Gemeenskap ‘ongelooflik’ in soektog na vermiste Pta-ma

Foto: Phillip Bruwer

Foto: Phillip Bruwer

Die soektog na Madelein Murray (40), die sakevrou en ma van vyf kinders wat Vrydagoggend deur vloedwater in Pretoria meegesleur is, duur onverpoosd voort.

Maroela Media het die Bon Accorddam, in die noorde van Pretoria, Donderdag besoek, waar die polisie se duikeenheid en soek-en-reddingseenhede, van sover as Benoni en Bronkhorstspruit, saam met die Tshwane-nooddienste die dam van 148 hektaar fynkam. Die dam is nou die fokuspunt van die soektog.

Adj. Jan Louw, koördineerder van die polisie se duikeenheid, het aan Maroela Media gesê die soektog begin elke dag met eerste lig by die laagwaterbrug in Flowerstraat in Capital Park, waar Madelein en haar seun, Hanco (20), verlede Vrydagoggend omstreeks 03:00 in Henco se Nissan Skyline ná swaar reën deur vloedwater meegesleur is.

Hulle soek daagliks langs die Apiesrivier oor ʼn gebied wat oor sowat 13km strek, van dié laagwater brug tot waar die rivier in die Bon Accorddam invloei en in die dam self.

Ao. Coenie van Rooyen en die vierjarige snuffelhond, Tyron. Foto: Phillip Bruwer

Ao. Coenie van Rooyen en die vierjarige snuffelhond, Tyron. Foto: Phillip Bruwer

“Ons operasionele sentrum is hier by die dam, waar ons nou twee bote het wat die oppervlak dophou. Daar is baie hiasinte en modder waar die rivier in die dam invloei, wat die soektog bemoeilik en ons roei op kleiner bootjies om tussen die plante te soek. Die oewer van die rivier en dam word met die hulp van snuffelhonde gefynkam,” het hy gesê.

Hy het gesê die gemeenskap se ondersteuning is ongelooflik en talle vrywilligers loop gereeld die roete, wat in stukke opgedeel is, langs die rivier. Die polisie se lugvleuel het ook vroeër gehelp.

Madelein is die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter wat tussen ses en 20 jaar oud is.

Terwyl haar familie saam met die gemeenskap na haar help soek, sit haar lewensmaat, Christo Venter en haar ma, Franci Venter, elke dag by die soekgeselskap en wag vir nuus.

Lees alle vorige berigte oor Madelein Murray op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie ·

Dis soos ‘n nagmerrie waar ‘n mens nie “kan” wakker word nie! Dit hou net aan & aan! Die àrme mense wat sit & wag….

Anon123 ·

Van waar het die water die motor met haar gevat.In gevalle waardeur water onder deur n brug vloei met pype kan dit wees dat die liggaam agter groot takke in die pyp (tonnel) vassit

Buitestander ·

Ek bid dat hulle Madelein gou sal opspoor voor onbinding sal plaasvind.
Mag God met die Heilige Gees jul ryklik vertroos en seën.

Sê maar net. ·

Dit is baie waar. Jare terug het ‘n polisie duiker vir ons gesê. Mense maak dikwels die fout om ver te loop soek vir ‘n liggaam, terwyl dit sommer baie naby die oorspronklike plek van gebeurtenis is. Maw. Soek naby die laagwaterbrug en ook soos Anton123 sê by die pype.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.