Gemeenskap gryp in ná jong man malaria kry

Francois van Staden. Foto: Facebook.

Francois “Pikkie” van Staden (24) is tans in ʼn baie ernstige toestand in die waakeenheid van die Netcare The Bay-hospitaal in Richardsbaai nadat hy met malaria gediagnoseer is.

Andries Marais, Francois se stiefpa, het aan Maroela Media gesê die gesin is oorweldig deur die gemeenskap se ondersteuning. Marais het gesê Francois het sowat twee weke gelede begin siek word met normale verkouesimptome soos kopseer en later rugpyn.

“Hy was twee keer in daardie twee weke by die dokter, maar het glad nie beter geword nie. Hy het ons verlede Saterdag op Geloftedag gebel en gesê hy is dors; ons moet asseblief vir hom water bring,” het Marais vertel.

Francois het nie wakker geword toe hulle by die huis kom nie en hulle het op die ou end die hond deur die venster ingelaat dat hy op hom spring. “Hy het by die deur inmekaargesak. Ons kon sien dis baie erger as wat ons gedink het. Hy kon nie sy blaas beheer nie.”

Francois is in die Pongola-hospitaal opgeneem. Sy gesin was egter nie tevrede met die behandeling wat hy ontvang het nie en het hom na die Itshelejuba-hospitaal gehaas. Volgens Marais het toetse by dié hospitaal getoon dat hy malaria onder lede het. Francois het volgens Marais opgeswel en geel begin vertoon en sy urine was ook baie donker.

“Hulle kon nie daarin slaag om die binneaarsoorgieting weer in sy lyf te kry nie want hy was te geswel. ʼn Staatshospitaal is nog oukei in die dag, maar ʼn nag in ʼn staatshospitaal is ʼn nagmerrie. Hy het in die stort geval en een van die ander pasiënte moes hom maar ophelp. Ons het besef die kind gaan doodgaan hier.

“Ons het hom Dinsdagoggend ondanks die feit dat hy nie medies het nie na Richardsbaai gebring waar hy in die waakeenheid opgeneem is,” het Marais gesê. Volgens Marais moes die gesin R88 000 betaal vir Francois om opgeneem te word.

“Ons gemeenskap in Pongola is ongelooflik. Met hulle hulp kon ons gister R44 000 en vandag R44 000 betaal. Daar is reeds ʼn bykomende R12 000 wat ons nou kan gebruik vir doktersonkoste, medikasie en X-strale wat alles uitgesluit was by die R88 000. Ons wil die mense regtig bedank.”

Francois reageer glo goed op medikasie en behoort binne twee dae na die hoësorgeenheid oorgeplaas te word. Volgens sy stiefpa is Francois ʼn gastegnikus en het hy werk gedoen langs die Mosambiekse grens. Die gesin vermoed dít is daar waar hy malaria opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Buitestander ·

Dit is altyd goed as mens al is dit hospitaalplan aan behoort.

Langtoon ·

Het die dr nie onmiddellik bloedtoetse gedoen toe hy hoor die man het langs Mosambiekse kus, gewerk nie?
Simptome is klaar verdag….!1

Maritza ·

Nadat hy by die staats hospitaal opgeneem is , is hy vir ñ reeks toetse gestuur, onder andere Listeria ook. Die dokter het later die middag verneem na omstandighede voor sy siekte en het daarvolgens versoek dat hulle ook toets vir verskeie tropiese siektes. Dis toe dat hy met malaria gediagnoseer is. Ons het uit eie ondervinding geleer dat dokters in SA nie dadelik vir malaria toets nie.

Stompies de Lange ·

Wanneer laas het jy ‘n Dr. in Suid Africa gesien ou, ek soek ook een.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.