Gemeenskap knap ikoniese stadion self op

Leerders, personeel en ouers van Hoërskool Monument by die Bob van Reenen-stadion waar hulle die afgelope naweek met skoonmaakwerk gehelp het. (Foto: Trompie van der Berg)

Ongeveer 400 lede van die Krugersdorp-gemeenskap het die afgelope naweek kragte saamgesnoer om die “eens ikoniese” Bob van Reenen-sportstadion van hoek tot kant skoon te maak.

Die projek om dié stadion weer tot sy vorige glorie te herstel word deur die DA in samewerking met die burgerregte-organisasie AfriForum gedryf.

Sowat 130 leerders, personeel en ouers van Hoërskool Monument het ook Saterdag hul moue opgerol om die stadion op te ruim. Dit was die tweede grootskaalse skoonmaakaksie wat vanjaar by dié stadion van stapel gestuur is. Sowat 200 mense het ook op 8 Januarie met skoonmaakwerk gehelp.

Die Bob van Reneen-stadion ná twee grootskaalse skoonmaakaksies. (Foto: Verskaf / Martin Lombard)

Martin Lombard, voorsitter van die AfriForum-tak in Krugersdorp, sê daar is in dié stadium geen water- of elektrisiteitsinfrastruktuur nie en dat die atletiekbaan boonop verwoes is. Die stadion is ook oor die afgelope jare geplunder en besteel.

“Die stadion wat eens volgepak was is nou net ʼn leë dop. Dit het ʼn seeroog in die gemeenskap geword. Ons kan nie toelaat dat ons dorp verder verval nie.”

Lombard sê daar is tydens die eerste skoonmaakaksie omtrent 24 ton vullis weggery. Daar is onder meer ook bome uitgekap en gras gesny. Die afgelope naweek is daar meer indringend skoongemaak en herstelwerk is aan byvoorbeeld die hekke en ryvlak op die perseel aangebring.

“Daar is seker 48 ton vullis die afgelope naweek weggery. Mense het met trekkers en vragmotors kom help. Alles wat tot dusver gedoen en gelewer is, kom van die publiek af – geld, water, kos en dienste. Ek is stomgeslaan deur die oorweldigende reaksie uit die gemeenskap.”

Miljoene se herstelwerk

Die Bob van Reenen-stadion staan al sowat 12 jaar ongebruik en het intussen erg verval. Hierdie foto is voor die skoonmaakwerk geneem. (Foto: Verskaf)

Volgens Lombard sal dit na raming sowat R30 miljoen kos om die stadion weer tot sy vorige glorie te herstel – geld wat die munisipaliteit nie het om in te ploeg nie.

“Hiervoor sal ons beleggings benodig.”

Lombard sê AfriForum beoog om die bestuur van die stadion in die nabye toekoms oor te neem en te verseker dat dit weer ʼn plek kan wees waar die gemeenskap deur sport verenig kan word.

Hy hoop nou dat beleggers in die herstel en toekoms van die stadion sal belê. Sou die stadion weer in ʼn posisie wees om byeenkomste aan te bied, sal dit boonop ʼn groot ekonomiese inspuiting vir die dorp wees, sê Lombard.

Heenkome vir gemeenskap

“Ons doelwit is om die stadion ʼn plek te maak waar sportklubs, skole en ander atlete weer kan oefen en deelneem.

Die Bob van Reenen-stadion, wat ʼn baie ryk geskiedenis in die dorp het, staan al sowat 12 jaar ongebruik en het intussen erg verval. Hierdie foto is voor die skoonmaakwerk geneem. (Foto: Verskaf)

“ʼn Hele generasie het dít wat ek as jong atleet destyds by die stadion ervaar het misgeloop. Die stadion het so ʼn ryk geskiedenis en is ikonies vir die dorp en sy inwoners. Almal het herinneringe aan die Bob van Reenen-stadion. Daar is rekords gebreek, gesing en gejuig. Dit moet weer ʼn heenkome vir atlete, sportspanne en die gemeenskap wees.”

