Gemeenskap neem wraak oor verkragting

Woedende Inwoners van Gugulethu bestook ‘n kar met klippe. (Foto:Verskaf)

Die gemeenskap van Gugulethu op die Kaapse Vlakte het vervoerdienste van die Amaphela (Toyota Avanza) Taxi-vereniging die naweek tot stilstand gedwing. Dit volg nadat ʼn dertienjarige meisie na bewering Saterdag verkrag is toe sy van dié taxi-dienste gebruik gemaak het. Vincent Domingo, sekretaris van die Gugulethu-ontwikkelingsforum, sê die meisie het nadat sy ekstra klasse by die JL Zwane Memorial Church bygewoon het, in ʼn Avanza-taxi geklim waarna sy glo deur drie mans verkrag is.

Hoewel die omstandighede van die beweerde verkragting nog nie duidelik is nie, het gerugte oor die voorval soos ʼn veldbrand versprei, waarna honderde inwoners Saterdag die strate ingevaar en hul woede teenoor Amaphela te kenne gegee het. Die winkelbestuurder van African Sweets Cash Store wat oorkant die taxi-staanplek geleë is, Azemu Jagesso, sê spanning loop steeds hoog in die gemeenskap. Hy vertel dat inwoners Maandagoggend nog paaie met buitebande versper het.

Mkhangeli Dosini, voorsitter van die Amaphela Taxi-vereniging het aan Maroela Media bevestig dat dienste tydelik opgeskort is en sê “dit is nie ʼn probleem nie. Ons moet met die gemeenskap saamstem. Die gemeenskap is ons mense. As ons bestuurders iemand misbruik, moet ons met die gemeenskap saamstaan.” Dosini sê ook dat hulle tot nou toe nog geen saaknommer van die voorval of registrasienommer van die betrokke motor ontvang het nie.

Die jongste beweerde voorval is egter nie die eerste aantyging teen dié private taxi-vereniging nie. ʼn Inwoner wat by die Gugulethu-ontwikkelingsforum betrokke is, bekend as Kaya, sê teenkanting teen die Avanza-taxi’s kom al ʼn geruime tyd voor. Hy sê die groep tree onafhanklik op en word dus nie soos ander taxi’s gereguleer nie. Dit bring mee dat Avanza-taxi’s glo nie aan roetevereistes voldoen nie en dat kriminele aktiwiteite ongesiens vanuit die taxi’s kan plaasvind.

Kaya meen dat die inwoners kwaad is vir geweld teen vroue en kinders en sê dit is nie net ʼn probleem vir die gemeenskap is nie, maar vir die samelewing. “Dit is ʼn nasionale krisis”.

ʼn Gemeenskapslid, Sihle Shange (23), wat langs die Gugulethu-taxistaanplek werk, sê hulle is kwaad. “As hulle jou nie verkrag nie, vat hulle jou geld. Dit is regtig ʼn groot probleem” sê Shange, wat vandag verkies het om eerder van ʼn Uber gebruik te maak.

Volgens Dosini gaan hulle Dinsdag met gemeenskapsrolspelers en inwoners vergader om die kwessie te bespreek. Dosini is hoopvol dat Amaphela-taxi’s binnekort weer in die Gugulethu-omgewing operasioneel sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

James ·

So as mens wraak wil neem in SA gooi jy ander motors met klippe.

johan ·

Of jy brand iets af verkieslik n staats gebou n skool of biblioteek sodat jy dom kan bly en iemand skuld kan gee.

Johanna Botha ·

Ag ou storie …opvoeding begin by die huis …watse opvoeding is nog oor ….geen waardes …so daar het jy dit nou ….betoog al wat julle wil ….more selfde storie oor en oor

Stan ·

Die verkragting is baie erg en nie aanvaarbaar nie!!! Daardie arme kind se lewe is verwoes.

Die reaksie van die gemeenskap doen egter vêrder afbreek. Is dit dalk uit moedeloosheid dat die gereg nie meer vertrou kan word nie of is dit net grootliks anargie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.