Gemeenskap staan saam ná seun (3) byna verdrink

Nico Mostert sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

Nico Mostert sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

ʼn Ma se angswekkende noodoproep Sondagmiddag, nadat sy haar driejarige seun uit ʼn swembad gehaal het, het ʼn hele plaasdorpgemeenskap laat hande vat om sy lewe te red.

Klein Nico se ouers, Mary (37) en Neels (35) Mostert, woon sedert Oktober by Neels se broer op Sundra in Mpumalanga, waar Nico byna in die swembad by die huis verdrink het.

Mary het Maandag aan Maroela Media gesê sy was omstreeks 16:00 in die kombuis besig om die kinders kos te gee, toe sy ʼn oproep ontvang oor ʼn familiekrisis.

“Die sein is baie swak in die huis en ek moes buite toe gaan vir beter opvangs en is by die voordeur uit,” het Mary emosioneel gesê.

Terug in die huis het sy besef Nico is nie in die kombuis of by sy pa nie. “My eerste reaksie was om in die swembad te gaan kyk. Hy het by die agterdeur uitgeglip terwyl ek buite was en in die swembad geval. Ek het hom daar in die diep kant sien dryf. Hy was blou en pap.”

Dit is nie bekend hoe lank hy in die water was nie. Mary het dadelik om hulp geroep en Nico uit die water gehaal. Neels het begin noodhulp toepas, terwyl Mary hulp oor die gemeenskapsradio ontbied het.

“Help asseblief, my kind is dood, my kind is dood, Here help asseblief!” het Mary histeries oor die radio geroep.

Binne ʼn minuut was Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs en Derek Meyer, ook van die buurtwag, by die erg getraumatiseerde ouers.

Bester het Maandag aan Maroela Media vertel hulle het Nico dadelik op sy sy gedraai in ʼn poging om die water uit sy lugweë te kry. Die twee mans het dadelik noodhulp begin toepas, terwyl Bester ʼn helikopter ontbied het om die seun dringend by ʼn hospitaal te kry.

“Daar was egter nie ʼn helikopter beskikbaar nie. Ek het geweet ons speel vir tyd en het toe toestemming by die seun se ouers gevra of ons hom in my bakkie na die Parkland-hospitaal in Springs kon haas,” het Bester gesê.

Bester het bestuur, terwyl Meyer en nog ʼn buurtwaglid aanhou noodhulp toepas het.

“By die hospitaal is Nico dadelik in die ongevalle-eenheid opgeneem, waar die personeel goeie werk verrig het. Die seuntjie was volgens die skale wat dokters gebruik, op vlak 4 toe hy opgeneem is. Vlak 3 is breindood. Met die behandeling en medikasie is hy tans op vlak 7, wat stabiel is.”

Nico se ouers het nie ʼn mediese fonds nie en duisende rande moes inderhaas ingesamel word om hom in die hospitaal se waakeenheid te laat opneem. “Ons het weer die gemeenskapsradio ingespan om skenkings te vra en ek het begin huil toe ek die reaksie sien,” het Bester gesê.

Hy het gesê die gemeenskap het in toue by kitsbanke gestaan om geld te trek om aan die gesin te skenk vir Nico se mediese onkostes. Meer as R80 000 is binne ure ingesamel en Nico is na die waakeenheid oorgeplaas.

Nico word tans steeds daar behandel en is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel en in ʼn geïnduseerde koma geplaas. Volgens Mary kry Nico ligte stuiptrekkings maar reageer hy as mense hom aanraak.

“Die dokters gaan vanaand begin om hom stelselmatig by te bring. Hy kan darem self asemhaal. Hy gaan more vir breinskanderings om vas te stel of hy breinskade opgedoen het.”

Mary het in trane uitgebars toe sy oor die gemeenskap se betrokkenheid en optrede uitgevra is.

“Ek kan nie beskryf hoeveel almal se hulp vir ons beteken nie. As dit nie vir die twee Dereks se vinnige optrede was nie, het ek nie meer my seun gehad nie. As dit nie vir almal se ruim harte en donasies was nie, sou ons hom nie in die private hospitaal kon laat behandel het nie. Ek wil net baie dankie sê aan almal wat gehelp het, almal wat gebid het en steeds bid en almal se bystand. Ek is moedeloos en verwyt myself oor wat gebeur het en waardeer almal se omgee en boodskappe van bemoediging,” het sy bygevoeg.

