Gemeenskap op plundertog ná meisie in bendeskietery sterf

Argieffoto: Kent Williamson

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Oos-Kaap het die gemeenskap versoek om eerder saam met hulle te werk as om reg in eie hande te neem ná ʼn 12-jarige meisie Saterdagaand in Bloemendal in Bethelsdorp doodgeskiet is.

Alvineesha Brookes (12) het omstreeks 20:30 in Buysstraat in Bloemendal geloop toe sy in die kruisvuur van twee bendes, die Carlitos en die Hondekoppe, beland het. Sy het ʼn skietwond in die kop opgedoen, het kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die ontstoke gemeenskap het dadelik na die huis van ʼn vermeende bendelid se huis in Bardienstraat opgeruk. Die persoon was nie by die huis nie en hulle het twee ander persone aangerand wat wel by die huis was,” het Naidu gesê. “Hulle is met klippe bestook en met skerp voorwerpe gesteek.”

Tavern Moss (25) van Arcadia is in die straat in gesleep en hy is doodgeslaan. Die ander persoon, ʼn 16-jarige tiener, is in ʼn kritieke toestand. Die huis is ook geplunder.

“Die skare het daarna na ʼn ander huis in Bardienstraat beweeg, ook waar ʼn vermeende bendelid woon. “Die huis is met ʼn petrolbom en klippe bestook. Vensters en ʼn motor in die erf is beskadig. Die brand is dadelik geblus.”

Terwyl die polisie in die gebied die situasie wou beheer, is ʼn polisievoertuig beskadig. “Waarskuwingskote is gevuur om die gemeenskap te verhoed om hul plundertog voort te sit.”

Naidu het gesê die polisie ondersoek sake van moord (die 12-jarige meisie), moord en poging tot moord (Bardienstraat), opsetlike saakbeskadiging (albei huise en die voertuig in Bardienstraat) en opsetlike saakbeskadiging (die polisievoertuig). Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Die polisie waarsku die gemeenskap dat daar geen regverdiging is vir vigilante nie. Mens kan nie misdaad oplos deur misdaad te pleeg nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Onskuldig ·

Wanneer die regstelsel en die gereg die mense faal, dan word die reg in eie hande geneem! Die krimineel word mos ten alle koste beskerm in hierdie land. Dit is lankal tyd dat iets aan die bendelede gedoen word, want hulle is mos onaantasbaar en doen net wat hulle wil.

Zombie ·

Waarom sou dit ń “plundertog” genoem word? Wat is geplunder? In die berig word verwys na moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging, maar niks van plundering nie. Dit klink eerder soos ń vergeldingstog.
Ons vertrou die SAPD monitor die bendegeweld om soortgelyke vergeldingstogte toekomstig te verhoed …

Vra net ·

Ek wil net weet, hoekom loop ñ 12 jarige daai tyd van die aand in die straat? Waar was haar ouers? Ek vra maar net.

Simpatie aan die familie en naasbestaandes.

$ ·

Nêrens in die berig word genoem dat sy alleen geloop het nie. Daar word genoem dat sy in die straat geloop het, want dis die relevante inligting. Wie saam of nie saam met haar geloop het nie, is die irrelevante inligting.

Dalk het sy alleen geloop, dalk nie.

Maar nes Maroela Media-kommentators altyd graag oordeel vel oor die slagoffers: nou is dit weer die meisie/haar ouers se skuld dat sy doodgeskiet is, en nie die skuld van die bendelede wat die snellers getrek het nie.

Mag haar geliefdes vertroos word in hierdie hartseer tyd, en mag die (werklike) skuldiges gou vasgetrek word.

Sê net ·

Vra net, 20:30 is nou regtig nie middernagtelik wanneer ń mens nou nie sal verwag dat ń 12 jarige meisie alleen sal en moet rondlooop nie. Dit kon enige iemand gewees het, sy was nou maar net op die verkeerde tyd op verkeerde plek gewees. Ons smag almal na bietjie vryheid om veilig rond te beweeg soos in die dae van ouds.

a ·

@ se net – ongelukkig in SA is 19h00 klaar te laat vir meisie om alleen instrate te loop

willem Botha ·

Dit is n bose kringloop,die polisie doen nie hulle werk,die gemeenskap neem die reg in eie hande hulle arresteer niemand en ondersoek soos gewoonlik die gemeenskap raak moedeloos en begin die polisie aanval totdat daar n oorlog begin tussen wetsgehoorsame burgers teen die polisie en kriminele wat na my mening vernote is.

willieweetals ·

Ek laat my kinders nie eers gedurende die dag buite in die straat rondloop nie. Dis net simpel en moeilikheid soek. Ons lewe nie meer in die ou SA nie.

DA BO ·

Goed, meisies mag nie buite rondloop nie, so mag seuns dit doen??

Koos de Meyer. ·

Reg, ‘n oog vir ‘n oog. Die gemeenskap is al keelvol vir die bende geweld. As hulle in die tronk kom gaan hulle maar net weer voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.