Jan van Rooyen, sportbestuurder by Hoërskool Monument, sê die skool het dadelik handopgesteek om by die opruimingswerk betrokke te raak en sal ook van die eerstes wees om die stadion weer vir oefeninge en byeenkomste te benut.

“Dit moenie ʼn wit olifant wees nie. Dit was ʼn uitstekende fasiliteit met ʼn lang geskiedenis en ons wil ons gewig ingooi om dit weer te herstel.”

Tyrone Gray, die DA se nuutverkose burgemeester vir die Mogale- plaaslike munisipaliteit, sê hy loof die gemeenskap vir hul ondersteuning.

“Dit is ʼn ongelooflike ervaring.

Die Bob van Reneen-stadion ná twee grootskaalse skoonmaakaksies. (Foto: Verskaf / Martin Lombard)

“Ek sien daarna uit om al ons ander gemeenskapsbates weer op dreef te kry – tot voordeel van die gemeenskap, deur die gemeenskap. Die munisipaliteit behoort aan die inwoners en behoort dus die lewens van ons mense te bevoordeel.”

Gray sê samewerking op dié manier help ook om sosiale kohesie te bevorder en die dorp met die samevoeging van hulpbronne te herstel, sonder om tenders uit te reik.

’n Derde skoonmaakprojek word Saterdag by die stadion beplan en enigiemand wat wil help is welkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

casper ·

En die ANC lag hardop — Hulle kry net nog hulle belastings in en hoef niks dienste te verskaf in ruil daarvoor nie !!!

Chantel ·

So moet ons almal saamstaan en ons dorpe self regruk. Help nie om te kla nie, doen iets daaraan. Ons gemeenskap in Kroonstad doen dit alreeds van 2021 af en ons dorp is stadig besig om weer mooi te word.

Katvis ·

Ek is nogal verbaas dat die EFF en ANC nie toy toy en dans oor hierdie werk wat gedoen word nie!!!

Vernon ·

Hulle gaan seker “demand”om sokker daar te speel,noudat dit netjies is!!!

Gert ·

Die stadion sal seker weer na een of ander kadder vernoem word as dit weer geld maak en tot nut is. Dit na die kadders dit laat verval het

JohanR ·

Nou wag ons vir ANC om te se julle mag dit nie doen nie, en daar moet eerder tenders uit gesit word om die soort opknapping te doen.

Swerwer ·

Die is ‘n goeie gebaar maar ongelukkig val die so reg in die ANC se skoot. Hul is te gewoond daaraan om net te ontvang en niks instand te hou nie.

Vonkprop ·

Bly om te hoor hy word opgeknap sodat die stadion weer gebruik kan word, maar ek moet eerlik wees ek het net slegte herinneringe van daardie plek. As kind op skool het ons ure in die son gesit en simpel liedjies gesing vir die interhoër kompetisies. En om nie van al die bye te praat nie. Jy is later so moeg, warm en gebrand maar sing moet jy sing. Niks sleg van die stadion self nie, maar net my ondervindinge daar.

Mariana ·

Wel gedaan. Kyk ons mense is nie bang om hul moue op te rol nie en kyk net die verskil. Nou moet dit net skoongehou word. Dit is wonderlik om te sien dat hulle genoeg omgee om self in te spring. Hoop ander dorpe volg hul voorbeeld. Well done en dankie.

Elmarie ·

Ek onthou baie goed toe my kinders nog daar aan atletiek deelgeneem het. In die goeie ou dae! Daar is mos ‘n baie groot Hipermark reg langsaan, hulle gaan beslis finansieël baat vind as die stadion weer reg is – Mense sal gou oor die pad draf om koeldranke of ander verfersings te gaan koop. Kan die DA en Afriforum nie die eienaars nader om ook bietjie te help met fiansies nie!

SlinkseKoljander ·

Daarsy, doen die ANC se werk vir hulle. Dit is presies wat hulle voor sit en wag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.