Bester het gesê die buurtwag behartig die fonds wat gestig is om met Nico se mediese onkostes te help. “Daar is egter nog baie onkostes. Ons het tans net genoeg om hom vir twee dae in die waakeenheid te hou en dus duur ons poging om fondse in te samel, voort.”

Hy het verder gesê dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap in ʼn tyd van nood saamgekom het om die lewe van ʼn kind te red en hy het die hele gemeenskap uit die diepte van sy hart bedank.

Enigiemand wat wil bydra tot Nico se mediese onkostes, kan Bester kontak by 082 923 7027.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Alida ·

Ag nee man nie nog n kind nie. Mense hou julle oe 24/7 op die klein kindertjies. Siestog man.

Anoniem ·

Ai Alida? jy sien net dit raak jy sien hoe n klein dorpie se hele gemeenskap saam staan op n sondag middag saam bid en oor die R80 000 in samel in n kwesie van n uur. Jy sien nie hoe God mense gebruik het om n wonderwerk te laat gebeur nie nee wat jammer jy is so negatief ek hoop jy is n super ma wat se kinders letterlik nog nooit n skrapie gekry het

Amanda ·

Moet ASB nie praat van iets wat jy GEEN ondervinding van het nie.

Marina ·

Anoniem en Amanda, julle sien nou die negatief in Alida se kommentaar maar ek glo nie sy het dit so bedoel nie.

Frikkie ·

Alida, ek voel net soos jy! Ons as ouers MOET waaksaam wees. Net soos wat ons onsself in ons huise moet toesluit, hoë heinings met lemmetjiesdraad en groot honde moet hê, al wat n’ alarm is met “panick buttons” in elke vertrek, jou “pepperspray” naby en gereed vir wanneer jy dalk by n’ verkeerskruising gekaap kan word ens ens ens… Ons moet voor-uit dink en antisipeer; dit gaan nie oor jou kind op-piep nie maar oor hul veiligheid en gesondheid. Ek het as kind my arm gebreek en dit oorleef maar ek vrees vir die oomblik wat my eie kind sy arm breek? Ongelukkig gebeur ongelukke en dit gebeur vinnig. Ons is die kinderties geleen van die Here af en Hy vertrou ons met hulle. My hart breek vir elke ouer wat n’ kind verloor, het gesien hoe my pa stuk-vir-stuk wegkwyn na my broer se dood. Ek blameer niemand ek wil net hê ons moet wakker word!!!

anoniem ·

Dit het met ons ook gebeur… Ons kind was dood. Maar God haar terug gegee sonder enige komplikasies gebid en Goedheid ervaar God is liefde!!! Sterkte aan die gesin moeilike situasie wat mens nie gou vergeet nie en dit Kan met ENIGE iemand gebeur Bid vir julle !!!!

Piet Snot ·

Anoniem, ek dink aan jou. Op 25 Desember laasjaar het ‘n kind wat ons uit ‘n swembad gehaal het, onder my hande gesterf terwyl ek noodhulp toegepas het.
Nodeloos om te sê, ek’s nie heeltemal lekker nie.

Sharisca ·

Ons bid vir jou boeta !! Liewe Jesus is aan jou sy …Hoop jy gaan sommer n spoedige genesing hê…

Ongelukkig gebeur n ongeluk so vinnig,Dis nie altyd die ouers se skuld nie,Die wat nou wil vinger wys…Ek is baie erg oor veiligheid en hou my kinders met n valk oog dop,maar weereens kan dinge binne n oogwink gebeur. Ons het gisteraand by my ouma gaan kuier,ons seuntjies was by ons en ons groet mekaar buite die huis oppad hek toe en nog voor ek kon keer is my 3 jarige by die hek uit in die hoofstraat in wat amper altyd besig is…Dank die Here hy was stil op daardie oomblik…

Anonieme ouma ·

Mag ons Hemelse Vader vir klein Nico aanraak en hom volkome gesond maak. Dit is wonderlik om te sien daar is nog so baie mense wat met hart en siel omgee. Hier gaan dit om ‘n kindjie se lewe! Wat het dobbel daarmee te doen? Die ouers was by die huis toe dit gebeur het. Maak seker jy vee eers voor jou eie agterdeur want God slaap nie en sondetjies kruip baie gou uit as mens begin vinger wys.

