Gemeenskap in rou na jong ma sterf

Alecia van der Westhuizen saam met haar babadogtertjie Mia.

Die gemeenskap van Kuruman in die Noord-Kaap is in rou gedompel nadat ʼn jong ma die naweek oorlede is toe sy saam met haar een maand oue babadogtertjie in ʼn motorongeluk betrokke was.

Die ongeluk het op die N14 tussen Kuruman en Kathu gebeur en Alecia van der Westhuizen (27) is op die toneel dood verklaar.

Volgens Monica Kotze, Van der Westhuizen se sussie, was baba Mia in haar karstoeltjie vasgegordel toe die ongeluk plaasgevind het.

Sy het niks oorgekom nie. “Dit is ʼn wonderwerk,” vertel Kotze aan Maroela Media.

Ao. Mosimaneotsile Letsapa, woordvoerder van die polisie, het gesê Van der Westhuizen het vermoedelik beheer oor haar silwer Toyota Fortuner verloor waarna die voertuig omgeslaan het. Die ongeluk het omstreeks 16:20 gebeur.

Van der Westhuizen en haar man, Pieter, was maar twee jaar getroud en het hul eersteling gehad nadat Alecia sewe jaar gelede limfklierkanker op die ouderdom van 20 jaar oorwin het.

Op die vraag oor hoe haar sussie onthou sal word, antwoord Kotze dat dít die maklikste vraag van almal is om te antwoord: “Sy was net amazing. Sy was die beste dogter en sussie. Sy was só slim en het alles altyd in plek gehad. As daar ʼn probleem was, het sy hom vir jou opgelos.

“Soos sy nou is, was sy vir ons op aarde. ʼn Engel.”

Van der Westhuizen se begrafnis vind Saterdag plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Wenk ·

Maroela – paragraaf 5 maak melding die oorledene as van der merwe waar die res van die berig verwys na die oorledene as van der westhuizen?

Nico Strydom ·

Dagsê Wenk
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Stebastiaan ·

My innige meegevoel met die familie en vriende mag God jul vertroos in hierdie tyd wat voorlê. Sterkte

Mike ·

Verstaan ek verkeerd oor die: “Van der Merwe het vermoedlik beheer oor haar voertuig”, moet dit nie ‘Van der Westhuizen’ wees nie? En die woord uitgelaat soos “beheer ‘verloor'”.

Nico Strydom ·

Dagsê Mike
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Mickey ·

Ai tog dis so hartseer storie en dan soek mense nog na foute in die artikel???????

$ ·

Mickey, hulle soek nie na foute nie, die foute was oop en b’oot en het verwarring veroorsaak, dis net reg van hulle om dit aan Maroela uit te wys. As dit jou familielid was sou jy tog wou hê basiese inligting soos die persoon se van moet reg weergegee word.

Susan ·

Baie baie tragies dat sy so moes sterf en dat haar kind nooit sy mamma sal jen no. Ek huil saam met haar geliefdes????

Petro ·

Goeie mamma gewees. Weereens bewys dat karstoeltjies klein lewetjies spaar. RIV mamma en innige meegevoel aan haar familie.

Onpadwaardig ·

Het julle al gesien hoe ry die mense op daardie pad, ek wed julle sy het nie vanself beheer oor haar voertuig verloor nie, ‘n padvark met ‘n Polo het heel vermoedelik ‘n ander kar verbygesteek op ‘n sperstreep en voor haar ingery.
My innige simpatie met hul familie en met die ou babatjie, dis my heel grootste vrees, dat my kinders sonder my moet grootword.

Dina ·

Ai, dis so tragies. Not ‘n kind wat sonder n eie mamma gaan grootword. My hart bloei vir die familie wat deur hierdie hartseer moet gaan.

Heidepop ·

Alecia, was saam ons in Heide Dameskoshuis, sy was regtig ‘n ongelooflik mens! Hardwerkend, doelgerig en het nooit opgegee nie! Sy was inderdaad, amazing! Ons treur saam haar familie en vriende! R.I.V Alecia <3 <3

Leon ·

Soos meeste van die GROOT 4X4 nutsvoertuie is die Fortuner nie baie vas op sy voete nie en hulle raak maklik buite beheer as jy nie versigtig is nie. Hulle is baie “top heavy”.
Jammer vir die familie.
Ek bly maar by die klein lae motorjties. Hulle val nie so maklik om nie.

Clipper ·

Baie hartseer dat so ‘n hoogaangeskrewe vrou met so ‘n pragtige kind op hierdie wyse moet omkom. Alle simpatie vir die familie met die verlies. Die vraag ontstaan egter hoe so ‘n blykbaar intelligente vrou beheer oor die voertuig verloor het. Was dit spoed of is sy van die pad afgedwing of wat. Miskien is meer ondersoek nodig na die omstandighede agter die geval

Patrys ·

Sy het vermoedelik omgedraai om na die baba te kyk, toe swenk sy na links van die pad en toe trek sy die voertuig weer na regs. Maar ongelukkig het die voertuig klaar buite beheer geraak. Ek glo nie sy sou haar kind se lewe in aspris in gevaar stel deur te vinnig te ry nie. Sy was voorwaardelik ‘n engel. Ken haar. Dis vir ons almal ‘n groot tragedie.

Hanlie ·

So verskriklik hartseer. Baie sterkte aan die familie en veral Pieter wat nou hierdie ou bondeltjie se mamma en pappa moet wees. Ek glo hy sal baie ondersteuning kry. Ek glo nie dat die mamma die spoedperk sal oorskry met ‘n kleine babatjie in die motor nie. Miskien ‘n ander rede, maar spoed – aikona.

toy ·

Ai dit is verskriklik hartseer. My hart gaan uit na die familie. Liewe Here hou hulle styf vas asb.

Mamma ·

Daardie is ‘n vreeslike gevaarlike pad – ek is altyd baie senuweeagtig as een van my hartsmense daar moet ry. Miskien sal bietjie meer sigbaarheid van wetstoepassers help. Innige simpatie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.