër sin vir humor kon jy nie kry nie.”

Bernard Pedro (64) wat Vrydagaand op St Helenabaai vermoor is. Foto: Facebook.

Wayne beskryf Bernard as streng en regverdig. “As jy opreg en eerlik met Bernard was, was jy okei en hy aan jou kant, maar as jy met draaie en nonsens by hom gekom het, het hy dit geweet en jy het geweet dat hy weet.”

Die broers het die onderneming by hul pa geërf en deur die jare omskep in ʼn bekende onderneming met klante van oral in die land wat vis en skyfies kom geniet het. Die Pedro-familie is een van die pionierfamilies wat in die 1960’s die visbedryf in St. Helenabaai kom vestig het.

Volgens Wayne kon hy en sy broer lekker koppe stamp oor sake, maar “bloed was altyd dikker as water”.

Facebook wemel van boodskappe waarin die Weskus-gemeenskap hul skok en hartseer oor “die ontydige dood van ʼn Weskus-ikoon” uitspreek.

Jennie Shean het op Facebook betoog dat die gemeenskap die moord nie net daar moet laat nie. Sy het verwys na die regering wat meer as R200 miljoen aan opgraderings, spesifiek veiligheidsopgraderings in die hawe, sou bestee het, maar waarvan nog niks gekom het nie. “Ons kan nie toelaat dat Bernie se dood tevergeefs is nie. Ons sal nie stil wees terwyl een van ons eie net nog ʼn statistiek word nie.”

Bernard het ook Sondae getrou in die NG Kerk-moedergemeente baskitaar gespeel. Wayne vertel dat sy kinders, Bernard jr. (25) en Zanne (22), sy wêreld was en dat hy altyd daar was om hulle te ondersteun en by te staan. “Hy laat by ons ʼn baie, baie groot leemte”.

ʼn Roudiens vir Bernard word Vrydag 21 Oktober om 14:00 in die NG Kerk-moedergemeente op Vredenburg gehou. Die diens sal regstreeks op YouTube uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pierre ·

As moord n sport was sal SA die onoorwone wereld kampione wees

Hannelie ·

HOEKOM!!!!!!!! Niks word geroof nie……………wat is ‘n lewe werd in hierdie land.
Hoop dit gemors word gevang

madels ·

Want hulle wil almal vermoor wat iets in hierdie land bereik het, klink amper soos n “hit” want hoekom het hulle gewag tot sy broer vertrek???????

Groen Ghoen ·

Die “redelike man” kan die sinnelose bloedvergieting net nie meer verwerk en verdra nie. Die veelgeprese Rainbow Nation het verdamp. Wie is die volgende plaasmoord? Die volgende sakemoord en rooftog? Die volgende huisroof en – moord?

Linx ·

Klink meer na n hit…asof hulle reeds betaal was en nie nodig was om enigiets te vat nie

Delia ·

So as niks geroof was nie, hoekom dit noem sakeroof. Wat van dis n sluipmoord

Kokerboom ·

Vraag bly opkom: Wanneer gaan die man in die straat nou sy buurt, sy dorp/stad, sy land begin terugneem? JHet ons lankal nie reeds die versadigingspunt bereik van die arrogansie en verwoesting wat die ANC en sy trawante op ons afgedwing het?

Tewis ·

BAIE DANKIE ANC !!! Vir grense wat deur julle oop gegooi is. Want as jy hoor is dit een of ander onwettig of buitelander wat betrokke is .
En dan ook sommer binne ń paar dae borg ook kry????

Louis ·

Sterkte aan Wayne en sy kinders. Dink elke dag aan hulle as ek by sy huis verby ry oppad werk of dorp toe. Rus in vrede ou maat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.