Della ·

Dis maklik om te vra waar die ouers was in enige ernstige geval, maar hierdie klein mensies glip so vining weg-dit vat net ‘n sekond. Ek hou myne ook met ‘n valkoog dop maar ongelukke gebeur nog steeds. Mens kan egter nie te versigtig wees met swembaddens wat nie beveilig is nie. Sterkte met julle kleintjie en wow vir al julle wat so awesome was met hulp en bystand….

Cindy ·

SWEMBAD COVERS MOET WET WEES!!!!!! Ek het self 2 kleintjies en mens kan dit net nie waag om nie jou oë op hul te he as daar water oop is nie.

Amch ·

Ek sê dankie aan ons Hemelse Vader Hy het alles moontlik gemaak.

zahn ·

Daar kan gerus gekyk word na die privaathospitale se tariewe hoor. Buitensporig! Sterkte an die gesin.

Hannes ·

Baie sterkte. Ek het as ‘n klein seuntjie amper verdrink. Het Epilepsie en Asma oorgehou en die spesialiste het gese ek sal leerprobleme he. Op 9 jarige ouderdom het God my genees van beide kondisies en vandag is ek ‘n lektor by ‘n kollege in Australie. Vertrou net op die Here, “God will direct your path”

Anoniem ·

Ai tog !! waar is die dae toe hospitale werklilk omgegee het om n mens se lewe te red maar GELD moet altyd die oorhand kry voor daar n lewe gered word. Sterkte aan die seun se familie.

Marietjie ·

Dankie Here vir ‘n awesome gemeenskap, almal se harte wat U aangeraak het. Ons weet nie wat die doel was nie, maar dit bring ons op ons knieë en ons vra dat U asseblief hierdie kleinding se lewe sal aanraak. Amen

Rika ·

Baie sterkte aan klein boetman. Ek glo in wonderwerke en ek GLO aan God. By Hom is alles moontlik. Ek het ook 2 kinders, nog baie klein en ek is baie oorbeskermend, my familie sê dit gedurig vir my, maar hulle is myne, n geskenk van God en ek sal my bes doen om hulle veilig te hou. Ongelukkig gebeur n ongeluk so so vinnig, dit was glad nie die mamma se skuld nie. Mamma, moet nie jouself verwyt nie, ek glo en ek weet God gaan hom gesond maak en eendag gaan hy sy getuienis voor 1000e mense vertel, sy storie gaan mense weer in wonderwerke laat glo, in God laat glo… Sterkte mamma, pappa en boetman. Julle is in ons gebede. En well done vir n gemeenskap wat nog omgee en liefhet sonder voorwaardes. Julle is n inspirasie vir ons almal

EKKE ·

Voordat my pa ‘n swembad laat insit het moes ons eers swenlesse he. ‘n voorstel aan alle mense met swembaddens en natuurlik ‘n hek wat altyd gesluit is

Ester ·

Ek kan my indink waardeur julle gaan. Julle moet sterk staan. GOD IS ALTYD IN BEHEER! BY ONS GOD IS NIKS ONMOONTLIK NIE. BID SONDER OPHOU!!!!!!!

Kotie ·

Al wat ek kan sê is ek is dankbaar om in ‘n gemeenskap te kan woon wat altyd by mekaar staan. Ons hou aan bid en glo vir volle genesing. Ons gebede is ook met die ouers deur hierdie onsekere tyd.

vonnie ·

maklik gesê hou jou oë op jou kinders. hulle is so vinnig om weg te raak. en dan is die grootste problem hulle nuuskierigheid. ouers kan ook net soveel doen. en moenie altyd die mammas blameer nie. hulle doen wat menslik moontlik is.

Jaco ·

Baie Baie sterkte aan die HELE familie. N ongeluk gebeur Baie vinnig en daaruit leer mens lesse.

Baie sterkte aan klein Nico, ons glo en vertrou jou herstel proses is vinnig en sonder enige komplikasies.

Mamma en Pappa + familie: klein man het julle nou nodig, julle gebede, vertroue en die wete dat julle daar is by hom.

Baie sterkte – julle is almal in ons gebede.

Dankie aan julle gemeenskap wat so onvoorwaardelik gee en bystaan-julle is HEROS!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.